Op ’n haglike stofpad na Turkana
2012-01-10 06:00
Ondanks die waarskuwings van die polisiehoof van Archer’s Post het ek en my vrou, Lynette, besluit om deur te druk, verby die Kaisutwoestyn na Marsabit. Dan deur die Chalbiwoestyn na die Turkanameer, die wêreld se grootste woestynmeer. Van daar af na Maralal.
Die pad noord was haglik. Waar moontlik ry jy eerder deur die veld.
Ons moes ook noodgedwonge stop om ’n skokbreker te vervang. Maar die Chinese was darem aan die bou, onder die wakende oog van gewapende wagte. Hul werkers word soms vermoor deur struikrowers.
In Marsabit het ons oornag in die verbeeldinglose Jey Jey’s. Daar trek jy jou eie water uit ’n reservoir in die binneplaas en trotseer die enkele stukkende spoeltoilet. Aandete saam met die plaaslikes wat kom uiteet het, was bone en rys. Die twee wittes is onderlangs dopgehou.
Die volgende dag het ons vleis met ’n panga laat kap uit ’n karkas, waterhouers gevul en die nege jerrykanne met petrol volgemaak. Toe het ons, sonder om aan enigiemand te noem waarheen ons op pad was, die Land Rover noord-wes geswenk, teen die rante af die Chalbiwoestyn in.
Nie lank nie of die pad het plek-plek weggeraak in daardie gruis- en sandvlaktes. Ons ry sonder ’n GPS en het maar net half noord gehou, na waar die Huriheuwels moes wees.
Aanvanklik was daar ’n paar Grant’s gaselle.
Toe begin die kamele, asof van nêrens, uit daardie ooptes opdoem. Honderde van hulle.
Uiteindelik het die Huris teen die noordelike horison verskyn. Ons rigting was dus reg. Die pad was ook nou meer sigbaar: ’n klipperige, maar rybare streep deur ’n landskap van ontoeganklike swart lawaklippe. Net klippe so ver die oog kon sien. Stil, vuurwarm, ongenaakbaar.
Laatmiddag het ons die stowwerige oase van Kalacha bereik en halt geroep in ’n klein kampeerplek. Daar was selfs ’n dammetjie waarin jy kon afkoel.
Toe daag Game Trackers Safaris met twee 4x4’s en twee polisiemanne met outomatiese gewere ook daar op. Net hulle neem safari’s daar deur.
Die volgende dag was dit verder deur die droë wit kleistof van die Chalbi. Die horisonne was leeg en troosteloos.
Later was daar ’n hut op die uitgestrektheid. Daarnaas ’n lorrie vol Gabbras met tulbande. Volgens hoe hulle beduie het, was ons nog op pad na die oase North Horr.
Instinktief was ons bly dat ons hulle nie teen skemer raakgeloop het nie. Hierdie nomade is soms onvoorspelbaar!
By North Horr was daar dooie kamele en aasvoëls. Ook honderde dors kamele en hul wagters by die water. Met hul watervragte het hulle wiegend oor die glimmende horison verdwyn.
Suid van North Horr het ’n sandstorm ons tot stilstand gedwing. Daarna was die pad weggewaai! Die kompas het ons suid gelei. Uiteindelik het ons weer spore gekry.
Die volgende paar hutte was toe ook die oase Gussi, soos ons gehoop het. Hiervandaan was die “pad” deur die klipperige landskap goed sigbaar, tot waar die Turkanameer in die Skeurvallei voor ons verskyn het. Blou-groen.
Die flambojante Hongaarse ontdekkingsreisiger graaf Teleki het die meer in die 1880’s na sy weldoener, prins Rudollph van Oostenryk, genoem. Hy het destyds van die Tanzaniese kus af om die meer getrek op ’n epiese tog deur daardie moordende klimaat en moorddadige stamme.
By die oase Loyangalani teen die meer het ons ’n paar dae vertoef om af te stof en olies te wissel.
’n Klein stam, die El Molo, leef hier langs die meer van krokodilvleis.
Die Turkanas is meer veglustig en maak mekaar maklik van die gras af in ’n bakleiery oor water en weiding. Hulle beskou gevegte met lemme gedrapeer om die polse as sportief.
Suid, verby die oase South Horr, het die beestroppe meer geword. Onderweg was daar ook Turkanas en Rendilles met aanvalsgewere wat jou wou laat stilhou. Jy stop nie – en hoop vir die beste.
Veewagters gil ook op jou, kamma vir water. Jy ry net aan. Die Landie moet net nie breek nie. Mense vermoor mekaar hier rond.
Die enigste wild wat ons hier raakgeloop het, was die geharde klein Guenther’s dik-dikke. Hul neuse is aangepas met ’n slurpagtige verdikking om die warm lug draagliker te maak.
Uiteindelik was ons teen die steil, klipperige hellings uit wat hierdie jongste deel van Afrika se Groot Skeurvallei begrens. Teen die westerkim het die Teleki-vulkaan uitgetroon. Daardie warm, genadelose woestyne was nou agter ons.
Op die koeler plato is ons verby Barsaloi. Dis daar waar die jong Switserse vrou Corinne Hoffman gaan intrek het by haar Samburu in ’n modderhut. Uiteindelik was die kulturele verskille egter een te veel. In haar boek The White Masai vertel sy daardie merkwaardige storie.
Teen sononder het ons Maralal bereik en afgepak. Dit was tyd om te trek na groener weivelde.
Die sjimpansees en berggorillas van Rwanda was ’n uitdaging.
’n Nog groter uitdaging was om eiehandig daardie ontwykende skoenbekooievaar te gaan opspoor in die Nylmoerasse van Uganda.
Die tog deur die Chalbi met sy taai woestynbewoners sou egter ’n onvergeetlike ervaring bly.
- Johan Steenkamp is ’n vryskutskrywer van Kaapstad.

Kamele drink by die North Horr-oase. Hier raak dit baie warm in die somer.

By Jey Jey’s in Marsabit trek jy water uit die put in die binneplaas.
