6 dekades as 'n simbool

2012-02-03 22:41

Vir tjailatyd op ’n Vrydagmiddag was dit ’n ongewone stilte wat gedaal het oor die pub in die skadu van St. Paul’s. Die klank van die televisiestel in een hoek is harder gemaak, en een van die herkenbaarste gesigte in Brittanje het die skerm gevul – die gesig wat ook munte, banknote en posseëls in die koninkryk versier.

Maar koningin Elizabeth II se regstreekse uitsending was nie in majesteit nie – sy was onder beleg. Dit was 5 September 1997, en Diana, die prinses van Wallis, wat ses dae tevore in ’n motorongeluk in Parys oorlede is, sou die volgende oggend begrawe word.

Selde in haar heerskappy – wat oormôre 60 jaar gelede begin het – het die koningin so kwesbaar gelyk: Die land van die stywe bolip het daardie week sy bewende onderlip ontdek, en die gevolg was ’n beroering teen die hartelose paleis wat die prinses van harte na haar graf gedryf het.

En tog het die pub stil geword toe sy sê: “What I say to you now, as your Queen and as a grand-mother, I say from my heart ...”
Met terugskoue was daardie uitsending ’n keerpunt in die Diana-sage, die oomblik toe die gety van openbare vyandigheid teen die Windsors begin eb het. Maar die hoof van die gesin moes diep tap uit die put van welwillendheid wat sy oor dekades opgebou het; daar is geen ander koninklike wat dit sou kon vermag nie.

Tog moes Elizabeth II nooit eens koningin gewees het nie: dit was een van die monargie se grootste krisisse – die abdikasie van haar oom Edward VIII, toe hy met die geskeide Wallis Simpson wou trou – wat haar in 1936 verhef het van mindere prinses. Edward is opgevolg deur sy broer George VI – prinses Elizabeth se pa – en sy was skielik die troonopvolger.

Terwyl George VI se gesondheid ná die oorlog gekwyn het, het prinses Elizabeth toenemend vir hom ingestaan in die uitvoering van sy ampspligte. Dus was sy en haar man, prins Philip, in Kenia as deel van ’n ampsbesoek aan die Statebond toe hulle op 6?Februarie 1952 die nuus ontvang het dat George VI oorlede is en dat sy koningin geword het.

Hulle is inderhaas terug na Londen, waar die destydse premier, Winston Churchill, en ministers haar ingewag het.

Die omvang van die veranderinge in Brittanje tydens Elizabeth II se bewind staan miskien nêrens strakker afgeteken nie as in die kontras tussen die ontroerende beeldmateriaal van haar aankoms in Londen as nuwe koningin en daardie latere week in September 1997.

Die beeldmateriaal van 1952 toon ’n jong, amper brose, vrou – sy was nog nie 26 nie – wat krapsgewys van versigtigheid teen die vliegtuigtrap afstap. Aan die voet van die trap, met hul rûe na die kamera, wag haar kabinet – in gelid in swart onder pluiskeile – gelei deur die logge figuur van die eerste minister. Daar is iets van die ontfermende vaderfiguur aan Churchill, maar sy is sy koningin en hy haar onderdaan.

Die eg Britse ontsag wat spreek uit hierdie toneel is die element wat sou kwyn om plek te maak vir daardie emosionele opstuwing van 1997. Só lank was haar regeertyd en só grondig die maatskaplike veranderinge in Brittanje dat dit haas onmoontlik is om ’n mens daardie protokol en proklamasies van troonbestyging vir ’n 21ste-eeuse monarg te probeer voorstel.

Churchill was die eerste van haar 12 eerste ministers – ná hom sou kom Eden, Macmillan, Douglas-Home, Wilson, Heath, Callaghan, Thatcher, Major, Blair, Brown en Cameron.

Met haar troonbestyging het die Britse Ryk steeds om die aardbol gestrek (alleen sy Indiese besittings het vier jaar tevore hul onafhanklikheid verwerf), maar binne twee dekades daarna het feitlik al die eertydse kolonies onafhanklik geword.

Die monarg wat toegesien het hoe haar ryk kolonie vir kolonie wegkalwe, sou regdeur haar bewind waarde heg aan die losse verband wat dit vervang het, die Statebond.

Telkens wanneer ’n lidstaat uit dié organisasie geskop is oor die een of ander vergryp – soos Suid-Afrika in 1961 – was daar sprake van Elizabeth II se persoonlike leedwese oor die onmin.

Wat ook al die struwelinge in die staatkundige “familie” waarvan sy die hoof is, was dit die beproewings van haar eie familie wat die donkerste skadu oor die era van EIIR gewerp het.

In teenstelling met die standhoudendheid van haar huwelik met Philip – hulle het hul diamanthuweliksherdenking in 2007 gevier – het drie van haar vier kinders se huwelike in egskeiding geëindig.

In die geval van Charles – as troonopvolger – was dit problematies, gegewe die formele posisie van die Britse monarg as “verdediger van die geloof” en titulêre hoof van die Kerk van Engeland, wat nie egskeiding en hertroue erken nie.
Die verbrokkeling van Charles se huwelik met Diana het die indruk gewek van ’n gevoellose koningshuis uit die pas met die moderne Brittanje waaroor hy in naam heers.

Terselfdertyd het die koningin se ander kinders en hul gades vir ’n stroom verleenthede vir die koningshuis gesorg.

Dit was asof die “kontrak” tussen heerser en onderdaan, op grond waarvan laasgenoemde die monargie met sy soms verspotte vertoon verdra, aan die wegkalwe was.

Die een uitsondering was deurgaans Haar Majesteit self: hoe meer haar nageslag se kaskenades Elizabeth II laat bloos het, hoe opmerkliker was die onwrikbaarheid van haar eie pligsbesef en toewyding aan haar lewensroeping.

Die wese van haar bewindstyd was ’n gestanddoening van daardie belofte wat sy op haar 21ste verjaardag in ’n uitsending vanuit Kaapstad aan die Statebond gemaak het: “I declare before you all that my whole life, whether it be long or short, shall be devoted to your service and the service of our great imperial family to which we all belong.”

Daardie roeping het egter nie ingesluit dat sy haar hart op haar mou moes dra nie: sy is immers van die generasie vroue wat hul geliefdes in uniform afgesien het sonder om hulle van die front te sien terugkeer. Dit was juis die gereserveerdheid van haar klas en haar generasie wat in daardie onstuimige dae ná die motorongeluk in Parys die indruk van afstandelikheid gewek het.

Vir ’n figuur wat reeds ses dekades alomteenwoordig in die Britse openbare oog is, is dit dus merkwaardig hoe min ’n mens eintlik weet van wat Elizabeth II dink. Daar wás oomblikke toe sy ’n vlietende blik gebied het op wat agter die fasade afspeel, maar selfs hierdie “ontboesemings” is deur dekorum gekenmerk.

Dink maar aan die toespraak in Desember 1992 toe sy daardie jaar – toe die Windsor-kasteel brandskade gely het en Charles en Diana geskei is – haar annus horribilis genoem het.

Haar diskresie strek ook tot by haar betrokkenheid by die politiek en haar verhouding met haar eerste ministers. Die 19de-eeuse grondwetkenner Walter Bagehot het die rol van die Britse konstitusionele monarg opgesom as “the right to be consulted, the right to en­cou­rage and the right to warn”; dit was implisiet in sy formulering dat die monarg dié regte in vertroulikheid moet uitoefen.

In haar weeklikse privaat gesprekke met haar eerste ministers is Elizabeth II dus geraadpleeg in wedersydse vertroue – die inhoud van daardie gesprekke het nog nooit uitgelek nie – en was sy ’n bron van advies en ervaring (twee van haar eerste ministers is gebore nadat sy die troon bestyg het) en ’n beliggaming van konstante Britse waardes in ’n epog van omwenteling – die verlies van die ryk, die sosiale/seksuele revolusie van die 1960’s, die kreeftegang van die 1970’s, die Koue Oorlog, die Europese Unie, die Thatcher-jare, oorloë van Suez en die Falkland-eilande tot Irak en Afganistan.

Dit is oorbekend dat drie van Brittanje se grootste vorste vroue was – Elizabeth I (1559-1603), Victoria (1837-1901) en Elizabeth II. Al drie het koningin geword ten spyte van die opvolgingsreël wat bepaal dat ’n jonger seun se aanspraak op die troon dié van sy ouer suster troef.
 
Miskien is dit dan geen wonder nie dat die Britse en Statebondsregerings begin het met stappe om die reël te wysig, sodat ’n eersgebore dogter van William en Catherine haar pa sal opvolg, ongeag of ’n jonger seun later gebore word.
Deur die kombinasie van haar posisie en haar nougesette toewyding aan Brittanje en die simboliese rol van die koningshuis het Elizabeth II ’n sonderlinge verteenwoordiger – selfs verpersoonliking – van Brittanje geword.

Elke najaar is daar ’n klein maar betekenisvolle herinnering hieraan, wanneer sy haar land se hulde aan sy oorlogsgevallenes lei. Wanneer die 85-jarige vir die kranslegging by die senotaaf in Whitehall in eerbiedige swart na vore tree om haar krans te lê, is daar ’n tasbare sin dat dit Brittanje sélf is wat hulde bring aan sy “glorious dead”, dat sy as verenigende figuur verhewe staan bo die demokratiese verdeling wat die politici rondom haar verteenwoordig.

Die wyse waarop sy woordeloos die woordvoerder kan wees waardeur haar koninkryk die meer troebel dele van sy geskiedenis aanpak, was ooglopend met haar besoek aan die republiek Ierland verlede jaar – die eerste deur ’n Britse monarg sedert Ierse onafhanklikheid. Haar blote teenwoordigheid was ’n kragtiger boetedoening as enige retoriek.

In daardie opsig is Elizabeth II die monargie se grootste bate: Haar aanhang en die lojaliteit wat sy inspireer, is veel meer as dié van die instelling. Die koningin is méér as die koningsgesin en die praal van die paleis; dit gaan om haar persoon.
Op ’n groter doek was haar persoonlike statuur as monarg dikwels ’n faktor in Australië se periodieke debatte en referenda oor republiekwording. Maar ’n implisiete – en soms eksplisiete – sentiment in plekke soos Australië en Nieu-Seeland is dat die era van die monargie in daardie lande saam met Elizabeth II tot ’n einde moet kom. Ná haar sal die monargie anders lyk.

’n Mens sou selfs kon sê haar gewildheid het die kwesbaarheid van haar instelling – die Huis van Windsor en die monargie self – versluier. Ongeag watter argumente ten gunste van die monargie ingebring kan word, bly die idee van ’n oorerflike staatshoof ’n anachronisme in die 21ste eeu, om nie te praat van besware oor die koste van die monargie terwyl die koninkryk sy grootste ekonomiese krisis in 80 jaar beleef nie.

Daardie beginsel van erfopvolging in Brittanje se hoogste raadsale is reeds grotendeels uit die hoërhuis, die House of Lords, verwyder. Dit laat die vraag ontstaan hoe dieselfde gediskrediteerde beginsel die grondslag kan vorm waarop die staatshoof aangewys word. Die monargie, so lui dié denkrigting, is ’n onregverdigbare verlengstuk van Brittanje se geskiedenis van klasseverdeling en -ongelykheid. Dit verteenwoordig waardes wat verouderd is, en die belasting- betaler moet opdok vir ’n elitistiese instelling wat ’n geringe rol in sy lewe speel.

Sulke vrae is miskien gedemp in die aangesig van ’n gewilde monarg soos Elizabeth II, maar dit klink al hoe luider by die gedagte aan koning Charles. Dit kan dus wees dat Elizabeth II se bewind die pleister was waaronder die kreeftegang van die monargie verberg is.

Vanjaar se diamantjubileum is die eerste sedert dié van koningin Victoria in 1897, ’n jingoïstiese viering wat in vele opsigte die laaste hoera van die Empaaier op sy pronkerigste was. Twee jaar later sou die Anglo-Boereoorlog uitbreek, en die daaropvolgende halfeeu was in vele opsigte ’n uitgerekte aftog vir die Ryk. Daardie jubileum was dus ’n soort hoogwatermerk voordat die gety gedraai het, maar dié wat meegedoen het, het dit nie besef nie.

Miskien sal die jubileum van 2012 ook met die voordeel van terugskoue blyk ’n mylpaal te wees – miskien sal die monargie ná Elizabeth II ’n gans ander koers inslaan.

Binne Beeld

Weer
Lotto
Ksd: 14-20°C Scattered clouds. Mild. Pta: 7-21°C Sunny. Refreshingly cool.
Jhb: 4-18°C Sunny. Cool. Bfn: 3-19°C Sunny. Refreshingly cool.
Dbn: 16-26°C Sunny. Mild. PE: 15-25°C Sunny. Warm.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Short term personal lines telesales consultant

Fourways, Sandton, South Africa
Omega HR Solutions
R96000 - R144000

Financial Controller

Durban, South Africa
Touchstone Recruitment (Pty) Ltd
Market Related

Communications Consultant (IT)

Durban, South Africa
Touchstone Recruitment (Pty) Ltd
R360

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

OPEL

Corsa 1.4 Sport Utility MY04 PU
2008
R 99,900.00

TOYOTA

Corolla 140i MY05
2006
R 104,990.00

AUDI

A3 2.0 FSi Attraction Tiptronic 3-dr
2007
R 207,000.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Chobe Marina Lodge

Spend 2 nights on the banks of the banks of the Chobe river at Chobe Marina Lodge from R6717 per person sharing. Includes return flights, taxes, transfers and accommodation. Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Avengers nou beskikbaar

Marvel Avengers-aksiekarakters nou beskikbaar vanaf R189,95. Koop dit nou.

Toshiba-tabletrekenaar AT-100

Bespaar R1 000 op dié fantastiese tabletrekenaar. Nou slegs R2 999,95. Koop dit nou.

Massiewe speletjie-uitverkoping

Kry tot 65% afslag op speletjies. Alle voorraad moet verkoop word. Terwyl voorraad hou. Koop dit nou.

Meng & Pas

Meng en pas twee albums vir die prys vir R149. Nuwe albums het so pas ingekom. Koop dit nou.

Moet-lees-boeke vir tieners

Die gewildste boeke vir tieners en jong volwassenes. Hunger Games, The Flappers & meer. Koop dit nou.

Aanbod van die week

PS3 speletjies vanaf R149.95

Plus PS2 en PSP speletjies vanaf R99.95. Slegs terwyl voorraad hou. Koop nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...
Daar is vars stories op ons tuisblad. Kliek hier om hulle te lees.