Hý’t Brakenjan gebring
2011-07-08 23:56
Lesers maak wetenskapfiksie soms af as gemors, maar selfs Shakespeare en Nabokov het sulke verhale geskryf, sê Tom Learmont, wie se jongste roman in dié genre geskryf is. KIRBY VAN DER MERWE het met hom gesels oor hoe hy kuise onderwysers laat bloos en SAUK-kykers byna geflous het.
Twaalfuur. Tom Learmont sit by die kroegtoonbank van die Radium Beer Hall in Orange Grove in Johannesburg. Hy gesels met die eienaar, Manny Cabeleira. Manny is opgepluk: Tom het vir hom ’n eksemplaar van sy jongste boek, Light Across Time, gegee en hy het Manny en die Radium by sy roman ingeskryf. ’n Volgende manuskrip van Tom heet selfs Radium Tales.
Tom woon in die Johannesburgse voorstad Illovo, maar dié eetplek in Orange Grove langs die besige Louis Botha-laan is een van sy uithangplekke.
“Doodgewone ouens kom drink hier ’n bier, maar nou en dan sit hier ’n bekende gesig soos Bob Geldoff of Richard Branson of – soos jare gelede in die negentigs op ’n triestige wintersaand – Cyril Ramaphosa en Helena Dolny, toe die enigste ander siele by ’n tafel hier oorkant,” sê Tom, ’n gesoute joernalis.
“Dis een van die enigste oorblywende outentieke drink-en-eetplekke uit die dae toe klante sommer in die saagsels op die vloer kon spuug...Tydens die 1922-rebellie van mynwerkers hier aan die Rand, het ’n kwaai aktivis, ene Pickhandle Mary, die stakende mynwerkers met haar piksteel in die hand daar van die kroegtoonbank af in toesprake aangemoedig.”
’n Kelner staan nader en Tom bestel ’n lang glas bier. “I am in the springtime of my senescence,” haal hy Gore Vidal aan, so asof hy my gedagtes lees en die vraag vooruitloop wat ek nie sou vra nie. Hoewel Tom al sedert sy tienerjare skryf, is Light Across Time dalk sy groot kans as skrywer – en dit op 72.
Sy boek steek grense tussen genres oor, staan op die stofomslag. Ook: “Light Across Time is fassinerende wetenskapfiksie, met ’n invloed van Nabokov. Die roman speel af in Londen, Johannesburg, die Vrystaat, en die verre, verre verlede.”
“Die boek is eintlik ’n liefdesverhaal tussen Alan Stevens, ’n eks-Rhodesiër wat sy vrou en kinders in ’n motorongeluk verloor het, en Melanie Austin, ’n geskeide jong vrou van Harri-smith in die Vrystaat,” sê Tom.
Tom beskryf Melanie as “a green-eyed blonde with polished shoulders.” Melanie en Alan woon en werk as joernaliste in Londen, maar bevind hulle in Suid-Afrika – hy om ’n artikel vir ’n casino-tydskrif te skryf, en sy in opdrag van die geelpers-koerant waar sy werk.
“Sy ondersoek ’n storie oor ’n boeremeisie wat een donker nag deur wesens uit die buitenste ruimte ontvoer is op die pad tussen Pretoria en Coligny,” sê Tom ondeund. “Daar word vermoed dat hulle ginekologies met haar gepeuter het. Maar die meisie het daarin geslaag om ’n lens van een van die wesens se oë af te krap. Sy onthou dit maande later. Sy is in besit van die lens, wat lyk soos een helfte van ’n Ray-Ban-sonbril wat oor jou oog pas en daar vasklou sonder gom.”
Hy vryf die denkbeeldige lens teen sy winterbaadjie: “Jy vryf die rante van die lens en jy plak dit op jou oog en dit sit.
“Alan en Melanie ontmoet ’n grys, ouer man met ’n eienaardige kristalring aan sy vinger. Dié kêrel, Elemer Urban, is vol interessante en verregaande staaltjies, soos dat hy in staat is om op tydreise te gaan.
“En siniese joernaliste wat hulle is, byt hulle langtand aan sy stories. Maar soos joernaliste maar is, kan hulle hulself nie keer om in sy wêreld ingesuig te word nie, al dink hulle hy’s net ’n kansvatter en ’n bedrieër.
“Elemer hou vol die X-kristalle op sy eienaardige ring het te doen met sy tydreise. Hy stel hulle voor ’n uitdaging, ’n raaisel. Hulle val daarvoor. Hulle wil dit ontrafel, hoofsaaklik om hom as ’n twakprater te ontmasker.”
Tom sit terug. “Meer as dit kan ek nie vertel sonder om te veel te verklap nie.”
Hy grawe ingedagte in sy baadjiesak en gee ’n plastiek- houertjie aan. “Dis ’n presentjie.”
Die presentjie is ’n andalusite-kristal, een van die sogenaamde X-kristalle wat hy in sy boek beskryf.
“My eerste wetenskapfiksie- storie het ek op 15 vir die Prince Edward School in Salisbury (in die destydse Rhodesië) se blaadjie geskryf. In 1954,” sê Tom. “Dit was ’n storie oor ’n ruimtewese van die planeet Ysprot wat op Aarde verlore geraak het en terug huis toe verlang.”
Hy gee ’n laggie. “En ek is daai tyd deur die onderwysers gesensor...,” hy verander sy stem na dié van ’n streng onderwyser, “want ek het geskryf: ‘He was lonely and longing for the company of his two mates, Quasi-male and Para-female. All Ysprotian life is tri-sexual.’ Die f*****s het dit uitgesny. Tri-sexual was te erg vir 1954.”
Maar aan die anderkant, sê hy, is hy “gebore op die regte plek op die regte tyd”.
“Ek het grootgeword in wat nou bekend staan as die ‘goue eeu van wetenskapfiksie’,” sê hy. “Díe tydperk, 1938-1950, is begin deur John W. Campbell jr., redakteur van die tydskrif Astounding. Hy het verhale en romans deur skrywers soos Isaac Asimov, Arthur C. Clarke en Robert Heinlein gepubliseer.
“Hy het weggedoen met die ou pulp-fiksie-stories van die 1920’s, en die cowboy-uitrusting en rewolwer is vervang met ’n ruimtepak en ’n straalgeweer.
“Vir my veertiende verjaarsdag is ek deur my ouma ingeteken op die tydskrif Galaxy. Nou, van die beste wetenskapfiksie-verhale en -artikels het in Galaxy verskyn. Ek het van die bekendste boeke soos dié van Isaac Asimov in hoofstukke in dié tydskrif gelees.
“Maar die skrywer Theodore Sturgeon was my gunsteling. Ek het hom selfs in Frans gelees. In daardie boeke moes jou fisika en chemie in die kol wees, anders het lesers gekla. As jy sê ’n planeet is peervormig, moes jy ‘wetenskaplik gefundeerde’ redes gee waarom dit daardie vorm het.
“Dít het nou plek gemaak vir ander ontwikkelinge in dié genre soos New Wave, Cyberpunk en Steampunk, tot die feministiese aanslag in die werk van skrywers soos Ursula Leguin. Ek dink Zoo City van die jong Suid-Afrikaanse
skrywer Lauren Beukes is ’n voorbeeld van African New Weird.
“Jou gemiddelde leser maak wetenskapfiksie af as gemors wat geskryf is deur tieners.
“Maar selfs Shakespeare en Nabokov het wetenskapfiksie geskryf. Jules Verne en H.G. Wells het wetenskapfiksie natuurlik vervolmaak. Wetenskapfiksie leen homself tot satire. ’n Goeie voorbeeld is enigiets deur Kurt Vonnegut, hoewel sy werk in ’n genre op hul eie is.”
En Shakespeare? Hoe kry hy die kloutjie by die oor?
“A,” sê hy, “The Tempest. Dis ’n storie oor ’n ander wêreld wat op ons eie betrekking het. Die wetenskapfiksie-rolprent The Forbidden Planet van 1956 is op The Tempest gegrond.”
Manny kom ruil kwinkslae in Portugees uit met Tom. Tom is ’n ou wat sonder om twee keer te dink na ’n hele paar tale kan oorslaan, en sy Afrikaans is besonder goed vir ’n gebore Skot en oud-Rhodesiër.
“Jy moet onthou, ek was vir baie jare ’n oorklankingsvervaardiger by die SAUK,” sê hy.
En die Frans, Spaans, Italiaans, Shona, Nederlands wat hy praat?
“Ek het Frans op skool geneem en ek was ’n Frans-onderwyser. Ag, nadat ek studeer het, het ek vakansies in die Belgiese Kongo deurgebring. Ek het vir ’n kort ruk in Spanje gewoon en ’n paar maande in Suid-Amerika rondgehang en ’n bietjie Spaans opgetel.
“En jy weet, as jy ’n bietjie Spaans kan praat, kon jy hier in Orange Grove....” hy slaan oor na ’n Italiaanse aksent, “ ’n dop kom drink en kom scopa speel”.
Orange Grove het tot sowat 20 jaar gelede bekend gestaan as “Little Italy” omdat baie Italiaanse immigrante hulle in die jare vyftig hier kom vestig het. Tom wys na die prente agter hom teen die muur: “Die mans het elke dag hier kom scopa speel. Hulle het huis toe gegaan om te gaan eet, en dan was hulle terug om port te kom drink. Hulle het die kaarte hier agter die prentrame weggesteek as dit nodig was.
Dan onthou hy van die res van my vraag: “Ag, jy weet, Nederlands is soos Afrikaans.”
Tom se pa het in 1952 besluit om uit die dorpie Mauchline in Skotland na die destydse Rhodesië te emigreer. “Ek dink hy het ’n midlife crisis gehad. Hy het as bakker vir sy pa gewerk, en was die vierdegeslag-bakker. Hy het sak en pak met my ma en ons vier kinders én my ma se twee tantes in Salisbury aangekom en ’n bakkery begin.”
Tom lag as hy terugdink aan sy eerste dag by sy nuwe skool. “Op dertien kan dinge gruwelik verkeerd loop. Verbeel jou: My ma stuur my skool toe in ’n paar pommie f****n sandale.” Hy slaan oor na ’n Skotse aksent: “You know those awful sandals the pommies wear with socks? Boonop kom ek daar aan met dié snaakse aksent. Now you tell me a better definition of hell than that?”
Maar hy het uiteindelik sonder te veel moeite by die skool ingeskakel. Hy was immers nog altyd ’n baie sosiale mens, sê Tom. “Ek het byvoorbeeld dadelik by ’n fietsryklub aangesluit.”
Tom het sy belangstelling in fietsry behou, en selfs later ’n boek oor fietsry, Cycling in South Africa (1990), gepubliseer.
Hy was 12 jaar lank ’n Frans-onderwyser. “Nie omdat ek daarvoor in die wieg gelê is nie, maar in watter ander beroep kry jy soveel betaalde vakansiedae? Dit het my en my eerste vrou, Sally, in staat gestel om lang tye te gaan vakansie hou. In Spanje het ons in die platteland gaan woon en elke dag drieuur paella geëet. In Madrid het ons gewoon in ’n huis waar prostitute kamers per uur kon huur.”
Hy het sy vrou aan kanker verloor en is later weer getroud. Hy is egter al die afgelope 20 jaar ’n toegewyde alleenloper, spot hy.
“Ek reis elke jaar via Londen na New York om by my kinders en kleinkinders te gaan kuier.”
Die onderwys was te veilig vir ’n onrustige siel soos hy. “Ek het ’n tikmasjien aangeskaf en as vryskut-fotojoernalis begin werk. Oor die jare het ek my hand aan kreatiewe goed gewaag, ek het draaiboeke geskryf en dramas vir die televisie vertaal. Ek het as joernalis gewerk by dagblaaie en tydskrifte, en was van tea-boy tot subredakteur tot herskrywer.”
Hy is deesdae ’n subredakteur by die koerant Sunday Sun.
Maar Tom is veral bekend as die oorklankingsvervaardiger wat die Spaanse reeks Dartacan y los Tres Mosqueperros in Afrikaans vertaal het – dit het die gewilde Brakenjan geword. Dit was ook hy wat die Duitse televisiereeks Derrick, met Horst Tappert as die baasspeurder, in Afrikaans vertaal het.
“Brakenjan was ’n reuse-sukses met byna dieselfde plaaslike kykergetalle as Dallas. Brakenjan is saans sesuur uitgesaai, en Dallas om halfnege.”
Die kreatiewe skryfgier was tóé reeds daar, spot hy oor sy dae as oorklankingsvervaardiger.
“Iemand het oorsee gegaan en ’n klomp dokumentêre programme aangekoop. Een was van ’n Duitse televisiespan se besoek aan die Komodo-eilande in Indonesië om die reuse-akkedis te gaan verfilm. Die program was oor hoeveel kratte margarien hulle saamgevat het en hoeveel lense vir hul Leica-kameras. Al daai soort nonsens.
“Wat maak ek toe? Ek het die ding heeltemal oorgeskryf, en ek kry toe vir Nic de Jager as die stemkunstenaar.
“Voordat ons begin, vra ek vir Nic: ‘Het jy King Kong gesien?’
“Nic sê ja.
“Ek vra: ‘Onthou jy die toneel waar die Amerikaners die eerste keer die muur sien en waar die een ou vra: ‘What’s behind that wall?’ En die ander ou sê: ‘I don’t know what’s behind that wall, but this I do know, the natives built that wall to keep something out.’
“Ek vra vir Nic: ‘Het jy dit?’
“Toe begin hy in sy donker stem, met byklanke soos swaar donderweer en ’n beangste hartklop: ‘Oos van Java lê daar ’n warboel eilande, ’n nagmerrie vir die navigator....’ Staan terug! skree die leier toe die Duitsers die eerste keer ’n Komodo-draak gewaar...’
“ ’n Meesterstuk. Net jammer die ding is nooit uitgesaai nie.”