Christian goed vir bewaring
2012-02-21 06:00
Die verhaal van die leeu Christian, mak grootgemaak in ’n woonstel in Londen en uiteindelik in Oos-Afrika vrygelaat, is internasionaal bekend. ANNELIE MARÉhet met een van sy voormalige eienaars gesels.
Om ’n mak leeuwelpie aan te neem en groot te maak was allermins deel van die jong Australiërs John Rendall en Anthony “Ace” Bourke se planne met hul aankoms in Londen.
Die twee was pas klaar met hul universiteitstudie, eintlik op pad om die wêreld te sien ná ’n tydjie in die hoofstad van die Swinging Sixties, Londen.
’n Terloopse besoek aan die afdelingswinkel Harrods het egter al dié planne omvergewerp.
“Harrods het destyds ’n hele dieretuin-afdeling gehad. En dit was daar, iewers tussen die Siamese katte en die lovebirds, of wat ook al alles daar te koop was, dat ons hierdie twee pragtige leeuwelpies raakgesien het,” vertel Rendall onlangs op ’n besoek aan Kaapstad.
“Hulle was net onweerstaanbaar. Ons het na hulle gekyk in daardie hokkie en gedink dit is net verkeerd, ons moet iets daaraan doen.”
Rendall het al sy spaargeld prysgegee om een van die dieretuin-leeutjies, ’n mannetjie, aan te neem.
“Ons het altyd geweet dit sal ’n tydelike reëling moet wees, dat dit nie vir ewig so sou aangaan nie. Ons het niks geweet van hoe jy ’n leeu behoort groot te maak nie.”
Tog is sorgvuldig beplan om in Christian se behoeftes te voorsien. Hy het die keldervloer van hul woonstel in King’s Road vir homself gehad, nooit ’n maaltyd misgeloop nie en kon gereeld op ’n oop stuk veld naby die woonstel oefening kry.
“Ons was omtrent agt mense wat na hom gekyk het – ons twee, ons meisies, die twee eienaars van die meubelwinkel (met die toepaslike naam Sophistocat) waar ons gewerk het, die vrou wat ons huis skoongemaak het en ons buurman, ’n fotograaf.
“Dit is dalk waarom hy so ’n vriendelike, vreedsame geaardheid gehad het. Hy was nooit honger nie, hy was nooit bang nie, en hy was nooit alleen nie.”
Christian het selfs ’n gruisbakkie gehad, nes ’n wafferse huiskat, wat hy volgens Rendall getrou gebruik het.
Dit was ’n Italiaanse vriendin wat hulle uiteindelik ’n plan vir Christian se toekoms help beraam het.
Hulle sou hom na George Adamson, die bekende Britse bewaringsaktivis en leeukenner in Tanzanië, bring en hom uiteindelik in die wildernis vrylaat.
“Hy was omtrent ’n jaar oud toe ons hom na Afrika gebring het. Ons het hom ’n jaar later weer besoek en hom die laaste keer op 3½ jaar oud gesien. George het hom lank daarna nog in die veld hoor brul, maar hy het nooit teruggekom vir kos of enigiets nie. Dit is tog wat ’n suksesvolle rehabilitasie behoort te wees.”
Ondanks die onsekerheid is Rendall vol vertroue dat Christian daarna ’n gelukkige lewe gelei het.
“Hy was eintlik op ’n jong ouderdom reeds fisiek groot in vergelyking met sy tydgenote, omdat hy nooit honger gely het of siek geword het nie. Indien hy gejag is, is ons taamlik seker ons sou daarvan gehoor het – iemand sou iewers met dié reuse-trofee gespog het.”
Die plaaslike gemeenskap sou Christian nie sommer net van kant maak nie.
Nadat die jong leeu in ’n stadium een van hul koeie gevang het, het die eienaar eerder Adamson om vergoeding genader as om die leeu dood te maak.
“Toe die storie eers op YouTube beland het, was daar niks wat ons daaraan kon doen nie. ’n Amerikaanse meisie het dit opgelaai. Toe las ’n Britse ou die musiek (nogal Whitney Houston se ‘I Will Always Love You’) by. Dit was wonderlik.”
Volgens Rendall was Houston blykbaar glad nie beïndruk nie. Op ’n optrede in Brisbane verlede jaar was sy glo woedend toe ’n aanhanger versoek dat sy “daardie Christian-liedjie” sing.
Hoewel hulle nie direk by die YouTube-video baat gevind het nie, meen Rendall dit is ’n beter bemarkingstrategie as wat hy en Bourke ooit vir hul boek, en die bewaringsboodskap wat hulle daarmee probeer oordra, kon bedink.
“Christian is ’n ware ambassadeur vir natuurbewaring. Wanneer ek die beeldmateriaal in skole wys, juig al die kinders en sê hulle wil ook ’n leeu hê.
“Vir die volwassenes gaan dit meer oor die reünie (waar Christian sy twee ‘ouers’ ná ’n jaar in die wildernis steeds herken en hulle aan twee leeuwyfies voorstel). Ek dink ons het almal al daardie gevoel gehad, wanneer jy verwyder is van mense vir wie jy lief is en hulle dan weer te sien kry.”
Rendall voel positief oor die beelde wat die wêreld ingestuur is.
“Op ’n emosionele vlak is dit dus ’n baie belangrike stukkie beeldmateriaal wat byna universeel weerklank vind, om te wys dat ’n leeu kan onthou, baie goed onthou, dat hy die kapasiteit het om mense lief te kry en dat hy die band aan ander leeus kan oordra.”
Die boek
John Rendall en Anthony “Ace” Bourke se boek oor hul
wedervaringe en besonderse vriendskap met die leeu Christian is in die
vroeë jare sewentig gepubliseer.
Met die verspreiding van
Christian se verhaal op YouTube is die boek in 2009 weer uitgegee, met
meer inligting ingesluit oor George Adamson en die natuurbewaringswerk
wat hy in Oos-Afrika verrig het. Dié boek het uiteindelik tot die tweede
plek op TheNew York Times en TheSunday Telegraph se topverkoperlyste
gevorder.
A Lion Called Christian is wêreldwyd in sowat 25
verskillende uitgawes beskikbaar, van kinderboeke tot vertaalde
weergawes en selfs ’n eenvoudiger weergawe van die oorspronklike, wat as
leermiddel ingespan word om studente Engels te help praat en lees.
’n Deel van die inkomste uit alle boekverkope word aan die George Adamson-trust geskenk.
- Bykomende bronne: www.christianthelionprints.com; www.alioncalledchristian. com.au/the-book

Christian, toe hy ’n leeuwelpie van sowat 3 maande oud was, in die twee Australiërs se woonstel in Londen. ’n Fotograaf-buurman en vriend, Derek Cattani, het die foto’s geneem en ook na Christian help omsien.
Foto: DEREK CATTANI/RANDOM HOUSE STRUIK

John Rendall met die boek wat oor Christian geskryf is.
Foto: EDREA Du TOIT