Fotowenk: Wees gereed en reageer vinnig
2011-12-06 08:46
Alet Pretorius, fotograaf van Foto24, sê:
Fotografie is ’n kombinasie van die regte oomblik en goeie tegniek. Nick Mathios kry 110% vir die regte oomblik, maar die foto druip die tegniese toets.
Die vlieënde bok, wat die fokuspunt van dié foto is, is heeltemal uit fokus.
Dit verg baie oefening en ’n klein bietjie geluk om so ’n aksiefoto in fokus te kry. Ek stel voor jy stel jou kamera op die sportverstelling as jy ’n mik-en-druk het of op die voorspellende fokus-verstelling as jy ’n SLR het (soos Canon se Al Servo-verstelling).
In albei gevalle asook as jy ’n ander fokusverstelling gebruik, is dit ’n goeie idee om jou onderwerp ’n paar sekondes met jou kamera te volg voordat jy die sluiter druk.
Die foto is ook ’n baie goeie les dat die fotograaf altyd gereed moet wees. Dit is juis die onverwagte oomblikke wat goeie foto’s oplewer. Hou dus altyd jou kamera gereed, en oefen om vinnig te reageer as iets gebeur. Met ’n bietjie oefening sal jy lekker oomblikke soos dié vasvang met die fokus op al die regte plekke.
Gesels saam op Facebook en volg Beeld op Twitter.