Nuwe roetes wink in Tsitsikamma
2011-12-06 08:46
’n Splinternuwe staproete, wat oor die jare as’t ware deur vissermanne uitgekerf is, is in die Tsitsikamma oopgestel. RICHARD ROBERTS het in hul voetspore gaan loop.
‘Die plek van baie water.” Dit is hoe die Khoisan die streek tussen Humansdorp en Nature’s Valley buitekant Plettenbergbaai beskryf het, maar water, het ek gou agtergekom, is nie al ding waarvan hier “baie” is nie.
Nee wat. Bome, fynbos, sediment-rotse, heuwels, seewater, robbe, pikkewyne, dassies en bokkies... dít is waarvoor die Tsitsikamma, oftewel die plek van baie water, onder die plaaslikes en die gereelde besoekers bekend is.
“Wat van die slange, die bobbejane en die skerpioene?” wou ek weet.
Moenie worry nie, hier wandel Kees en sy trop maats nie langs die kus nie, die slange (pofadders nogal) sal jou nie pla nie en die skerpioene, dié is nie giftig nie, verduidelik ons ywerige gids, Ian Spogter.
Spogter en sy kollega, Jan Goede, ’n boorling van die gebied, was vir twee dae ons toergidse op die twee splinternuwe voetslaanpaaie in die bergagtige heuwels in die Tsitsikamma.
Van rotse, stene, plantegroei, diere en alle soorte insekte kan dié twee ure lank rondom ’n kampvuur gesels. Kennis wat hulle in boeke, maar ook gedurende hul grootwordjare in die gebied en die Stormsrivier-omgewing opgedoen het.
“Dis een van God se wonderwerke,” beskryf Goede die landskap by die Elandsrivier.
Dag een van die staproete, bekend as die Bloubaairoete, word ons vertel hoedat vissermanne onwettig in die gebied visvang, ondanks Sanparke se verbod daarop ’n paar jaar gelede.
“Die mans kom tot vandag nog see toe om vis te vang. Dis onwettig en daar is rangers wat die reservaat patrolleer, maar die mans kom omdat dit vir baie al manier is om hul families te voer,” vertel Spogter, ’n opgeleide en geregistreerde veldgids.
“Die ouens weet dis verkeerd, maar hulle kom nog steeds,” voeg Goede onderlangs by.
Te midde van die stryd wat die reservaat met die vissermanne voer, het mev. Dominique le Roux en haar man, Andries, die eienaars van die plaas Cadeau, besluit om die roetes wat deur die vissermanne uitgekerf is tot hul sowel as die gemeenskap se voordeel te benut.
Die roetes is onlangs deur die Le Roux’s in voetslaanpaaie omskep wat by hul plaas begin.
Die Bloubaairoete is sowat nege kilometer lank en strek al langs die kuslyn tot by Japhta se Kraal, waar die vissermanne gereeld onwettig hengel.
Hier en daar is nog tekens van die vissermanne se teenwoordigheid. Bottels, emmers, plastieksakke en kole wat deur die vure agtergelaat is.
Hoe kry die vissermanne dit reg om so ver te loop, op en af oor die heuwels?
“Die manne is desperaat en sal enigiets doen,” vertel Spogter.
Dag twee van ons roete, die Elandsrivierroete, is ewe steil, ewe rotsagtig, maar ewe skouspelagtig.
Wat die nuwe roete langs die skilderagtige kuslyn van die Oos-Kaap fenomenaal maak, is nie net sy natuurskoon nie, maar ook hoe geïsoleerd en afgesny dit jou van die res van die wêreld laat voel.
Gesels saam op Facebook en volg Beeld op Twitter.