Bome praat mee in veldwagter se Krugerwildtuin-stories
2012-02-19 21:33
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Witgat
Gert Erasmus
MOSPRINT (self uitgegee), R165
In een van P.G. du Plessis se Koöperasie-stories van 1980 is daar ’n meisie wat bome kan hoor praat.
Dingetjie Pieterse is, anders as die ander Pietersetjies met hul oop bekkies en temerige stemmetjies, nie net slim en mooi nie, maar ook geseën met ’n buitengewone gawe. Wanneer Genis uiteindelik toestemming kry om die reuse-peperboom voor sy winkel te laat afkap, hoor Dingetjie die boom se hartverskeurende gehuil tot in die aardrykskundeklas.
Ek is nie heeltemal seker of Gert Erasmus as inligtingsbeampte of afdelingsveldwagter ooit ’n boom hoor praat het nie. Een ding is egter seker en dit is dat jy in dié skrywer se vertellings oor sy wedervaringe in die Krugerwildtuin die bome kan hoor meepraat (al is dit soms in ’n fluisterstem).
In die voorwoord tot Witgat formuleer hy ’n taamlik beskeie oogmerk met die skryf van die boek: “Ek wou ’n boek oor bome skryf. ’n Boek wat my kinders kan lees en dalk kan verstaan wie hulle pa is, hoe hy geword het wie hy is, en vanwaar sy liefde vir die veld. Deur die bome se stories wil ek ook hê dat hulle verstaan waarom hulle pa so verknog bly aan sy land.
“Dit, ten spyte daarvan dat hy soos baie ander van sy soort vandag nog stoei om vrede te maak met die anderste wind in hul takke.”
Erasmus het besluit om die boek self uit te gee. Moontlik omdat dit ’n teks is wat nie gemaklik in ’n bemarkbare kategorie of boekwinkelgleuf pas nie, maar ook omdat die skrywer nie skroom om dinge by die naam te noem nie.
Dalk is dit net nie politiek korrek genoeg vir hoofstroomuitgewers nie. En dit is voorwaar jammer, want die manuskrip sou gewis plek-plek baat kon vind by ’n sterker en meer ervare uitgewershand.
Want Erasmus is iemand wat kán skryf.
Hy is ’n onderhoudende verteller (gaan kyk maar hoe hy die wildtuinbrakke en -bakkies beskryf) met ’n besonder fyn aanvoeling vir woorde. Boonop wissel hy sy aanslag en styl gemaklik af – soms filosofies; soms tong in die kies; meestal gevat; slegs af en toe prekerig en pedanties.
Een van die groot verdienstes van die boek is die vermoë wat Erasmus het om uiteenlopende (en oënskynlik onversoenbare) verhaalgegewens te integreer, sonder dat daar ooit sprake van patroonmatigheid of voorspelbaarheid is.
Selfs die mees terloopse randkarakters – die fris studenteklong met die wolsokkies en Strops; die nuuskierige, goedgelowige Nederlandse toeris; die verveelde Duitse slalom-ski-kampioen en haar public relations officer – word so oortuigend in hul onderskeie stories tot lewe gewek dat dit vir die leser voel of hulle almal ou bekendes is.
In Witgat (die naam verwys na die witgatboom, in Engels ook bekend as die “tree of life”, maar kan ook dui op ’n skeldnaam vir Afrikaners) word bome gebruik as die kapstokke waaraan Erasmus sy belewenisse hang.
Aan die een kant is daar ervarings van ontnugtering en wrokkigheid oor die “onregte” wat hy as veldwagter in ’n nuwe wildtuinbestel moes verduur; aan die ander kant ’n onontwortelbare verknogtheid aan die land en veral die Krugerwildtuin.
Erasmus bring sy kleintyd en grootwordjare op die plaas Rietfontein, naby Klerksdorp, vindingryk met die vaalrosyntjieboom in verband en verduidelik op treffende wyse waarom die karee vir hom “slagboom”, “grootwordboom” én “vervloekte boom” geword het. ’n Mens raak saam met hom opgewonde oor die aardse asso- siasies wat die jakarandablom vir hom as student ingehou het.
Tog besef jy baie gou dat die skrywer se hart eintlik maar die volledigste aan die Krugerwildtuin behoort en dat verreweg die meeste van sy herinneringe koelte gevind het onder bome so uiteenlopend soos die jakkalsbessie, knoppiesdoring, tambotie, sambokpeul, dopperkiaat, maroela, mopanie, huilboerboon, rooiboswilg, skilferdoring, sekelbos en ghwarrie.
So tussendeur die anekdotes, herinneringe en boombeskrywings weerlê die skrywer ook ’n paar wanopvattings: Olifante en bobbejane word nié dronk van maroelavrugte soos wat Jamie Uys ons in Beautiful People wou laat glo nie; ’n heuningwyser kan ’n mens net so maklik na ’n slang as na heuning neem; Afrika was nooit so “donker” soos wat die kolonialiste dit wou hê nie; en natuurbewaring is allesbehalwe ’n vreemde begrip in Afrika.
Uit Erasmus se vertellings blyk dit ook dat die bos die groot gelykmaker is wat onverwags ’n brug tussen uiteenlopende wêreldbeskouings en selfs geswore vyande kan slaan.
Al voel die personifikasie soms ’n bietjie te geforseerd, is Witgat in die algemeen ’n waardevolle dokumentering van ’n interessante stuk biografiese en ekologiese geskiedenis.
Dit dwing die leser om met nuwe oë na ons natuurerfenis en aandeel in die bewaring daarvan te kyk.
Gert Erasmus is vandag afgetree en woon op Mosselbaai. Hy het sy boek self uitgegee. Vir bestellings e-pos info@boscia.co.za.
– Thys Human, professor in Afrikaans aan die Universiteit van Johannesburg.
