Vis het dié somer flink gebyt by Struisbaai
2012-01-10 06:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Die afgelope Desember was baie goed vir al die hengelaars – rots en strand, sowel as die bootmanne – hier by ons in Struisbaai, skryf Stefano Schoonees.
Ons het heerlik gebaljaar onder kleiner geelsterte op spinners, jigs en vere op Blougansie en die Twaalfmylbank.
’n Paar nuwelinge het die geleentheid gehad om kragte met die kragtige vegters te meet.
Groot geelsterte wat op die jigs in die diep water van die Alphards gevang is, het gesorg vir baie sweet vir die manne met die groter bote wat die ver togte aangepak het.
Boothengelaars het ook baie mooi bodemvis, soos rooi steenbras, romanne en kabeljoue, ingebring.
Dit was lekker om te sien dat die vissermanne kan glimlag ná ’n dag op die water as die bote die hawe inkom en die vakansiegangers so saamdrom om te kyk wat alles uitkom.
Van die kant af is daar ook skitterende vangste gemaak met pragtige kabeljoue, gesogte leervisse en hardekwas mosselkrakers wat op gereelde grondslag geland is.
Die elwe het so elke nou en dan hulle verskyning gemaak en gesorg vir baie pret.
Groot gevegte het op Struisbaai se plaat plaasgevind met skeurtandhaaie en pylsterte wat baie lekker gebyt het.
Mooi sloephaaie en kleiner bronshaaie het bygedra tot die opwinding en die jong hengelaars moes party dae bontstaan met indrukwekkende sandhaaie wat gulsig gebyt het.
Die eerste skole geelvintuna is al opgemerk en ons verwag ’n opwindende Januarie.
- Vir meer inligting oor waar wat byt, kan Buite-lesers my in Struisbaai skakel by 028 435 6479 of 071 238 1000.
- Stuur e-pos na info@overberganling.co.za.
- Sien ook die webtuiste www.overbergangling.co.za.