Selfs groentjies kan in die Wieg ’n perd opsaal
2012-01-24 06:00
Tjaart en Amie de Wet se Croc River Trails is gevestig op ’n 80 ha-plaas naby die Wieg van die Mensdom.
Hier kan jy tussen wuiwende graslande, teen heuwels en koppies verby die blouwildebees, sebra, blesbok en waterbok ry.
Tjaart en sy 73-jarige pa, Amie, is Springbokke in perde-uithouritte.
Kyk ’n mens na Amie se “perdeklok”, sal jy sien hy het al 23 000 km mededingend gery.
Boonop is hy ’n mens met ’n diep siel vir ’n perd én enige mens wat ook van perde hou.
Of jy nou grasgroen en nog perdbevrees is en of jy nou al ’n knap ruiter is.
Sy hart klop ook sag vir kinders. “Al val jy af, jy kry nie seer nie,” het ’n jongeling eendag opgemerk nadat sy van haar perd afgeval het en Amie haar dadelik gerusgestel het.
Die sewejarige Megan Wentzel wat saam met my op die uitstappie was, het nog net een keer vantevore perd gery – én die perd het haar afgegooi.
Nou, as só ’n enetjie steeds daarvan droom om die wêreld se beste “perdryer” te word, dan verdien sy ’n tweede kans.
Met Amie.
“So jy wil ’n goeie perdryer word?” Hy vryf oor haar blonde koppie.
Sy kyk baie ernstig op na hom. “Ja.”
Sy is voor my op haar perd en is sommer klaar reg vir die wegtrek. Amie kom nader met ’n lang blou leiband, maak die een punt aan haar perd se halter vas en hou die ander punt in sy hand.
Skaars uit teen die eerste koppie vra Megan om alleen, sonder die leisel tussen hulle, te ry.
Sy kry haar sin, want Amie het haar vernuf lankal opgesom, maar hy maak seker sy en haar perd bly op sy hakke.
’n Driekwart uur later begin ek droom van ’n saal met shocks, maar Megan wil net hardloop met haar perd.
Anderhalf uur later kom ons weer by die eindpunt.
“Ek wil weer ry!”
Ek wil swig onder die kind se blou smekende oë, maar my agterstewe voel soos ’n klaskamerskryfbord.
Heeltemal volgeskryf. Met hierdie stamp, daardie stoot, dié draffie en daai galop.
Die volgende dag loop ek wydsbeen deur die mal mensemassas in ’n oorvol Cresta-winkelsentrum.
Maar dis oukei, ek loop op “groen” brandstof.
Ná Kersfees se oordaad het ons weer gaan perdry.
Daarna het die hele Gauteng weer só reg gelyk, al lê die mensespore oral.