Wanneer generaals ‘sirkusnarre’ word
2011-10-16 21:16
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Sirkusboere
Sonja Loots
TAFELBERG, R195
Satire is waarskynlik die verste buitepos wanneer dit oor perspektief op ’n oorlog gaan. Min skrywers waag dit, veral wanneer die helde en antihelde in so ’n oorlog – in dié geval die Anglo-Boereoorlog – oor meer as ’n eeu heen geïdentifiseer is.
Uiteraard verg dit van outeur en leser volwassenheid en die vermoë om buite die gevestigde en algemeen aanvaarde opvattings te dink. Nie dat Loots die eerste is wat haar hand aan satire oor dié oorlog waag nie, net dat sy dit so briljant doen dat die vernuf van hierdie roman die tema oorstyg.
Met vars dialoog en ’n sterk individuele styl laat sy historiese figure só herleef dat hul swakhede nie van hulle karikature maak nie. Veral generaal Piet Cronjé, oor wie se rol by Paardeberg daar soveel uiteenlopende menings bestaan en waarvan die meeste is dat hy dwaas opgetree het.
Ná die Anglo-Boereoorlog bevind generaals Ben Viljoen en Cronjé – onwillig maar deur nood gedrewe – hulle in die geselskap op sleeptou van ’n ondernemende en berekende sirkusbaas.
Ook Cronjé se agterryer Fenyang Mokenyane word aan boord geneem, so onwillig soos tydens die oorlog, en wel as Jan Windvoël, “Kaffir, Steerage Passengers”. In St. Louis word tonele uit die oorlog in die sirkusarena herskep. Die sirkusbaas Frank Fillis het wins voor oë, en roem, ja. Daarvoor speel hy sy karakters se griewe en drome teen mekaar af.
Viljoen, wat meestal in geskiedenisboeke geloof word vir sy sterk persoonlikheid en energieke leierskap, leer ons in die roman ken as die sinies ontnugterde ná die oorlog. Nou weet hy, gebore in ’n grot op Varkiesdraai, nie eens meer mooi waarvoor hulle geveg het nie. “Ag, my God, [...] Gaan staan wydsbeen iewers by ’n grensdraad en kyk na die patetiese stoom as jou pionierspis teen die sand vasskuim. [...] Dis absoluut al wat mens in Afrika het.” Maar darem nie verhard in die sin dat hy die vroue wat op sy pad kom, onbetuig laat na vleeslike of geldelike bates nie. St. Louis is immers ’n “lekker rowwe gatskopplek”. Geen wonder die aktrise met wie hy ’n opwindende bed gedeel het, dreig hom met ’n sweep en ’n rewolwer nie.
Cronjé is daartoe gedoem om in die arena steeds te worstel met sy vernedering by Paardeberg en veral met verwyte daaroor. ’n Droewe ou generaal wat dikwels in gesprek met sy God tree om antwoorde op onbeantwoordbare vrae te soek. Hy word nietemin nie eensydig geteken nie.
In St. Louis is hy die verwarde ou Boer wat vir die pretmakery en goddeloosheid net verdoeming kan sien. Hy wil so gou moontlik daaraan ontsnap. Maar hy is ook die verharde Boer wat in ’n swart mens weinig goed kan sien en hulle as bywoners op sy plaas ook as sodanig verdruk.
Die roman bly nie steek in die tradisioneel bekende oorlogsfigure nie.
Fenyang Mokenyane en die ongeregtigheid wat hy en diegene in sy posisie te beurt geval het toe hulle moes deelneem aan ’n oorlog waarvoor hulle, nes die Boere, nie gevra het nie – en waarvan die uitslag, watter kant toe ook al, hoegenaamd nie vir hulle ’n beter lewe sou beding nie – belig ’n aspek van die oorlog wat tot nou toe in Afrikaanse fiksie verbasend onderskat is.
Ook die sirkusbaas Fillis is ’n onvergeetlike siel; wanneer hy opgang maak, asook wanneer hy so stylvol moontlik ten gronde gaan. Tot die kêrel se taal spreek in ’n stadium van sy sukses. “Mirabile dictu, [...] Kyk net daar.” En “Vis-à-vis sy klomp halfdood Indiane en gesuipte Kosakke is ons in ’n ander liga. Die vox populi beaam dit. [...] En julle Boere se saak is natuurlik ’n cause célèbre”.
Dan, wanneer hy wegstap van die vertoonmeester wat sy plek ingeneem het: “Agter hom juig die skare, klap hande, begin God Save the King sing. Uit volle bors sing hulle, al die hoogdrawende ou drolle.”
Maar Loots se roman handel nie net oor die ontluistering van helde en die verering van verontregtes nie. Buiten die geslypte satire waarvan sy haar bedien, word die sirkusarena ’n metafoor van die oorlog, van die karakters se ganse lewe: Speel vir die gehoor daardie deel van jou lewe wat die sirkusbaas vir jou in die arena bestem het.
Só word die vermaaklike en veragtelike grootdoenerigheid ook die tragiese. In hoofstuk ná hoofstuk ontvou ooreenkoms tussen die werklike lewe en die sirkus, die akteurs en die sirkus se lotgevalle. Nooit word hierdie ooreenkomste aan die leser opgedwing nie. Nooit word dit te ver gedryf nie. Loots ken haar vak. Sy kan haar leser boei en ontroer. En sy is gewoon meesterlik wanneer sy die koddige en die skrikwekkende van menslike sotheid en oorhoopsheid satiriseer.
Jammer net van die oormaat beklemtoonde woorde. Dit is hinderlik en doen afbreuk aan haar andersins gepoleerde styl.
Dit tersyde is Loots se tweede roman ’n kragtoer. Sowel toeganklik as diepsinnig, skerp, briljant. Van universele belang. Uitvoergehalte.
- Jeanette Ferreira is ’n redakteur en skrywer.