Hel toe op ’n bloedige warm dag
2012-01-10 06:00
Mense van die Hel hou nie juis van die naam wat hul blyplek in die Swartberge gekry het nie.
Hennie Hoed, oftewel Hennie Mostert – van die Hel se Mosterts – skryf in ’n boekie oor die “Helse Rate van Hennie Hoed” dat die naam eintlik kom van ’n “suurgat, songevrete belastinggaarder wat die Kloof te voet bereik het”.
Dis dié man wat gekla het: “Dis hel om hier te kom!” So het hul tuiste die skelnaam gekry, beweer Hennie.
“Boorlinge voel moerig daaroor, maar dit kleef soos steekgras aan die aardetjie waar ’n paar vasbyters van sowat 1830 tot 1962 in afsondering geleef het,” skryf Hennie Hoed.
Dit kort steeds ’n vasbyter om by die Hel uit te kom. Halfpad die Swartbergpas oor, van Oudtshoorn se kant af net anderkant die Ou Tolhuis, wat opgedollie is in ’n restaurant en oornagverblyf vir stappers en 4x4-ryers in die Swartberg-natuurreservaat, draai jy links af.
Die bordjie by die afdraai waarsku: 37 km – reistyd 2 uur. Dis nie ’n leuen nie. Dis uitmergelend: Die eerste stuk is die dal van ’n duisend hobbels.
Deur plantasies pienk proteas en restias, familie van die oer-varings wat in die dinosourusse se tyd in die nat vlakte van die oersee hier gegroei het; verby wit klippe wat deur ’n oerkrag uit die diepte van die aarde hier opgespoeg is.
Een van hulle is oom Koos se klip, wat die moed van die dapper padmaker in die vroeë jare sestiggebreek het en wat die pad toe óm die klip gemaak het.
Dan kom jy by Heartbreak Hill, soos die To Hell and Back-bergfietsryers dit noem.
Die heuwel hou – haarnaalddraai ná haarnaalddraai, met ongenadige kranse aan die een kant en angswekkende afgronde aan die ander kant – aan en aan en aan.
En die son brand neer en die stof sif neer. Die allerlekkerste lekker vir die viertrekmens met pionierbloed in die are – ’n helse lot van hulle van GP af die dag.
Baie jare sedert die Hel in 1830 deur ’n veeboer wat sy vee gesoek het, ontdek is, was die Hel afgesonder. Hier het ’n klompie families gewoon: die Cordiers, die Mosterts en die Swanepoels. Vandag is nog net Annetjie de Jager hier, en haar rooibaardseun Pieter wat Die Hel Kiosk bedryf.
“Besigheid is goed,” vertel Pieter van agter die kasregister van die winkel waar ’n mens ingemaakte Hel-lekkernye kan koop, kan aansit by ’n ete van geregte uit die Hel, of buite in ’n swembadjie kan afkoel, soos ’n klomp vriende ons nooi om saam te doen.
CapeNature is baas in die gebied en onder die akkerboom by die kantoor en museum aan die eindpunt van die sowat 49 km die Hel se vallei in, sê Martin Botha, die bestuurder, dis 40°C in die son. Dis 33°C onder die akkerboom waar ons ons vaste en noodsaaklike likiede bates uitpak, verweer teen die helse son.
Destyds toe die Hel nog afgesny was van die buitewêreld deur die onherbergsame hange van die Swartberge – toegesneeu in die winter en uitgebraai in die somer – het die handjievol inwoners oorleef van die droë vrugte wat hulle donkie-vir-donkie uit die Hel kon stap.
Hier is ook ’n bietjie witblits in die afsondering van die valleitjie gestook van die goue oes van die vrugteboordjies.
Vandag nog is geroeste droograkke, loogkuipe waar druiwe geweek is voordat dit rosyntjies geword het en ’n ingemesselde stookketel – ’n tasbare bewys van ’n vergange era.
Voorwaar ’n besoek werd hetsy met ’n bakkie wat hoog op sy wiele is, of met ’n motorfietsryer wat lus is vir ’n martelroete.
- Tisha Steyn is ’n vryskutskrywer van Oudtshoorn.
Hoe om daar te kom
Volg die roete vanuit Oudtshoorn na die Kango-grotte. Draai links na die Swartbergpas en Prins Alfred. Na ‘n ruk word die teerpad na die Swartbergpas grondpad. Oor Die Top, die hoogste punt van die pas, en af, verby die Ou Tol, tot by die bordjie wat wys Gamkaskloof. Dan 37 km grondpad teen steiltes uit, deur klipperige driffies, totdat jy bo is. Dan met Elandspad af tot onder in die Hel.
VerblyfCapeNature het die ou inwoners van die Hel se oorspronklike huisies opgeknap en genoem na die eienaars wat eens daar gewoon het. Daar’s ook 10 kampeerplekke by die bek na die Hel, elk met badkamergeriewe. Dis wys om te bespreek by Martin en Elmaree Botha, wat ‘n hand op die reservaat hou, by 023 541 1736.
Ander aktiwiteite
As die hitte nie al jou krag getap het nie, kan jy ‘n bergfiets teen R50 (halfdag) en R100 (voldag) huur waarmee jy die Hel kan verken.
Vir meer inligting oor verblyf, gaan loer op die webblad www.capenature.co.za.

Die stookketel reg langs die appelkoosboord herroep ‘n vergange era toe die Klowers op hulself aangewese was.

Die somerson bak teen 40°C en besoekers soek skuiling en lafenis by die kiosk van Annetjie en haar seun, Pieter Botes. Hulle is nog van die oorspronklike inwoners van die Hel. Foto’s: TISHA STEYN