Bloed ís dikker as water – en ja, ook as politiek

2011-06-18 06:00

Bram en sy ma staan agter in die middel op hierdie kiekie uit 1929. Foto: Vrystaatse argief

Foto's   ·   Lesersfoto’s   ·   Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

In Suid-Afrika se geskiedenis was daar gebeure wat families, vriende en kollegas uitmekaar geskeur het weens hul politieke sien- inge wat geen ruimte gelaat het vir dié van ander nie, hoe naby die bloed ook al geloop het.

Dink maar aan die Anglo-Boereoorlog en sy joiners; later die Rebellie van 1914, waartydens die oorlog se Boereleiers die rug op mekaar gekeer het. En dan was daar die Natte en die Sappe, en die dae toe die ondersteuners van die Nasionale Party en dié van die Suid-Afrikaanse Party, later die Verenigde Party, nie gehuiwer het om mekaar te lyf te gaan by openbare vergaderings nie.

Dit is dus amper ondenkbaar dat venynige skeuringe nie ook sou opduik in gesinne waar sowel nasionalistiese as kommunistiese strewes gebloei het nie. Maar dan is daar die verhaal van die Fischer-gesin van Bloemfontein, waaruit die ikoniese struggle-held adv. Bram Fischer sou stam...

Dié verhaal skets ’n uitsonderlike prentjie van verdraagsaamheid en liefde tussen Fischer en sy ma, Ella, ondanks hul uiteen-lopende politieke oortuigings.

Ella, ’n nooi Fichardt van Duits/Engelse afkoms, is in 1884 gebore en was deur geboorte en haar latere huwelik bestem om in die voorste kringe van haar gemeenskap te leef. Haar familie was Afrikanergesind en deel van die room van Bloemfontein.

Ella, ’n kort vrou met blonde hare en blou oë, is later getroud met ’n Afrikaner-advokaat en latere Vrystaatse regter-president, Percy Fischer, en sý republikeinsgesinde familie is ook deur sommige as Vrystaatse aristokrasie beskou.

Die talentvolle Ella het haar leierseienskappe ingespan om Afrikanerbelange te bevorder en diens te verrig in die kulturele, sosiale en maatskaplike sfeer van haar gemeenskap.

Sy het noodlenigingswerk gedoen tydens die Anglo-Boereoorlog en die Rebellie van 1914, en was betrokke by die President Steyn-gedenkfonds. Met die verskyning van haar roman Die Loutering van Petrus in 1939, het sy ook as skrywer ontluik.

Uit Ella en Percy se huwelik in 1907, is Abram (Bram), ’n jaar later op 23 April 1908 gebore. Die band tussen Ella en Bram was van die begin besonder heg, en sy het sy kostelikhede noukeurig in dagboeke aangeteken. Hierin het sy onder meer geskryf hoe Bram ontevrede sou wees dat sy ma “alleen” is wanneer Ella soms in rus en vrede gelaat wou word of ’n boek wou lees.

Op 14 Desember 1912 skryf Ella in haar dagboek: “Bram haunts my footsteps like a little ghost. I don’t know what is in the little fellow’s mind, but he is constantly at my side – kissing my hands or laying his little face against my gown.” Hy was toe drie en ’n half jaar oud.

Wanneer Ella siek of ongesteld was, was die mannetjie deurentyd aan haar sy met drukkies en idees om haar op te beur, het sy in haar dagboek geskryf. Op Ella se vraag hoeveel Bram haar liefhet, sou die seuntjie antwoord: Soveel soos God my mammie liefhet.

Volgens Ella se dagboeke het Bram hartseer geword wanneer sy hom van haar oorlede ma sou vertel, en het sy hom eenmaal huilend en met ’n hartjie wat “clop clop” in die bed gekry nadat hy gehoor het arm kinders wat nie kos het nie, het naby hulle ingetrek.

“He is such a queer sensitive affectionate little chap,” het sy geskryf.

Toe Bram op 18 Desember 1931 as 22-jarige Rhodes-beurshouer per skip die tog na Engeland aanpak vir sy regstudies aan die Universiteit van Oxford, het Ella met ’n swaar hart van haar seun afskeid geneem. Hoekom die Bybel ’n ophef maak van kinders wat met pyn in die wêreld gebring word, maar niks meld van die pyn om hulle te sien vertrek nie, het haar verstand te bowe gegaan, het sy in ’n brief aan Bram geskryf.

Kort ná sy aankoms op Oxford, het Bram sy knie in ’n rugby- wedstryd beseer, en Ella was rasend van bekommernis. Sy het haar seun in ’n brief vermaan om nie enige kwak toe te laat om na die knie om te sien nie, maar die familietradisie gestand te doen en die beste raad te kry. “I’ll pay for it,” het sy laat weet.

Op 9 Maart 1932 het Ella in ’n brief geskryf: “Thank you for writing so fully about your knee, yet no matter how fully you write there is always more I want to know.”

Sy ma se geneul oor sy welstand het Bram in ’n stadium aan sy ouers laat skryf: “Health: latest bulletin: Excellent, colour too good to pass as Englishman...For the Lord’s sake, don’t worry about my knee...I’m taking every care.”

Ella het nie ’n geheim daarvan gemaak dat sy haar doodverlang in die stortvloed briewe aan haar seun nie, maar sy het haar oudste nooit laat skuldig voel dat hy sy ma verlaat het nie. Trouens, sy het Bram aangemoedig om so lank as moontlik oorsee te vertoef, want dit was ’n geleentheid wat hom nie gou weer sou voordoen nie.

Ella het Bram selfs laat weet dat sy ondanks sy afwesigheid amper nader aan hom voel, omdat hulle sulke lekker geselsbriewe aan mekaar geskryf het. Tog het sy op 17 Mei 1932 geskryf: “Make your letters just a little more personal. Tell me how you are, & how things & people strike you & what you’re thinking, as well as what you’re doing.”

Bram sou eers ná sy terugkeer huis toe ’n ware kommunis word, maar hy het reeds op Oxford met dié ideologie te doen gekry.
Hy het Rusland in 1932 as Oxford-student besoek, en was beïndruk met die sosialisme. Op 6 Julie 1932 skryf sy ma juis aan hom: “My dear old son... bless you dear – if you’ve not been blown up, or sent to Siberia, you must be having a wonderfully, engross- ingly, interesting time.”

Ná sy terugkeer in 1934 en sy vestiging as advokaat in Johannesburg in 1935, het Bram ’n lid geword van die Kommunistiese Party van Suid-Afrika (KPSA) omdat hy dít beskou het as die enigste party waar wit en swart vrylik kon meng en kon saam werk om apartheid omver te werp. Hy sou ook later ’n leiers­figuur word in die verbode Suid- Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP), soos die party sedert 1953 bekend gestaan het nadat dit in 1950 deur die regering as ’n verbode organisasie verklaar is.

Bram het sy linkse sentimente aan sy ouers laat deurskemer en hy en Molly, met wie hy in 1937 getroud is, sou hul progressiewe idees gereeld met sy ouers bespreek. Ella en Percy was egter waarskynlik nie bewus van die strekking van hul seun se betrokkenheid by die politiek nie.

As besorgde ouers moes die godsdienstige Ella en Percy (Bram het ook ’n goeie verhouding met sy pa gehad) met hulle nasionalistiese sentimente ’n “ontstellende” gedaanteverwisseling in hul seun gewaar: hy het verander van ’n nasionalis na ’n kommunis; van iemand uit ’n Christelike agtergrond na ’n ateïs.

Tog het hulle hul daarin berus. In ’n onderhoud met die tydskrif Sarie Marais in 1953, het Ella te kenne gegee ouers het nie die reg om hul sienings op hul kinders af te dwing nie.

Ondanks Bram se kommunistiese ingesteldheid, iets wat in daardie dae deur die Afrikaner-gemeenskap verafsku is, het die nasionalistiese Ella haar seun deurgaans ondersteun en lief gehad, en die gesin se paaie het nooit geskei nie.

Vir Ella was die behoud van familiebande belangrik, en dit moes teen elke prys gekoester word. Sy het gesorg dat haar kinders se ouerhuis – ’n liefdevolle huis waar mensliewendheid en beskaafdheid belangrike waardes was – vir hulle ’n toevlugsoord sou bly.

Dit het haar eindelose genot verskaf om haar kinders te bederf. Toe sy “dear old folks” eenmaal met ’n verjaarsdag drie geskenke aan hom gee, het Bram hulle speels vermaan die demokratiese manier is één geskenk vir één verjaarsdag.

(Ella en Percy het graag ruim gedeel – met ’n tjek wat hulle op Kersfees 1939 vir Bram gegee het, kon hy vir ’n vakansie betaal, sy ou motor vir ’n nuwe verruil, en ’n grassnyer en voorhekkie vir sy huis koop. Wanneer Ella in Johannesburg by Bram en Molly sou gaan kuier, het sy haar seun ook bederf en met haar vertrek whisky in die huis weggesteek of dit ná haar vertrek daar laat aflewer.)

Bram en Molly het sy ouers altyd hartlik by hul huis in Beaumontstraat in Johannesburg ontvang en aangedring op gereelde besoeke. Wit en swart het hier vrylik gemeng. Ofskoon Ella nie ’n rassis was nie, was sy waarskynlik nie hieraan gewoond nie – advokaat Fischer kon haar egter waarskynlik gerusstel almal is “kliënte”.

Bram het sy ouers op hoogte gehou toe hy oudpres. Nelson Mandela en ander verdedig het tydens die Hoogverraadsverhoor van 1956-1961, en ook tydens die Rivonia-verhoor van 1963, toe hy die hoof was van die regspan wat Mandela, Walter Sisulu en ander in die hof verdedig het. Dit was deels te danke aan hom dat hulle gevonnis is tot lewenslange tronkstraf eerder as om die doodstraf te kry.

Bram was allerweë bekend vir sy ideaal van ’n nie-rassige Suid- Afrika, maar dit is te betwyfel of Ella en Percy geweet het hoe direk hy by die struggle betrokke was. Ironies genoeg, het Ella haar seun in 1960 ietwat ergerlik versoek om nie inligting van haar te weerhou nie nadat hy in ’n motorongeluk was, maar vir sy ma gesê het ’n krap op sy gesig is deur ’n boomtak veroorsaak om- dat hy haar nie wou ontstel nie.

Ná Percy se dood, het Ella alleen op die plaas Diepwater buite Bloemfontein agtergebly. In die laaste jare voor haar dood in die ouderdom van 80 op 7 Maart 1964, was sy steeds ’n kloekende moeder wat haar seun se vergete pajamas agter hom sou aanstuur en bekommerd sou meld sy wonder wat hy teen slaaptyd op die trein gedra het.

Ella was waarskynlik ook bekommerd dat haar geliefde seun en skoondogter se betrokkenheid by die struggle hulle in die moeilikheid sou bring.

Tragedie sou inderdaad volg. Molly is ’n paar maande ná Ella se dood op 13 Junie 1964 in ’n motorongeluk oorlede, en Bram is kort daarna, in September 1964, in hegtenis geneem weens sy betrokkenheid by die SAKP.

Toe hy borgtog toegestaan word, het hy ondergronds gegaan, maar hy is in 1965 weer aangekeer en van onder meer sabotasie aangekla. Hy is in die daaropvolgende jaar op 9 Mei 1966 tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

Ella het nie die openbaarmaking van Bram se “ondergrondse aktiwiteite” in die hof beleef nie, ook nie sy verguising deur konserwatiewe Afrikaners nie.

Sy is die wete van sy stryd teen kanker in die tronk gespaar, en ook sy dood op 8 Mei 1975.

Selfs in die konserwatiewe wit Afrikaanse gemeenskap van Bloemfontein, het agting vir Ella nie gedaal toe haar geliefde eersteling se politieke strewes bekendgemaak is nie.

En jare ná sý dood, is ook Bram vereer – as ’n ikoon van die stryd om vryheid en geregtigheid.

  • Hannes Haasbroek se boek ’n Seun soos Bram – ’n Portret van Bram Fischeren sy ma Ella verskyn volgende week by Umuzi-uitgewers.
 

Binne Beeld

Weer
Lotto
Ksd: 14-20°C Scattered clouds. Mild. Pta: 7-21°C Sunny. Refreshingly cool.
Jhb: 4-18°C Sunny. Cool. Bfn: 3-19°C Sunny. Refreshingly cool.
Dbn: 16-26°C Sunny. Mild. PE: 15-25°C Sunny. Warm.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

OPEL

Corsa 1.4 Sport Utility MY04 PU
2008
R 99,900.00

TOYOTA

Corolla 140i MY05
2006
R 104,990.00

AUDI

A3 2.0 FSi Attraction Tiptronic 3-dr
2007
R 207,000.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Chobe Marina Lodge

Spend 2 nights on the banks of the banks of the Chobe river at Chobe Marina Lodge from R6717 per person sharing. Includes return flights, taxes, transfers and accommodation. Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Avengers nou beskikbaar

Marvel Avengers-aksiekarakters nou beskikbaar vanaf R189,95. Koop dit nou.

Toshiba-tabletrekenaar AT-100

Bespaar R1 000 op dié fantastiese tabletrekenaar. Nou slegs R2 999,95. Koop dit nou.

Massiewe speletjie-uitverkoping

Kry tot 65% afslag op speletjies. Alle voorraad moet verkoop word. Terwyl voorraad hou. Koop dit nou.

Meng & Pas

Meng en pas twee albums vir die prys vir R149. Nuwe albums het so pas ingekom. Koop dit nou.

Moet-lees-boeke vir tieners

Die gewildste boeke vir tieners en jong volwassenes. Hunger Games, The Flappers & meer. Koop dit nou.

Aanbod van die week

PS3 speletjies vanaf R149.95

Plus PS2 en PSP speletjies vanaf R99.95. Slegs terwyl voorraad hou. Koop nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...
Daar is vars stories op ons tuisblad. Kliek hier om hulle te lees.