Tradisionele kalkoen wink vir Kersfees
2011-12-06 08:46
Met Kersfees net om die draai is dit tyd om die Kers-spyskaart te beplan.
Om eerlik te wees, hiér is ek nou maar ’n ou tradisionalis. Dit kom seker van my jare as kind in Engeland, waar ons op ’n yskoue Oukersaand om ’n kreunende tafel kos gesit het.
Nou lê my jaarlikse Kers-ham rustig in geurige pekelwater, byna reg om in die skoorsteen gerook te word.
Saam met my ham wil ek ’n gebraaide, gevlinderde kalkoen voorsit.
Hiervoor gaan ek een middelslag-kalkoen van ongeveer 3 of 4 kg nodig hê.
Draai hom op sy bors en sny sy ruggraat uit met ’n sterk skêr of mes.
Wanneer jy deur is, breek sy rug sodat hy soos ’n boek oopvou.
Ek vryf hom in met 500 mF gewone jogurt en laat hom oornag daarin marineer.
Nou maak ek ’n vulsel.
Braai een opgekapte ui saam met twee preie wat in fyn ringe gesny is, in sowat drie eetlepels olyfolie.
Voeg ná ’n paar minute twee eetlepels fyngemaakte knoffel by. Wanneer alles sag is, voeg ’n halwe koppie droë witwyn by en haal van die hitte af.
Voeg dié mengsel by twee koppies vars broodkrummels, 300 g varkworsie-vleis, twee geklitste eiers, ’n koppie fetakaas wat gekrummel is, grofgemaalde peper en twee eetlepels droë salie.
Vee die jogurt af en draai jou platgemaakte kalkoen met sy velkant na bo.
Glip jou hand tussen sy vel en vleis deur om die vel van die karkas los te maak. Stop handevol van die vulsel egalig onder die vel in – oor die borsies, dye en bene.
Giet omtrent ’n kwartkoppie olyfolie oor jou gestopte voël saam met ’n eetlepel sout, en masseer die kalkoen goed daarmee.
Nou is hy reg vir die braai. Dis ideaal om hom in ’n ketelbraai gaar te maak.
Pak jou kole weerskante, en plaas ’n foeliebak tussen hulle om die vleissous op te vang. Plaas ’n koppie water daarin.
Wanneer die kole witwarm is, sit jou kalkoen in die middel van die rooster, velkant na bo, en sit die deksel op. Loer so nou en dan na hom; en indien die kalkoen se vel te vinnig bruin raak, bedek met foelie, veral die bene.
Maar as jy soos ek is en die eenvoudige braaimetode verkies, kan jy hom met baie geduld draai-draai braai.
Ná so twee uur behoort hy reg te wees. Druk ’n dun, skerp mes by die dy in om te kyk of die vloeistof helder daar uitloop.
Haal hom af en laat hom ’n halfuur lank in ’n skottel rus, toegemaak met foelie.
Gebruik die vleissappe om ’n sous te maak.
Dis dan vanjaar se Kersete, in ’n japtrap.
Geniet hom met ’n bottel Paul Cluver Pinot Noir – net die ding vir ’n feesmaal.
Geseënde Kersfees, en geniet dit!
Gesels saam op Facebook en volg Beeld op Twitter.