Maar wie sou die mark dan wees?
2012-02-12 21:21
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
In die withaak se skadu en ander Schalk Lourens-stories
Herman Charles Bosman (vertaal en uitgegee deur Francois Griebenow)
SUIDERKRUIS, R135
Ek het min probleme met Francois Griebenow se vertalings van ’n keur uit Herman Charles Bosman se Oom Schalk Lourens-verhale.
Die vertalings is soepel en daar is nie baie fout te vind met die keur nie. Dit is ’n skaflike boek.
Wat my wel interesseer, is die kwessie rondom Bosman in Afrikaans eerder as Engels, Bosman se skryftaal.
Dit is ’n vreemde tameletjie hierdie, want my eie ondervinding – nadat ek die heel eerste versameling Bosman-verhale in Afrikaans, Verborge skatte: Herman Charles Bosman in/oor Afrikaans ( Human & Rossouw, 2001) saamgestel het – is dat Afrikaners Bosman oor die algemeen eerder in Engels as Afrikaans wil lees.
Vreemd? Nie eintlik nie. Die k-woord, byvoorbeeld, klink minder kwetsend en meer gedistansieer in ’n verafrikaansde Engels, wat ’n outydse “country bumpkin”-gevoel skep, as in eietydse Afrikaans, waarin dit absoluut gruwelik oorkom.
Oom Schalk se Engels (wat almal weet eintlik Afrikaans is) is dan ook die taal waarin duisende mense deur die dekades heen lief geword het vir Bosman, en die taal waarin hulle hom myns insiens wil bly lees.
Dit geld veral Afrikaanssprekendes, wat in my ervaring meer Bosman in Engels lees as wat Engelssprekende Suid-Afrikaners dit doen.
(Dit sê ook baie oor die weifelende lojaliteit van Suid-Afrikaanse Engelssprekendes aan Suid-Afrikaanse letterkunde oor die algemeen.)
Miskien is dit net ’n geval van geykte resepsie-patrone.
Ek meen egter dit gaan ook oor die unieke bemiddelingsrol wat “interne” vertaling in die Suid-Afrikaanse letterkunde speel.
Hierin lê ’n lekker resepsie-gegronde navorsingsprojek.