Nesmaaktyd senutergend vir voëls
2012-01-31 06:00

Elke voël wat ’n nes bou, maak ’n opregte belegging in die toekoms.
Met nesmaaktyd is daar nie kortpaadjies, oningeligte advies of belaglike kommissies nie. Inteendeel, elke lewende wese is fyn aangepas om spesifieke toestande en situasies te benut, of te ontduik.
Dis wanneer daardie swaargewonde swartvlerkkiewiet in die ooptes rondsteier dat ek amper na my noodhulptassie in die bakkie se paneelkissie wil rondtas. Hier het ons met ’n krisis van die voorste water te doen!
’n Mens wonder of dit ’n rondloperhond, ’n rooikat of ’n .22-projektiel is wat hierdie skade aangerig het. Maar nes jy naderstaan met die draagbaar om die beste moderne mediese hulp moontlik vir Kiewiet aan te bied, sien jy hy steier ’n paar tree verder weg van jou af.
Foei tog. Die arme ding is bereid om homself verdere skade aan te doen net om van ’n nuwe bedreiging (dit is ek) af weg te kom.
Teen die tyd dat jy agterkom dat hierdie bykans noodlottig gewonde voël jou in ’n definitiewe rigting gelei het, en nou reeds ’n goeie 30 meter is van waar jy die eerste mond-tot-mond-sessie wou toepas, is die vernedering groot.
Hy het jou sowaar heeltyd gefop deur jou goeie bedoelings uit te buit. Jy is in gewone taal sommer uitoorlê. Gefnuik. Gestonk. Ge-jakkals.
My eerste reaksie is altyd iets tussen vies wees vir my eie naïwiteit en ontstoke oor die voël my in so ’n swak lig (as roofdier) beskou het.
Hierdie doelbewuste weglei-sirkus het alles te doen met die beskerming van die voël se nes. Hoe later in die broeisiklus, hoe groter die sirkus.
Dit is logies dat ’n ouer veel erger tekere sal gaan as daar kleintjies in die omtrek is as wanneer die eiers pas gelê is.
Eksamenskrywende kinders trek tipies ondeurdringbare laers met hul elmboë om hul antwoordstelle wanneer hulle hard gestudeer het.
Vergelyk dit met die traak-my-nie-agtige oopboek-houding van ’n leerder wat in die voorbereidingsfase nie sy kant gebring het nie. Dit gaan alles, nes by die kiewiet-ouers, om die grootte van die belegging wat jy gemaak het.
Ek sou ’n senuweewrak wees as ek soos ’n kiewiet my eiers in ’n holtetjie iewers op die grond moes lê.
Ja-nee, om ’n nes op grondvlak te hê, is net vir dié met senuwees van staal.
So iemand kan natuurlik hier en daar ’n lekseltjie kleur op die eierdoppe sit pas voordat hy die ding lê.
Die beste pogings is natuurlik dié waar die buitelyne van die eiers deur die patrone op die dop gebreek word. En die algemene kleur van die eier moet goed met dié van die agtergrond saamsmelt.
’n Kiewiet wat op witterige sandgrond broei, gaan óf eiers lê wat as’t ware teen die sand wegraak, óf sy bly sonder kleintjies.
Dis eintlik baie eenvoudig. Maar dis ’n harde leerskool om speletjies met eier-albasters te speel.
Nesmaaktyd is maar ’n senutergende tydjie, veral as jy jou nes iewers na aan grondvlak maak.
Maar dié van ons wat opofferings maak om ons eie kleintjies te kry dat hulle eendag uit die nes uit kan vlieg, sal weet hoe groot die renteopbrengs daarop kan wees. Dis nou mits ons die rente in terme van geluk of gene meet.
-Dr. Morné du Plessis is die hoof van die bewaringsorganisasie WWF Suid-Afrika. Lees ook aanstaande Maandag in Die Burger en Beeld sy resensie van Warwick Tarboton se nuwe boek, Roberts Nests & Eggs of Southern African Birds. – Red. Buite