My ou maat van Stilbaai, Jan Heenop, ken dié omgewing soos die palm
van sy hand, en bied onder meer die Merrell Eden Duo Avontuurwedren hier tussen
George en Wildernis aan.
Jan is eintlik ’n dominee, maar sien sy roeping wyer.
“Met wedrenne soos die Eden Duo en Rock Pedal Classic gee ek gewone
mense die kans om hul innerlike staal te toets.
“Die buitelug en ongelooflike natuurskoon bied die perfekte arena
waar mense op ’n meer aardse manier met hul Skepper in aanraking kan kom,” sê
Jan.
Wat Jan egter nie noem nie, is dat die uitmergelende roete – 100 km
en met sowat 2 000 m se klim – en vurige temperature kan neig om jou in die Warm
Plek te laat eindig.