Mitchells Plain – ‘maar net ’n plek soos ander plekke’
2012-02-12 21:21
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Mitchell’s Plain – A Place in the Sun
Marlene le Roux (samesteller)
MIKATEKO MEDIA, R100
Mitchells Plain is ’n woonbuurt wat ontstaan het gedurende apartheid; sy inwoners is mense wat slagoffers was van gedwonge verskuiwings.
Soos soortgelyke woonbuurte in die Kaap is dit ’n plek wat vir baie mense net bestaan as ’n herinnering aan die apartheid-nalatenskap.
Maar iets wat nie vergeet moet word nie, is dat dit ook vir baie die plek is waar hulle lewe en waaroor hulle stories kan vertel.
Mitchell’s Plain – A Place in the Sun (kompleet met spelfout in die titel) is ’n kombinasie van herinneringe van ’n ouer generasie wat ’n tyd vóór Mitchells Plain onthou en die jongeres, wat dit sien as hul “komvandaan”.
Dit probeer ’n alternatiewe persepsie skep van ’n plek wat welbekend is om sy bendes en geweld deur te fokus op die suksesstories van sy mense.
Die boek is in Engels geskryf omdat die projek onderneem is in samewerking met die Mitchells Plain-tak van die Alliance Française, waar dr. Ludmila Ommundsen die hoof is.
Marlene le Roux, die boek se samesteller en direkteur van Artscape, en Ommundsen se navorsing is onder meer deur die Franse regering gefinansier.
Mitchells Plain is een van die mees diverse plekke in die Wes-Kaap. Moslem, Christen, wit, swart, Chinees en bruin meng hier. Dis ’n gemeenskap met sy eie kultuur.
Mense wat sensasie soek, sal miskien ’n ander soort boek verwag. Maar dís waar die boek slaag: Dit breek juis stereotipes af.
Die idee dat normale mense in townships kan woon, is vir buitestanders moeilik om te aanvaar, maar dis ’n werklikheid.
Per slot van rekening is die man van Plattekloof en die een van Mitchells Plain eenders, dis net hul ekonomiese omstandighede wat verskil.
Wat hierdie boek doen, is om ’n prentjie te skep van Mitchells Plain wat aantreklik is. Dis baie indrukwekkend hoeveel invloedryke mense hul begin in Mitchells Plain gehad het.
Ryland Fisher, voormalige redakteur van The Cape Times, is maar net een van die grootkoppe wat ’n verskyning maak.
Dan is daar ook die komediant Mel Jones, Emo Adams, Blaq Pearl en baie ander.
Dit is wat die boek interessant maak: Dit gaan nie net oor ’n handvol tokens nie.
Dit wil ook wys hoe die alledaagse inwoner ’n bestaan maak in ’n plek wat deur die apartheidsregering nagelaat is en nie veel beter vaar onder ’n nuwe regering nie.
’n Mens hoor dit in die kort onderhoude; in stories wat dikwels geen groot historiese of politieke relevansie het nie, maar net gewone mense se verhale is.
A Place in the Sun voel wel effe soos ’n advertensie. Die ontwerp en uitleg is bekwaam, maar nie uitstekend of oorspronklik nie.
Maar dis belangrike leesmateriaal, want dit wys hoe ons verskillende kulture in dié township saambestaan.
(Hopelik gee dit iemand ’n idee vir ’n soortgelyke boek oor byvoorbeeld Khayelitsha.)
Ek dink ook dis ’n stap in die regte rigting. Mitchells Plain is die soort plek waardeur mense nie sommer wil ry nie.
Maar vra enigeen wat daar woon en hy sal jou sê dis maar net ’n plek soos ander plekke.
Ronelda Kamfer, digter. Haar man, die digter en musikant Nathan Trantraal, is van Mitchells Plain.