Trap-Net verskaf vervoer in die Suid-Kaap
2012-01-10 06:00
Magda de Beer van Springs skryf: My pa, Tom Roberts, is ’n afgetrede onderwyser wat deesdae op Sedgefield woon.
In 2009 het hy besluit om vir my twee dogters ’n driewiel te bou. Hy het toe ook met die gedagte gesit en besluit om iets te bou wat op die treinspoor kan ry, aangesien die Outeniqua Choo-Tjoe nie meer tussen George en Knysna loop nie.
Hy bou toe die spoorfiets en doop hom Trap-Net, aangesien hy op Spoornet se spore gebruik sou word. Al verskil is, sý fiets word net getrap. Vandaar die naam Trap-Net.
Dit is vet pret en glo my, mense staar met verbasing na die uitvindsel van my pa.
Die foto is egter nie die eerste een wat Pappa gebou het nie, maar al sy vyfde een. Elke keer is dit ’n verbetering op sy vorige poging.
My pa se eerste fiets het hy aan ’n inwoner van Wildernis verkoop wat die fiets gereeld gebruik.
Daar is ook een wat op Klein-Brakrivier gebruik word. Dit is die groter weergawe en hy het vier sitplekkies. Dis ’n fiets vir die hele gesin.
Die Whistle Shop in Sedgefield is ook die trotse eienaar van een van my pa se spoorfietse.
Baie vakansiegangers en oorsese toeriste het al my pa kom besoek en op Trap-Net gery.
Foto’s is daar al baie geneem en videomateriaal op YouTube gesit.
Glo my, hy het nog nie opgehou bou nie. Hy is tans besig met een vir die kleinkinders.