Nuwejaar-toer aan ’n nat Wildekus
2012-01-24 06:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Almal het gewaarsku teen die nat weer hierdie tyd van die jaar, maar ons was voorbereid met reënjasse, swartsakke en relatief waterdigte bagasie.
Ondanks die bangmaakstories in die weerberigte het ons eers by Knysna vir die eerste keer in die reën begin ry. Daarna is twee dae in gietende reën en soms deur digte mis gereis.
By Port St. Johns was die meeste kampeerplekke maande gelede reeds volbespreek, maar ons het by Ferry Point plek bespreek. Dié plek het ’n lowergroen grasperk waarop ’n mens ’n tent kan opslaan, en daar is warm water en spoeltoilette.
Ons het lekker gebly en toe die son die volgende dag sy kop uitgesteek het, het ons die dorp gaan verken. Die mooiste uitsig oor die gebied is van die verlate vliegveld aan die bopunt van die krans, aan die westekant van die pad wat inloop na Port St. Johns.
Om daar uit te kom, moet jy deur die middel van die dorp ry en met die pad (beginpunt: S31 37.323 E29 32.604) wat na die reservoir loop, opry tot waar dit ’n grondpad word (S31 37.198 E29 30.232). Draai dan regs en volg die teerpad tot bo. Die aanloopbaan is 1,2 km lank, en ons het vinnig agtergekom dat ’n gewigsvoordeel op ’n 650 ’n groot verskil maak.
Die aand ruil ek my agterband vir stofpadrubber, en Eon, Villiers en ek laai die roete na Hole in the Wall op ons GPS’e.
Ons het Slingsby se kaart gebruik. Dit is die mees gedetailleerde kaart van die gebied en is boonop heeltemal waterdig (www.slingsbymaps.com).
Die paaie is egter goed gemerk op Tracks4Africa, maar daar is net te veel van hulle. En as die paaie reën gehad het, verg 142 km gou-gou ’n volle dag; daar is dus nie tyd vir verdwaal nie.
By die ingang na Port St. Johns is brandstof ingegooi. Nadat ons volgemaak het, het ons in die pad geval. Eers klim die pad met draaie tot bo-op die plato, maar nadat ons op die grondpad na links afgedraai het (S31 37.646 E29 22.698), het die modderige pad vir sports begin sorg.
Dit was Kerneels se eerste ervaring op ’n grondpad, en Tania was nog gewoond aan haar MotoMia van 200 cc waarop sy onlangs 15 000 km tot in Kaïro gery het, maar hulle het uitstekend gevaar.
Later die dag het dit bloedig warm geword. Dis goed, want die paaie het begin uitdroog, maar met al ons beskermende klere het die sweet begin tap.
Ons moes kort-kort vir ons hulpvoertuig wag, want die pad was klipperig en baie steil namate ons nader aan Koffiebaai gekom het. Die landskap is groen met klein hutte versprei so ver jy kan sien.
Koffiebaai was ’n warboel van hippies en Gautengers met stof-bromponies, en ons het verby gehou om by ons oornagplek te kom.
By die Hole in the Wall Holiday Village het ons gebly in ’n kamer vir ses wat deel van die backpackers is, want die kampeerplek was lankal vol.
Daar was twee driebed-eenhede. Ons was sewe, en Kerneels het aan die kortste ent getrek en buite op die houtdek geslaap. Ons bure die twee aande was die polisie se perde-eenheid. Daar het vyf reuse-sakke perdevoer op ons voorstoep gelê, maar al die ruiters was baie vriendelik.
Die volgende oggend het ons na die Hole in the Wall gestap. As jy by die hek voor die restaurant uitgaan en regs draai, loop die pad steil op na bo en dan af na links tot by ’n klein strand waar beeste in die son lê en ontspan. ’n Entjie deur ’n bosagtige paadjie verder sien jy die muur in die water.
Op pad terug het ons op die strand sokker gespeel. Hier het ons Nuwejaar gevier. Ons kon nie op die houtdek vuurmaak nie, en die reën het weer begin; dus het ons burgers en tjips in die restaurant geniet.
Die pad van 198 km na die Keimond was die volgende oggend meestal uitgeryde sinkplaat. Omdat ons nie op Koffiebaai volgemaak het nie, moes ons 60 km ompad ry na Elliotdale, waar ons deur ’n verlate vulstasie begroet is. Die vriendelike polisie het ons beduie na ’n plek sowat 4,5 km wes van die dorp waar ons reggekom het.
Toe ons laatmiddag by die Keirivier kom, moes ons eers met een van twee veerbote oor die rivier. Daar was genoeg plek vir die Hilux en ons vier motorfietse.
Ons laaste stop aan die Wildekus was by die umThombe Kei River Lodge langs die rivier. Die pad daarheen (draai regs af van die R349 by S32 40.921 E28 21.311) is baie steil en klipperig.
As jou voertuig nie goeie grondvryhoogte het nie, gaan jy sukkel om hier uit te kom. Die kampeerterrein is oral met dik gras bedek, en daar is genoeg koeltebome.
Hier was roeibote en kon jy in die Kei visvang. Ons het egter net afgekoel in die sterk stroom bruin water wat by die kaai verbygevloei het. Nadat ons drie dae lank heerlik ontspan het, het ons weer die pad suidwaarts aangepak vir ons laaste vakansie-avontuur: die Baviaanskloof.
- Francois Steyn is ’n vryskutskrywer van Stellenbosch.
Blyplek aan Wildekus
Ferry Point, Port St. Johns
Koördinate: S31 37.306 E29 33.140
Kantoor: 047 564 1296
Matthew: 078 329 8799
e-pos: ferrypoint@polka.co.za
R75 per persoon per nag vir kampering in die tuin
Hole in the Wall Holiday Village
Hotel se koördinate: S32 01.908 E29 06.637
047 575 0009; 083 317 8786; 073 240 9421
e-pos: reservations@holeinthewall.co.za
www.holeinthewall.co.za
R100 pppn in ’n kamer vir ses (in die backpackers)
umThombeKei River Lodge
Koördinate: S32 37.988 E28 21.065
Besprekings: 082 570 6000
e-pos: home@umthombekei.co.za
R70 pppn vir kampering
Veerboot oor die Keirivier:
Tye: 07:00 tot 17:30
Motor: R60; motorfiets: R25
Brandstof
Port St. Johns: Shell (GPS Koördinate: S31 35.921 E29 31.645)
Koffiebaai: BP (S31 58.899 E29 09.065)
Elliotdale (sowat 4.5 km wes van die dorp)
Keiriviermond: Shell (S32 40.743 E28 22.505)
Die span
Francois Steyn (2006-Kawasaki KLR650)
Tania Steyn (1999-BMW F650ST)
Kerneels Venter (2006-BMW F650GS Dakar)
Eon en Mari de Kock (2011-Yamaha XT660Z Tènèrè)
Villiers Steyn en Tabby Mittens (2004-Toyota Hilux 2.7i 4x4)

Hier eindig die pad by Hluleka aan die Wildekus. Kyk net die pragtige uitsig oor die see. Foto’s: FRANCOIS STEYN

Die motorfietse en ons hulpvoertuig op die veerboot oor die Keirivier.
