Die dominee en die skrywer

2011-10-02 21:24

Barend Vos gesels Woensdag om 13:00 by Aardklop se boeke-oase.

Foto's   ·   Lesersfoto’s   ·   Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Barend Vos se satiriese spanningsverhaal ’n Dorp soos Silwer Streams het onlangs verskyn. J.B. Roux vra hom uit.

Barend Vos se satiriese spanningsverhaal ’n Dorp soos Silwer Streams het onlangs verskyn. J.B. ROUX vra hom uit na feite en fiksie en die lewe in klein dorpe.

Is daar enige raakpunte tussen jou Bybelromans Eksódus en Kanaän, gegrond op grepe uit die Ou Testament, en jou nuwe roman?

Eintlik wil ek net een tipe reaksie in my romans uitlok – ’n leser wat opmerk: “Haai, ja, dit is soos dit is.”

Of, in die Bybelromans se geval: “Dit kon net sowel só gewees het.” Dogma swig altyd voor vlees en bloed.

Daarom dink ek ook nie Silwer Streams is werklik satire nie; eerder ’n noodwendig onvaste greep op ’n sekere werklikheid.

Agt dae in Februarie se hitte op die absurde Suid-Afrikaanse platteland (ek bedoel: één dorp in drie kleurgekodeerde townships!) – en ’n stukkie alledaagsheid wat, immer selfondermynend, daarteen afspeel.

Silwer Streams wentel om die wroeginge van ’n plattelandse predikant met skryfambisie. Jy is predikant in Warrenton in die Noord-Kaap en self skrywer. Hoeveel van jou skuil in ds. Elnatan Wait en andersom?

Ons deel net ’n beroep. Sy beswaardheid is nie myne nie; ook nie sy hang-ups oor sy pa of sy onvervuldheid of sy huwelik nie.

Ons deel beslis nie ’n gemeente nie! Ek het twee mooie dogters en ’n vrou-sonder-nonsens.

En, in alle beskeidenheid, ek preek beter as ds. Wait. Toegegee, ons albei sukkel met vergaderings.

Heelparty karakters wil van die verval in die dorp ontsnap, dikwels deur iets te wil skryf.


Silwer Streams se Engelse koerantman verwonder hom ook hieroor: “The past is a bitch. Why then does everybody want to document it these days? Intriguing, isn’t it? This fascination with personal history.”

Is die vernaamste ontsnaproete uit benouende omstandighede nie maar die opdroom van ’n alternatiewe werklikheid nie?

Dit is wel net enkele begenadigdes wat toekomsdrome het.

Die meeste mense hunker na die “goeie ou dae” en soos die tyd verloop, word daardie dae al hoe beter.

Om dan dié vergulde geskiedenis op skrif te stel, is die finale bewys van die geldigheid van die gekose roete. Die skrywer van die boek rapporteer maar net hieroor, verwonderd soos die koerantman.

Daar weerklink eggo’s van onder andere Karel Schoeman en Anna M. Louw in jou storie. Hoe groot is die invloed van dié en ander skrywers op jou werk?

Ek is, soos dit seker hoort by enigeen wat hand aan eie rekenaar slaan, ’n verwoede leser.

Jy kan dit tog nie waag om te skryf as jy nie lees nie. Dalk gaan sit sulke stories in jou lyf, maak hulle daar tuis, dring jou bloed en speeksel binne.

Ek sou wel daarvan gehou het as jy hierbo Chris Barnard se naam wou voeg en Michiel Heyns en Etienne van Heerden s’n en Barbara Kingsolver en Jonathan Franzen.

Het ek gesê Eben Venter? Hennie Aucamp? Daar is ook Brink en Elsa Joubert.

Jare gelede was daar twee boeke oor klein Suid-Afrikaanse dorpe: Die onderskepper van George Weideman en Klaas Steytler se In die somer van ’36.

Wat hiervan het in Barend Vos agtergebly en hoeveel het in Silwer Streams beland? Ek weet eerlikwaar nie.

Luiens die flapteks is Silwer Streams jou literêre debuut, maar is jou vorige romans, Eksódus en Kanaän, nie ook “literêr” nie? Stem jy saam dat sogenaamde Bybelromans deur letterkundiges gesystap word?

Die Afrikaanse literêre wêreld is bitter klein. Daar is net sóveel krummels wat van die tafel afval – en ek was (is) maar te dankbaar vir wat na my kant toe kom.

Eksódus hét darem ’n tweede uitgawe (en ’n Engelse vertaling) beleef en Kanaän ’n tweede druk. Maar ja, as iemand ná Silwer Streams nuuskierig genoeg is om ook Eksódus en Kanaän te wil lees, sal ek bly wees.

Dan het Silwer Streams ook sy doel gedien. Is die lewe, juis die skrywerslewe, nie maar ’n aaneenryging van ironieë nie?

En die genade van dié lewe nie om dit te herken en te omhels nie – en dit dan te kan beskryf?

Is jy tevrede met die eindproduk of wroeg jy oor besluite wat jy as skrywer tydens die skryf daarvan geneem het?


Ek is nog heeltemal te naby aan die geboorte van dié ou kinnertjie om gebreke te kan raaksien.

Buitendien vermoed ek hoe langer hy op die rak gaan staan hoe liewer gaan ek vir hom word.

Gebreke en al – wat ek in elk geval nie aan enigiemand anders sal erken nie; eerder tot die dood toe sal verdedig. Of ’n skrywer ooit tevrede mag wees?

Gun hom dit! Hy het hard genoeg daaraan gewerk – hy mag seker maar, soos Narcissus, op hierdie gelykenis verlief wees. Vir eers ...

As jy die boek nou moet lees of jy dit die eerste keer doen, wat sal jou die meeste beïndruk?


Die karakters en hoe hulle praat. Dat ek sal sê: “Dit is soos dit is.”

Wat is geldige kritiek wat ’n resensent (of lesers in die algemeen) teen dié boek kan bring?

’n Resensent het onlangs geskryf dit is ’n swaarmoedige boek. Dit is dalk my grootste vrees, dat die boek as “moeilik” gesien sal word; “swaar”. Eintlik is dit so ’n lekker storie, al is daar nie regtig ’n storie nie.

Om aan te neem dis ds. Wait se boek hierdie omdat die skrywer self ’n dominee is, is dalk ’n liederlike slaggat. Wie se storie ís dit hierdie?

Dit loop soos ’n refrein deur die boek: “ ’n Dorp soos hierdie ...” Al die verydeling en verveling; die verwondering en gelatenheid; die woede, word op die dorpie gerig.

Tot die laaste sin. Silwer Streams is inderdaad, soos die titel dit reeds verklap, die hoofkarakter in die boek, reken ek.

Sou jy sê Silwer Streams is – sonder om afbreuk te doen aan dié boek se letterkundige meriete – “ligter” en toegankliker as jou Bybelromans; is dit dalk ’n aanduiding van die pad wat jy van hier as romanskrywer gaan loop?


Hoe kan jy vir ’n fonteintjie sê jy gaan nooit weer daaruit drink nie? Wat dan van die halwe manuskrip oor die Bybelse priester Samuel in my laai?

Maar ek beskou Silwer Streams wel as ’n verdere ontwikkeling in my skryfwerk. Kom ons kyk maar wat “ontwikkel” nóg verder.

Is dit vir jou moeilik om te skryf?

Daar is niks romanties aan skryf nie. Lank gelede was daar ’n Huisgenoot-grappie van ’n ou wat homself aanhoudend met ’n hamer teen die kop bly slaan.

Toe sy vriend hom vra hoekom hy so ’n simpel ding doen, antwoord hy: “Weet jy hoe lekker gaan dit wees as ek ophou?”

’n Vername stuk bevrediging in skryfwerk lê vir my in die afhandeling daarvan. Daar is wel ook die ou sakie van ontsnapping.

En die sonde van vergelding – die gevoel dat dit tóg ék is wat die laaste sê het.

Hoe “herstel” jy ná die voltooiing van ’n manuskrip? (Dalene Matthee het destyds gesê sy moet ná elke boek “herlaai” voordat sy oor die volgende een kan begin dink.)

Ek lees al die boeke wat ek die vorige twee, drie jaar nie kon nie. ’n Groeiende, leunende toring op my bedkassie wat die afgelope maande al hoe nader aan aftuimel gekom het.

Wat my tog so graag wou verlei: Net gou-gou hierdie ou enetjie, kyk hoe dun ... En ek luister ’n slag ander musiek as dié wat ek oor en oor in Silwer Streams se strate en sitkamers en polisiekantoor gehoor het.

Jy het ’n gemeenskappie binne die bestek van 333 bladsye perfek en onderhoudend opgesom. Sou jy dit dalk in tien woorde kon doen?


Daar is twee aanhalings wat dalk hiermee help.

Op die eerste bladsye van die boek dink Saais van die rolbalklub só oor sy nemesis, Gert: “Hy is altyd die held in sy eie verhaal.”

 En op die laaste bladsye sê die polisieman se vrou: “Die romantiek van die platteland is ’n mite.”

Wat is die een vraag wat jy nie in ’n onderhoud soos hierdie gevra wil word nie?


Vloek jy ook soos die polisieman in jou boek? Die antwoord is maklik: “Nooit.”

’n Volgende vraag kan wel wees: Lieg jy ook soos die kafeebaas?

Barend Vos gesels Woensdag 5 Oktober om 13:00 by Aardklop se boeke-oase oor ‘n Dorp soos Silver Streams (Tafelberg, R195)

 

Binne Boeke

Weer
Lotto
Ksd: 14-20°C Scattered clouds. Mild. Pta: 7-21°C Sunny. Refreshingly cool.
Jhb: 4-18°C Sunny. Cool. Bfn: 3-19°C Sunny. Refreshingly cool.
Dbn: 16-26°C Sunny. Mild. PE: 15-25°C Sunny. Warm.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

OPEL

Corsa 1.4 Sport Utility MY04 PU
2008
R 99,900.00

TOYOTA

Corolla 140i MY05
2006
R 104,990.00

AUDI

A3 2.0 FSi Attraction Tiptronic 3-dr
2007
R 207,000.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Chobe Marina Lodge

Spend 2 nights on the banks of the banks of the Chobe river at Chobe Marina Lodge from R6717 per person sharing. Includes return flights, taxes, transfers and accommodation. Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Avengers nou beskikbaar

Marvel Avengers-aksiekarakters nou beskikbaar vanaf R189,95. Koop dit nou.

Toshiba-tabletrekenaar AT-100

Bespaar R1 000 op dié fantastiese tabletrekenaar. Nou slegs R2 999,95. Koop dit nou.

Massiewe speletjie-uitverkoping

Kry tot 65% afslag op speletjies. Alle voorraad moet verkoop word. Terwyl voorraad hou. Koop dit nou.

Meng & Pas

Meng en pas twee albums vir die prys vir R149. Nuwe albums het so pas ingekom. Koop dit nou.

Moet-lees-boeke vir tieners

Die gewildste boeke vir tieners en jong volwassenes. Hunger Games, The Flappers & meer. Koop dit nou.

Aanbod van die week

PS3 speletjies vanaf R149.95

Plus PS2 en PSP speletjies vanaf R99.95. Slegs terwyl voorraad hou. Koop nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...
Daar is vars stories op ons tuisblad. Kliek hier om hulle te lees.