Dit laat my bloed bruis...
2012-01-24 06:00
Wat is die uitdagings van boogskiet?
Boogskiet is ’n individuele sport. Die skutter hoef nie te reageer op ’n opponent nie, toon geen interaksie met die opponent nie, en sy prestasie is heeltemal onafhanklik van die opponent.
’n Skutter wat langs ’n wêreldkampioen te staan kom, kry geen voordeel of nadeel daaruit nie. Jou goeie prestasie is volledig jou eie, en jou minder goeie prestasie is ook jou eie. Dit beteken dat fokus, konsentrasie op die skiet-aksie en selfbeheersing belangrike eienskappe is.
Waar begin ’n mens as jy boogskiet wil beoefen, en wat het ’n mens nodig?
Begin op die internet by die Nasionale Boogskietvereniging (SANAA) op www.archerysa.org, waar inligting oor die sport en kontakadresse van klubs verskaf word. Vir iemand wat belangstel om dalk die sport te beoefen, is my raad: “Kom toets die sport, skiet onder toesig en besluit daarna of jy genoeg belangstel om daarmee verder te gaan.” Eers daarna kom die aanskaf van die nodige toerusting.
Het ’n mens afrigting nodig vir boogskiet? Indien wel, watter soort afrigting?
Boogskiet is ’n hoogs tegniese sportsoort. Dit lyk so maklik – jy trek die snaar en los die pyl. Die werklikheid is egter aansienlik anders.
Die regte spiere moet gebruik word, die regte aksies moet geleer word, en die regte toerusting moet gebruik word. Afrigting in ’n tegniese sport soos boogskiet is noodsaaklik.
Wat geniet jy die meeste omtrent boogskiet?
Boogskiet is ’n individuele sport. Wanneer ek op ’n skietbaan is, ongeag of ek self skiet of afrig of as beoordelaar, dan is my volle aandag by wat ek doen. Die probleme in my kantoor en ander moontlike kwellings of afleidings word tersyde gestel, want anders kan ek nie doeltreffend funksioneer nie. Die pyl wat ek skiet, die skutter wat ek afrig of die toernooi wat ek beheer, het my volle aandag nodig.
Waar kan ’n mens boogskiet beoefen?
As jy boogskiet as sport wil beoefen, behoort jy by ’n boogskietklub aan te sluit. Die moderne boog moet met respek benader word. Om in die stad in ’n agterplaas te gaan skiet, is baie gevaarlik.