Meedoënloos digkuns
2012-02-16 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
“Het is poëzie die de lezer verpletterd achterlaat: macaber en hallucinerend, maar ook vol ironie en vernuft en bovenal met een sterke emotionele kracht.”
Só lui die teks agterop die Nederlandse vertaling van Sylvia Plath se Ariel.
Dieselfde teks sou ook op een van Ronelda S. Kamfer (Kaapstad, 1981) se eerste twee digbundels afgedruk kon wees.
Kamfer se poësie is grensverleggend, persoonlik, maar nêrens ontoeganklik nie. Sowel Noudat slapende honde (2008) as grond/Santekraam (2011) is asemrowende bundels wat speel met wat ons verwag om te lees as ons gedigte lees, en wys op universele begrippe binne die unieke konteks van Suid-Afrika.
Hier staan die ontnugterde, gewonde mens in die kollig, teen die agtergrond van sy gemeenskap en sy geskiedenis.
Kamfer is ’n digter teen wil en dank, só lyk dit. Daar is nie slim woordgrappies nie, g’n koketterie nie, oënskynlik niks taalspel nie. Wel die taal van die Vlakte, die onderdruktes en die agterkant van stories en ons oewerlose bestaan.
Die “ek” word uitputtend ontgin, soos in “ek soek ’n goue sterretjie” uit Noudat slapende honde: “moenie met jou verkakte gedigte na ons toe kom nie/ gaan vertel daai kamtige sad stories van jou vir die mense/ wat die reëls maak/ jy ruik in elk geval klaar nes hulle”.
Wat ’n genadelose selfbeeld is dit nie, en wat ’n ontluistering van die gemeenskap. En dit is die digter wat die pyn moet inneem, nie die leser nie. Die leser van Kamfer se digbundels is feitelik ’n stil getuie van mishandeling – uitbuiting, verwaarlosing, rassisme, bendegeweld en seksuele misbruik.
Waaraan herken jy ’n groot digter? Aan die krag van sy beeldtaal, aan sy durf om dinge te benoem en te ontgin wat nie voorheen so benoem of ontgin was nie, en aan die wyse hoe die leser deelgenoot gemaak word van die teks. In Kamfer se geval was dit sekerlik ’n kombinasie van genoemde faktore wat haar opwagting in Nuwe Stemme 3 (2005) bewerkstellig het. Slegs twee gedigte van haar is in dié boek, maar dit was die begin van ’n stormagtige loopbaan as digter. Soos in haar twee gepubliseerde bundels is dié twee gedigte opreg, kragtig, helder en politiek en maatskaplik betrokke, uit ’n sterk persoonlike standpunt. En ook is daar lekker humor. Die gedig “Kuns en Culture” begin soos volg: “ek het ’n geheime lewe/ ’n geheime obsession/ ek like, wel... ek like Afrikaanse musiek/ okay, sue my!”
Dit is merkwaardig om te sien hoe Kamfer se poësie nooit pateties word of te swaar nie, al handel die gedigte oor depressie, mishandeling, dwelms en vervreemding.
In hande van minder groot digters sou die gedigte onleesbaar geword het. Juis op hierdie punt bewys Kamfer haar talent.
Haar gedigte is nie net aangrypend omdat dit “egte” Suid-Afrikaanse onderwerpe betref nie, maar veral omdat sy verskriklik goed kan dig. Soos Seamus Heaney dit stel in sy essay “The Government of Tongue”: “Poetry is its own reality and no matter how much a poet may concede to the corrective pressures of social, moral, political and historical reality, the ultimate fidelity must be to the demands and promise of the artistic event.” Kamfer laat versreëls en beelde bots en só skok sy die leser se verwagting. Kyk maar na gedigte soos “Lolla”, “Jeppe”, “die huisvrou” en “Katie het kinders gehad”. Of sy laat die leser met dieselfde tegnieke grimlag, soos in “Pasop vir depressie”, “To all the boys I loved before” en die slim dubbelportret “eviction notice” en “owner’s response”. Sy skep onvergeetlike karakters wat inpas in die daaglikse werklikheid, maar uiteindelik van taal gemaak is, uitmuntende taal: Katie, Klonkies, Sara die Slimvrou, klein Cardo, Lolla, Mal Maria en oom Grootvis Visser, maar ook Eric “die idioot/ wat gedink het Shakes Spear is ’n local sokkerspeler”. Die Afrikaans Onbeperk-prys sal nie haar laaste wees nie. Maar die belangrikste prys vir elke kunstenaar is dat jy mense raak met jou werk. En dit doen sy.
“Wat ’n grootse, hartverskeurende poësie skryf Ronelda Kamfer,” het ek vir die digter Danie Marais ge-SMS toe ek grond/Santekraam klaar gelees het. Hy skryf terug: “Absoluut. ’n Mens kan dit eintlik nie eers kuns noem nie. Dis iets ergers.”
- Die Burger