Fotowenk
2012-01-31 06:00
ALET PRETORIUS, FOTOGRAAF VIR FOTO24 SÊ:
Akwariums en dieretuine is heerlike plekke om foto’s te neem. Maar anders as dieretuine het akwariums ’n hele paar ekstra hindernisse wat jy sal moet oorkom om goeie foto’s te kry.
Daar is dikwels baie min lig, daar is liters en liters water en ’n hele paar sentimeter (partykeer vuil!) glas tussen jou en jou onderwerp. Dan is die spasie boonop beperk en jy gaan dit waarskynlik met ’n bondel jillende kinders deel.
Gelukkig is daar ’n paar wenke wat kan help. Jy het geduld nodig – en sommer hope daarvan...
Dan (en dis amper net so belangrik) is ’n vinnige lens (byvoorbeeld f2.8 of self vinniger).
Dit los die probleem met gebrekkige lig op, en die kleiner diepte van veld help om die glas – of enige merke daarop – minder sigbaar te maak.
Los jou kamera se flits (flash) sommer heeltemal uit. Die weerkaatsing in die glas sal al wees wat op jou foto verskyn. Die kleure is ook baie beter as jy net die beskikbare lig gebruik.
Gebruik eerder ’n hoër ISO en ’n stadiger sluiterspoed (1/60th) om goed beligte foto te neem. Dis belangrik om die regte sluiterspoed te kry: Dit moet stadig genoeg wees sodat genoeg lig inkom, maar ook vinnig genoeg sodat jou onderwerp skerp is.
As jy sukkel om met ’n stadige sluiterspoed die kamera stil te hou, gebruik ’n driepoot.
Behoorlike fokus kan ook nogal ’n uitdaging wees. Hou die lens loodreg teen die glas, en so naby as moontlik daaraan.
As jy dít nie doen nie, gaan jou foto verwronge uitkom. Water buig lig – dit beteken hoe meer water daar tussen jou kamera en jou onderwerp is, hoe moeiliker is dit om ’n goeie foto te kry.
En laastens: Ons almal soek daai pryswennerfoto, maar moet nooit op die glas slaan of tik om die diere se aandag te probeer trek nie.