Van buite binnetoe
2012-02-05 21:41
Die destydse politieke muishond Peter Hain se outobiografie gee mens tog begrip vir waar sy aktivisme vandaan kom en hoe hy uiteindelik aanvaar is, skryf Rhynie Greeff.
Outside In
Peter Hain
BITEBACK PUBLISHING, R265
Dié outobiografie – of liewer outobiografiese politieke verskeidenheidskonsert – wat pas verskyn het, strek van Peter Hain se rol as Openbare Vyand Nommer Een van Wit Suid-Afrika tot binnekringman in Suid-Afrika en Brittanje.
In Engeland lui een berig: “As daar ’n Booker-prys vir astrantheid was, het Hain dit gekry.” En tog …
As skoolseun het Hain die terdoodveroordeelde Johannesburgse stasiebomplanter John Harris, ’n familievriend, se begrafnisrede voorgelees en die knoppie gedruk om Harris in die Pretoria-Wes- krematorium se vuur in te stuur. (Die Hain-familie, hoewel anti-apartheidsaktiviste, het nooit Harris se optrede goedgekeur nie.)
Vier jaar later het hy Springbok-rugby- en kriekettoere in Brittanje geruïneer aan die spits van duisende betogers met rookbomme, drukspykers op die veld en bomdreigemente.
Maar op 50 was hy ’n gesoute politikus wat ’n binnekringman geword het en selfs pres. Nelson Mandela in dié se huis in Johannesburg sou besoek as die eerste Britse minister vir Afrika wat in Afrika gebore is.
Selfs diegene wat vandag nog na Hain in ablusieblokterme verwys, moet toegee hy is die oud-Suid-Afrikaner wat die diepste spore in die Britse politiek getrap het.
Hierdie betogerleier, wat in 1969 deur die polisie aan sy kraag en voete by Downingstraat 10 se voordeur weggedra is, ondergaan ’n metamorfose van buite- na binnestander wat uiteindelik 12 jaar lank in die kabinette van sowel Tony Blair as Gordon Brown dien.
Die skoolseun van Pretoria word leier van die Britse laerhuis, minister vir Afrika, Europa, die Verenigde Nasies, Noord-Ierland, werke en pensioene, en Wallis.
Ek het geglimlag vir ’n paar ironiese teenstellings in die boek.
Op skool word op die familie se foon in Pretoria meegeluister. In Londen is hy die betogerleier op wie se foon meegeluister word.
Jare later is hy ’n kabinetsminister wat met MI5 en MI6 saamwerk en magtigingsbevele afteken om op Britse telefone, rekenaars, eiendomme en voertuie mee te luister.
In sy jeug pen hy en sy betogers sportmense in hotelle vas, maar jare later, wanneer hy en die kabinet jakkalsjag as Britse sport verbied, word hy ure lank in sy eie huis vasgepen deur ’n horde pro-jakkalsjagbetogers.
Daar is ook ’n verrassing vir vurige Suid-Afrikaanse sportliefhebbers. In 1977 het dr. Danie Craven by Hain aan huis gekuier.
“Ek het nogal van hom gehou en aangevoel die gevoel was wederkerig,” skryf Hain. Hy noem ook die “plat-op-die-aarde eerlikheid en warmte” van Dok.
“Dit het bewys wat my pa my altyd vertel het: Die Afrikaners, nie die Engelse nie, sou die mense wees wie se vertroue gewen moes word wanneer ’n skikking met die swart meerderheid uiteindelik bereik is.”
In 1989, toe Hain Suid-Afrika onder ’n vals naam onwettig besoek vir ’n dokumentêre fliek, het hy by ’n verbaasde Craven in Stellenbosch aangeklop.
“Ons het op sy ouwêreldse eerbaarheid gereken; dat hy nie die belofte sou verbreek wat hy vroeër gemaak het om niks omtrent die onderhoud te sê totdat ons veilig teruggekeer het nie.
“Tot sy krediet het hy daarby gehou.”
Verbasend.
Ek het die gedeelte oor vier kinders se kleintyd met ingeperkte ouers onder apartheid in Pretoria nogal roerend gevind.
As betogerleier het Hain self gely met die ontvangs van ’n briefbom, gelukkig foutief bedraad, en ’n hofsaak waarin hy vrygespreek is van ’n versinde bankroof met aanduidings van ’n dubbelganger in Suid-Afrika se ou geheime diens – “Lang” Hendrik van den Bergh se Buro vir Staatsveiligheid, beter bekend as BOSS.
Sekere Suid-Afrikaanse lesers sal miskien die gedeeltes oor die Britse politiek wil oorslaan, maar Hain se rol was insiggewend – van Wallis tot Noord-Ierland, van elders in Afrika (hy is baie anti-Mugabe) tot in die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad.
Hy slaan Blair hoog aan, maar beskryf Brown as afsydig, kil en “wanfunksioneel”.
Hoewel hierdie outobiografie ’n goeie aanwins vir politieke studie is, is dit ’n jammerte dat foutiewe grammatika in veral die laaste hoofstuk verklap dat daardie deel miskien afgerammel is.
Vir my is die mees simboliese paragraaf die een waarin hy met sy eerste kabinetsaanstelling, met die afkeer van sy amptenare opvallend, ’n ou meesterstuk in sy nuwe kantoor verwyder en vervang deur ’n geraamde plakkaat van Mandela.
Sien, Hain was tog al die tyd ’n stukkie Suid-Afrika in die binnekringe van Brittanje.
Rhynie Greeff is ’n oud-Pretorianer, ouddiplomaat en sakeman wat deesdae in Engeland woon.