Rek lekkerte met ‘geplukte vark’
2012-02-07 06:01
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op

Met die prys van vleis wat ’n bitter smaak in die mond laat, is dit beslis tyd om ons vleisgebruik te hersien.
Die dae van reuse-hompe vleis per persoon is dalk nou verby, maar daar is talle maniere om ’n bietjie ’n lang, lekker pad te laat rek. Dit het ek die afgelope feestyd weer besef toe ons Oujaarsaand aan “geplukte vark”-toebroodjies gesmul het.
Geplukte varkvleis is heel eenvoudig, maar dit lig weer vir my die heerlikheid uit om vleis stadig gaar te maak. Hieroor kan nog boekdele geskryf word.
Dus, wanneer jy hierdie gereg gaarmaak, gaan jy behalwe die bestanddele die volgende nodig hê om die gaarmaaktyd om te kry: ses yskoue biere, ’n gemaklike kampstoel (Greensport uit Namibië bly nog die beste), ’n goeie boek, asook ’n wekker om jou wakker te lui ingeval jy te lank insluimer.
Al wat geplukte varkvleis eintlik is, is ’n gemarineerde vark- braaistuk wat oornag in ’n speserymengsel gemarineer is en dan die grootste deel van die volgende dag stadig gaargemaak word.
Die gaar braaistuk word dan letterlik uitmekaargepluk om in fynvleis omskep te word. Dié word dan à la Amerikaans met allerlei speserye, braaisouse en asyn opgekikker.
Maar ons het mos al gewoond geraak daaraan dat hierdie klomp taamlik oorboord gaan as hulle iets doen. So ook bevat die resepte vir geplukte vark waarop ek afgekom het, heeltemal te veel geurmiddels – in so ’n mate dat die pragtige geur van die varkvleis verdwyn.
Maar terug na Oujaarsaand. Ons het ’n varkskouer van ongeveer 3 kg hiervoor gebruik.
Met die speserymengsel bygevoeg, is die gaarmaak hiervan heel eenvoudig, maar die geheim is: lank en stadig.
Die opsies hiervoor is óf in ’n kettle-braai wat jy byna heeldag gaan dokter, so ook in ’n swartpot, óf in ’n oond wat slegs tot 120 °C verhit is. Ongeag hoe jy die vleis gaar maak, draai dit goed in foelie toe vir die eerste helfte van die gaarmaakproses, en haal die foelie dan af vir die tweede helfte.
En moenie skrik nie – jou vleis moet agt uur lank aan die gang bly.
Verwyder jou vleis van die hitte en laat dit ten minste ’n halfuur rus.
Nou, met die hulp van twee vurke, pluk jy basies die braaistuk sodat die vleis uitmekaarval. As dit reg gaargemaak is, sal hierdie ’n maklik taak wees.
En nou kom die letterlike tameletjie van die sous. Soos gesê, die Amerikaners, by wie hierdie lekkerny byna ’n godsdiens is, se sous hiervoor is taamlik oorheersend, met onder meer te veel asyn. Dus het ek dit ’n bietjie afgeskaal. Soos ek dikwels sê: Begin klein en al proe-proe, totdat die geure vir jou persoonlike smaak geskik is.
Hiervoor gebruik ek een koppie appelasyn, een eetlepel Worcestersous, twee eetlepels bruinsuiker, ’n kwart teelepel elk sout en peper, ’n halfkoppie tamatiesous en, opsioneel, ’n eetlepel fyngekapte baie warm rissies.
Alles word saam in ’n pot verhit en prut 20 minute lank stadig.
Al wat nou nodig is, is vars broodrolletjies soos ciabatta of Portugese rolletjies.
Skep ’n paar lepels vol fyn varkvleis binne-in die rolletjie, en skep sous daaroor.
Tradisioneel skep onse vriende uit die noordweste ook koolslaai bo-op.
Dit is die perfekte lekkerny vir ‘n luilekker ete en dan natuurlik perfek voor die kassie wanneer die rugbyseisoen binnekort goed op dreef is.
En wanneer dit by drinkgoed kom, gaan ek nie doekies omdraai nie. In hierdie hitte is ’n glas yskoue Windhoek-tapbier net die ding.
Geniet dit!
Speserymengsel
’n Speserymengsel is gemaak deur die volgende saam te meng: 3 eetlepels elk paprika, fyn komyn en growwe swartpeper; 2 eetlepels fyngemaakte knoffel; en ‘n kwart koppie elk sout en bruinsuiker. As jy skop wil hê, voeg 1 eetlepel rissiepoeier by.
Masseer die speserymengsel baie goed oral oor die vleis en sover moontlik onder die vel ook.
Laat die braaistuk dan ten minste ‘n paar uur lank – verkieslik oornag – rus.

Lekker met geplukte vark. Moet dit net nie met die souse oordryf soos die Amerikaners nie. Foto: LISE BEYERS