Kampeer jy met ’n tent, ’n woonwa of ’n boswaentjie?
2012-02-07 06:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op

Kampeer jy met ’n tent, ’n woonwa of ’n boswaentjie?
Die Trekkers Buitelug Ontspanningsklub is oop vir enigiemand wat versot is op die buitelewe en kampering.
Dié klub, wat in 1975 in Natal gestig is, bestaan uit 14 laers (kleiner kampgroepe) in vyf provinsies – Gauteng, KwaZulu-Natal, die Vrystaat, asook die Wes- en die Oos-Kaap.
Die meeste lede is woonwa-eienaars. Daar is ook ’n kleiner groep tent-eienaars en mense met ’n mobiele huis.
Lidmaatskap van elke laer word tot ’n minimum van 6 en ’n maksimum van 100 lede beperk.
Daar is gewoonlik 6 tot 25 gesinne in ’n laer, wat vriendskappe bevorder en verhoed dat lede so ver van mekaar kamp dat hulle mekaar nooit sien nie.
Kleiner groepe kan ook dikwels kleiner en interessanter kampeerplekke besoek.
Die laers kampeer een naweek per maand, behalwe in Desember, wanneer die meeste mense met vakansie is.
Trekker-laers het ’n meer ontspanne atmosfeer as die meeste klubs en beperk formele aktiwiteite tot ’n minimum.
Elke kamp het net een formele “indaba”, waar toekomstige kampe bespreek en die gek geskeer word met unieke tradisies soos “boetes” en soms selfs ’n wisseltrofee.
Een keer per jaar is daar ook ’n streeks- en ’n nasionale kamp vir al die lede.
- Besoek www.trekkersclub.co.za en klik op “contacts” om ’n lidmaatskapsvorm in te vul of die kontakbesonderhede van ’n organiseerder in jou provinsie te vind.
Of kontak Derick Sinden, die nasionale president, by 021 557 1858 of TORCweb@telkomsa.net.
- Wil jy graag ’n klub bekendstel? Stuur dan ’n e-pos met besonderhede na buite@beeld.com.