Met ink aan hulle hande
2011-10-16 21:16
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Sirkusboere
Sonja Loots
TAFELBERG, R195
Dit is só bisar dat dit klink na iets uit ’n roman versin deur iemand met ’n vrugbare verbeelding: Genl. Piet Cronjé wat byna ses maande lank twee maal per dag sy vernederende oorgawe aan Lord Roberts by die Slag van Paardeberg vir geesdriftige Amerikaanse gehore opvoer. Tog het dit werklik gebeur en is dit die historiese gegewens waarop Sonja Loots se boeiende roman, Sirkusboere, gegrond is.
Die roman vertel die ware verhaal van die sirkusbaas Frank Fillies, wat in 1904 ’n skouspelagtige Anglo-Boereoorlogvertoning na die Wêreldtentoonstelling in St. Louis in Amerika geneem het. Twee veldslae, dié by Colenso en Paardeberg, is daagliks in vertonings van tussen twee en drie uur lank opgevoer. Twee Boere-generaals is oorgehaal om in die skouspel op te tree: Ben Viljoen as aankondiger en Piet Cronjé om homself te vertolk in ’n voorstelling van die Boere se nederlaag by Paardeberg. Honderde akteurs en perde het ook deelgeneem aan die opvoerings, wat geëindig het met ’n demonstrasie van genl. De Wet (gespeel deur Fillies) se vernuf as perderuiter. Vir bykomende vermaak was daar ook ’n “antropologiese” uitstalling van Suid-Afrikaanse swart mense.
Hierdie stuk geskiedenis het tot dusver nog nie baie aandag gekry in representasies van die Anglo-Boereoorlog nie. Loots het duidelik ingesien dat hierdie verhaal ’n uitstekende geleentheid bied om kommentaar te lewer op die oorlog en die impak wat dit gehad het. Daar is al heelwat in die Afrikaanse letterkunde geskryf oor die gevoelens van ontreddering, verlies en bedroënheid ná die oorlog (soos in Ingrid Winterbach se Niggie), maar nog nooit vanuit hierdie perspektief nie.
Die blote feit dat sommige oud-stryders en swart mense hulle laat oorhaal het tot hierdie byna makabere herskepping van hul eie swaarkry, gee ’n idee hoe haglik omstandighede ná die oorlog vir baie was. Soms is dit selfs vir die toeskouers in St. Louis duidelik dat hulle “die nasleep van iets verskrikliks” aanskou.
In ’n poging om te verstaan wat die deelnemers aan hierdie projek gedryf het, fokus Loots se roman veral op vier karakters: Frank Fillies, Piet Cronjé, Ben Viljoen en Cronjé se agterryer, Fenyang Mokeyane. Daar is heelwat vleis aan die been van hierdie karakteriserings: Elkeen van hierdie figure kom as ’n geronde en oortuigende karakter voor die leser te staan. Frank word geteken as ’n sirkusbaas met hope verbeelding, energie en ondernemingsgees wie se uitspattige projekte hom meestal in die skuld laat beland. Piet word voorgestel as ’n geldgierige maar ook diep godsdienstige en melankoliese man wat worstel met die nagevolge van sy vernedering by Paardeberg.
Vir hom gaan dit onder meer daaroor dat die vertoning moet wys wat die Britse Empire die Boere-republieke aangedoen het.
Sy eie optrede teenoor sy agterryer, Fenyang, is egter eweneens beskamend en slaan terug op sy vroeër betrokkenheid by die “inboek” van swart mense ná skermutselings waarvoor hy uit sy pos as assistentveldkornet ontslaan is.
Ben is ’n elegante sjarmeur wat met gemak in hoë kringe in Engeland en Amerika beweeg en hom tot elke prys wil losmaak van dit wat agter hom lê in Suid-Afrika. Die roman gee ook ’n geloofwaardige gesig aan Fenyang, die soort karakter wat vroeër nie veel voorgekom het in feitelike en fiktiewe representasies van die Anglo-Boereoorlog nie. Anders as die ander karakters is hy nie in ’n posisie om sy eie besluite te neem nie. Hy word gewoon deur Piet saamgeneem na die oorlog as sy agterryer en uiteindelik ook na St Louis.
Die roman se titel, Sirkusboere, sinspeel onder meer op die randposisie van swart mense in die oorlog, by die tentoonstelling en in die groter metropolitaanse wêreld waar hulle as antropologiese kuriositeite gesien word.
Die roman teken ook ’n hele aantal boeiende newekarakters, soos die Amerikaanse vroue met wie Ben flankeer en die formidabele Boere-weduwee met wie Piet in St. Louis trou. Onder die newekarakters is dit egter die getraumatiseerde soldaat Maans Lemmer wat die grootste indruk op die leser maak. Die briewe wat hy in ’n vroeë vorm van Afrikaans van St. Helena af aan sy sterwende seuntjie in die konsentrasiekamp skryf, sorg vir die mees roerende oomblikke in die roman.
Alhoewel die roman dig by die historiese feite bly, is daar duidelik ’n poging om sekere groter lyne te teken en onderliggende patrone uit te lig. Vir die aandagtige leser word dit duidelik dat daar wrang parallelle tussen die werklike oorlog en die sirkusagtige nabootsing daarvan is.
Dieselfde magsverhoudinge, menslike konflikte, verwronge motiewe en eiebelang is op die spel. Die historiese gebeure vind ook eggo’s in die hede. Daar word byvoorbeeld te kenne gegee dat die Boere se verslaenheid aan die begin van die 20ste eeu ’n weerklank vind in Afrikaners se posisie in die begin van die 21ste eeu. Ook in die hede is daar mense wat soos Piet sukkel om die las van die verlede te dra; ook nou is daar diegene wat soos Ben onder die druk van omstandighede Afrika van hulle afskud om elders ’n heenkome te soek.
Loots slaag daarin om die leser behendig deur die magdom historiese gegewens te stuur deur die wyse waarop sy die roman struktureer. Daar is net twee punte (die skeepsreis na Amerika en ’n beskrywing van sommige uitstallings by die Wêreldtentoonstelling) waar die leser voel die verteltempo wil-wil verslap, maar dit word gou weer reggestel.
Verder kan ’n mens jou verlustig in Loots se ryk en ruie Afrikaans waarin al die registers van die taal oopgetrek word (soos wanneer Ben uitdrukking gee aan sy frustrasie met al “die handjiesvrywers, voetslepers, draadsitters, manteldraaiers en wik-en-wegers”). Dit is ook ’n taal wat dig gepak sit van verrassende beelde: Piet se hart voel vir hom soos “ ’n swak gebakte baksteen wat blus onder die gewig van die muur”, sy eerste vrou kon ’n stilte “soos ’n brood knie en hom al groter laat rys”.
Die roman wys ons ook dat daar verskillende maniere is om aan die “karkas van die verlede” te vreet (om nog ’n beeld uit die roman te gebruik). Jy kan daarvan ’n skouspel of “showbiz” maak, soos Frank en sy konkurrent William Darby; jy kan dit opteken in jou oorlogsherinneringe, soos Ben; jy kan daaroor bly tob en wroeg, soos Piet; jy kan emosioneel daaraan ten onder gaan, soos Maans; of jy kan verkies om dit te verswyg, soos wat gedoen is toe die Anglo-Boereoorlog weggelaat is uit die opvoering van die Suid-Afrikaanse geskiedenis by die Unie-vierings in 1910.
Dat niémand onskuldig is aan die verdraaiings, sensasie-lus en eiebelang wat potensieel deel is van enige representasie nie, word te kenne gegee deur ’n veelseggende oomblik naby die einde van die roman. Wanneer Piet terug is in Suid-Afrika, skryf hy sy weergawe van die slag by Paardeberg neer. Wanneer hy klaar is daarmee, sê die verteller: “Hy moet sy hande was. Daar is ink aan.”
Loots het óók ink aan haar hande, maar haar representasie van die Anglo-Boereoorlog en sy nasleep is een wat ’n mens nie durf misloop nie. Sirkusboere is ’n intelligente, deurdagte en goed geskrewe roman wat veel te sê het oor menslike swakheid én heroïsme, oor opportunisme én oorlewingsvermoë.
- Louise Viljoen is ’n professor in Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Stellenbosch.