Hengelvakansie was dié somer groot pret
2012-01-10 06:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Groot pret is die woord vir dié somer se hengelvakansie wat vandag met nog meer pret in Buite die nuwe jaar binneloop.
Dit was soms skreeusnaaks, soos Hennie Steyn wat ’n hengse “ding” by Strandfontein gehaak het wat hom die see wou insleep. Hy het blou moord geskreeu, maar ouboet en pa hardloop kar toe om die polisie te bel oor ’n “vlieënde piering”. Die polisie bel die sterrewag in die Sederberge en Chris Forder daar sê dis Venus en die Gautengers moenie dat die Kaapse sterrehemel hulle so op hol jaag nie.
Eers toe hoor hulle Hennie om hulp roep, maar hy is reeds sy stok en katrol kwyt en sy hande is flenters. “Pa moet besluit of hy vakansietyd wil hengel of sterrekyk,” sê hy agterna.
Andries Carstens van Gansbaai was weer dikmond omdat sy dogter, Jonine Louw van die Paarl, ’n honderdponder-kabeljou in Witsand gevang het nét om hom te troef, glo hy.
Al waarmee hy kon terugpraat, was twee vyftigponders. Hy is weens ouderdom geregtig op ’n twee-voorgee (soos in gholf), sê hy nou.
Maar Egbert Steyn (7) van Pretoria dink nie hengel is altyd pret nie. Pa Anton se hulp is ingeroep om die vliegie (soos die een op die inlas) baas te raak. Die twee was op die mooie Eikendal buite Stellenbosch op soek na forelle.
Hengel is lekker as daar erns in die uitstappie is en jy ’n uiters skaars geelvis, nog skaarser as die Clanwilliam-geelvis, vang om viskenners te laat regop sit.
Johan Brink van Rawsonville het ’n skaars barbus by Robertson gevang en teruggeplaas. Dit is die tweede barbus wat binne ’n maand in die Breërivier gevang is. Brink vertel dat ons land se wit- en geelvisse enige tyd net soveel vernuf vra om hulle te haak as uitheemse baarse en forelle.
Sy vangs vat die koek vir 2011, glo hy. Met al die mooipraat van CapeNature en reklame rondom die beskerming van die Clanwilliam-geelvis teiken mense nie meer geelvisse nie, maar al die witvisse in die barbusfamilie.
Dit is glo baie moeiliker om ’n geelvis of witvis te vang as ’n baars of forel waarvoor duur, spesiale toerusting soms uitgehaal moet word, hoor Katonkel ook by klubhengelaars.
Dit sal seker nuus wees vir Kaapse hengelaars dat die gewildheid van vlieghengel vir inheemse wit- en geelvisse aan die toeneem is. Die binnelanders wat gereeld klinieke vir die vlieghengelsport hou en veral die klem op bewaring lê, moet daarvoor bedank word.
Ons het reeds geskryf van die erns wat die owerheid met dié soort hengelsport het deur die dam op Paarlberg skoon te maak vir witvis. En al hoe meer boere volg hul voorbeeld.
Die hengelskrywer Sean Mills dui in sy boek Varswater: Hengel in Suid-Afrika (Struik) aan dat die krag van varswatervisse nie onderskat moet word nie. Hulle kan sterk op loop sit. Vir ’n geelvis moet minstens no. 6 tot 8- toerusting gebruik word.
Klubhengelaars is dit eens dat vlieghengel vir inheemse visse liefs onder toesig van klublede of amptelike gidse beoefen word. ’n Goeie begin is Eikendal buite Stellenbosch, van waar toere na die groot binnelandse riviere gereël word. Bel Phillip by 021 855 2646 met navrae.
- Stuur foto’s en hengelnuus per e-pos na katonkel@dieburger.com.

Egbert Steyn (7) van Pretoria het lokaas so groot soos ‘n vuurhoutjiekop (sien inlas) gebruik toe hy by Eikenhof buite Stellenbosch gaan hengel het. Anton Steyn het sy seun ’n bietjie touwys gemaak. Foto’s: TOBIE BRUMMER

Andries Carstens (links) van Gansbaai het onlangs hierdie twee 50-ponder-kabeljoue by Witsand uitgetrek. Dit was al wat hy kon regkry uit weerwraak vir die 100-ponder van sy dogter, Jonine Louw (regs) van die Paarl. Jonine het haar “vissie” ses?maande gelede gevang.