Johannesburg

Saterdag

More sun than clouds. Cool.

4°C
17°C

7 day forecasts

Briewe uit die suide

2010-02-20 02:00

Grafika: Hanlie Malan

Foto's   ·   Lesersfoto’s   ·   Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Hierdie artikel is ’n uittreksel uit Kroniek oor ’n sterwende lewensorde, ’n manuskrip in wording. HERMANN GILIOMEE het dit oorspronklik verlede week geskryf as e-pos-boodskappe aan sy dogter, Adrienne, in Londen. 

LIEWE ADRIENNE,

VRYDAG 12 FEBRUARIE

Ons het Vrydagaand ’n wonderlike ervaring gehad.

In November verlede jaar was ek in kontak met Athol Fugard in die VSA oor sy woorde op die voorblad van die tweede uitgawe van my boek The Afrikaners , wat pas verskyn het.

Hy nooi ons toe uit na die opening van die nuwe Fugard-teater, ’n ou pakhuis op die rand van die ou Distrik Ses wat in ’n teater omskep is.

’n Groep swart sangers, musikante en akteurs uit Kaapstad se townships, in 2006 deur Eric Abraham bymekaar gebring, en nou bekend as die Isango Portobello-groep, het Mozart se opera Die Towerfluit uitgevoer.

Altesaam 35 sangers en trom- en marimbaspelers het deelgeneem, wat die hele opera in die Afrika-ritme aangebied het (met af en toe ’n Afrikaanse woord soos “pasop” ingegooi).

As Fugard se gaste het ons ringside seats gehad – langs hom in die heel voorste ry. Dis ’n eer, maar veral goed vir hardhorendes.

Die opvoering was magies. Dit was in ’n Afrikaritme en was heeltyd bruisend en uitbundig. Ek het vir Athol gesê: “Dit laat my so bly en trots voel soos laas met die wen van die Wêreldbeker-rugbytoernooi se eindstryd in 1995.”

Volgens Fugard het hulle gloeiende resensies in stede soos Londen (die Olivier-toekenning), Parys en Tokio gekry.

Fugard bly die laaste twintig jaar vir die grootste deel van die jaar aan die ooskus van die VSA.

Hy sê dis so lekker om in Kaapstad te wees en die mense Afrikaans te hoor praat en die ongelooflike spektrum van gesigte en gelaatsuitdrukkings te sien.

Uit ’n vorige gesprek weet ek sy ma was ’n nooi Potgieter en dat hy op Middelburg in die Oos-Kaap grootgeword het (sy pa was ’n spoorwegwerker en het op die plaas Knoffelkloof in die distrik grootgeword).

Ek vra toe vir hom hoe voel dit om weer Afrikaans te hoor. Sy antwoord: “Dis soos om jou moeder weer te soen.”

Hy vertel hy het homself nog altyd as ’n “Baster-Afrikaner” beskryf.

Ek het aan hom gesê net soos met J.M. Coetzee se werk, voel ek sy werke aan as skeppings wat in ’n belangrike mate wortel in die Afrikaanse leefwêreld en in die Afrikaners se worsteling met hul moeilike geskiedenis – ook gewortel in hul brandende, hartseer en hopelose liefde vir hul land.

Jan Rabie het glo een keer aan Fugard gesê: “Jy het jou werke in Afrikaans vertaal nog voordat jy hulle geskryf het.” Hy beskryf homself as “iemand met ’n baie skuldige Protestantse gewete” – baie Afrikaans.

Coetzee skryf oor Voëlfontein in die distrik Merweville in die Karoo: “It is not conceivable that another person could love the farm as he does.” (Boyhood, p. 80.)

Ek wil nog aan Fugard vertel dat toe ek Coetzee met die Nobel-prys gelukgewens het, ek hom gevra het of hy homself ook as ’n Afrikaner beskou. Hy het geantwoord dat hy homself “as ’n twyfelagtige Afrikaner miskien” beskou.

Fugard sê hy voel hy is dit aan sy ma verskuldig om nog ’n toneelstuk in Afrikaans te skryf voordat hy ophou. Die tydskrif Time het hom beskryf as “die belangrikste lewende toneelskrywer”.

Willemien Brümmer het ’n wonderlike onderhoud met hom gevoer wat in Die Burger van 26 Mei 2006 gepubliseer is.

Hy sê in dié onderhoud met verwysing na die feit dat hy al amper twintig jaar in die VSA woon dat hy ’n streekskrywer is en net “die kode van een tyd en plek (veral die Oos-Kaap) ken”.

Hy vertel: “Ek kan op ’n straathoek staan hier in Nieu-Bethesda of in my ou Port Elizabeth. Ek kan kyk en ek kan ’n geloofwaardige scenario aanmekaar slaan vir die ou swart vrou wat haar kaalvoet haas om betyds te wees vir die laaste bus, vir die sakeman wat in sy BMW verbyry.

Ek ken nie die kode vir Amerika nie. Ek het op straathoeke gestaan in Los Angeles, op straathoeke in San Diego. Ek weet f*kk*l van hierdie wêreld waaruit hulle kom en waarheen hulle op pad is.”

By Fugard is daar dieselfde drang wat Karel Schoeman een keer teenoor my verwoord het: om op te teken ten einde te bewaar.

’n Wêreld, ’n beskawing, ’n lewensorde is besig om onder te gaan, uit te rafel, te disintegreer. Al wat ons kan doen, is om op te teken sodat ten minste die vertelling as iets tasbaars kan oorleef.

Schoeman skryf in Verliesfontein: “Wie nie die verlede onthou nie, is gedoem om dit te herlewe, het Santanya gesê.

Is dit wat ek probeer uitdruk? Of is dit die Bourbons aan wie ek dink wat uit ballingskap teruggekeer het sonder dat hulle iets geleer of iets vergeet het? Moontlik albei, knielend voor die bloekomplantasie op Fouriesfontein.”

By Fugard is daar die element van ook iets positiefs put uit die verlede. Hy merk in die onderhoud van 2006 op: “Die ou Suid-Afrika was nie net ’n donnerse woestyn van mense wat mekaar gehaat het nie. Daar was belangrike stories uit daardie wêreld ... Ons moet nie net die baba met die badwater uitgooi nie. Ons moet seker maak ons bewaar die stories uit die verlede.”

Op 11 Maart word The Train Driver, ’n nuwe toneelstuk van Fugard in die Fugard-teater opgevoer. Dit gaan oor ’n vrou in Khayelitsha wat drie jaar gelede haarself en haar baba voor die trein gewerp het.

Hy vertel dit uit die oogpunt van die masjinis. Hy sê vir my hy beskou dit as sy beste toneelstuk ooit. Ons bespreek toe die vraag of ’n mens jouself opnuut kwesbaar maak as jy werk die wêreld instuur wat jy self dink jou beste werk is.

Ons besluit toe: “Nee, ons begeer nie ‘tenure’ nie; ons skryf omdat jy die manuskrip uit jou gestel moet kry.”

SATERDAG 13 FEBRUARIE

Sewentigste verjaardag van Philip Myburgh op Joostenberg. Sewende of agste geslag van dieselfde Myburgh-familie op die plaas.

Die eenvoudige bolgewel met die datum 1756 is die oudste gewel wat bewaar gebly het. Die Bolandse beskawing op sy beste.

Hy en sy kinders het ’n groot winkel, slaghuis en kwekery opgerig waar die ou Heilsleër-hostel was op die pad tussen Stellenbosch en die N1.

Hy het 132 mense in diens en begin nou redelike wins maak, maar ploeg omtrent alles terug. Dit lyk of daar ’n totale verbintenis van die uitgebreide gesin tot die onderneming is.

Vir Philip was dit nog altyd ’n maatskaplike onderneming wat werk verskaf eerder as ’n sake-onderneming. Hy was van ons studentejare af idealisties en vasberade.

Philip se ma was Engels en sy vrou is Engels (maar sy praat goeie en korrekte Afrikaans).

In al die toesprake saam is seker nie meer as 5% Afrikaans gepraat nie. Maar omdat daar so ’n egte menslikheid en Suid-Afrikaansheid is, hinder die Engels op die historiese plaas nie.

Tyrrel, my peetkind, maak ’n Joostenbergwyn met die naam Bakermat. ’n Bakermat is die plek voor die stoof in die kombuis waar die slawevroedvrou haar meesteres se kinders gesoog het.

Philip vertel ’n verhaal van disintegrasie in die Muldersvlei-streek – rofweg die middelste deel van die landbougebied tussen Durbanville en Paarl.

Net 25% van die boere wat tevore daar was bly oor en daar’s net 15% van die produksie van dertig, veertig jaar gelede. Vir die meeste boere het die insetkoste (trekkers, ploeë en brandstof) te hoog geword.

Skape word op groot skaal gesteel en melkboerdery is net lonend met meer as 600 koeie.

Wingerd en wyn is net lonend bo ’n sekere skaal. County Fair met sy vertikale integrasie wis alle klein ondernemings uit wat met hoenders wil boer. Meer as die helfte van die plase staan onder nuttelose gras wat omtrent elke somer afbrand.

In die plakkerskampe groei die aantal honger mense daagliks. Philip sê hy ervaar vir die eerste keer die gevoel van “swamping”.

Ek het die week met ’n baie gerekende regter gekorrespondeer. Dit lyk of hy hoop verloor het oor die Grondwet, veral wat so iets soos taalregte betref. Hy sê enigiets kan deesdae in terme van die Grondwet geregverdig word.

Hy beskryf baie goed die motivering van die Universiteit Stellenbosch (US) se Regsfakulteit wat nou na die T-opsie (Afrikaans en Engels in een klas sonder enige taalvaardigheidsvereistes) wil oorslaan. (Ek het die motivering aan hom gestuur.)

Volgens die regter word die hele dokument gekenmerk deur “gerieflikheid en gedienstigheid”.

Vir die regsfakulteit se dosente gaan dit eintlik om wit Engelssprekendes te akkommodeer, wie se getalle veel vinniger as dié van bruin of swart studente gestyg het. Die dosente wil klaarblyklik nie langer vir hierdie studente sê hulle moet Afrikaans leer nie.

In die Taalkomitee van die US, waarin ek dien, het ek die regsfakulteit se skuif as “taalverraad” bestempel. Groot ontsteltenis.
Dis die weifelende wil van Afrikaners in die hoër inkomstegroepe wat deurslaggewend is.

Prof. Jonathan Jansen van die Universiteit van die Vrystaat praat in sy boek Institutional dishonesty van ’n universiteit oor sy taalbeleid terwyl dit op pad is na ’n beleid van Engels-medium.

Die US-taalbeleid, soos dit nou in die meeste fakulteite uitgevoer word, is ’n nekslag vir Afrikaans as openbare taal, skryftaal, toneeltaal. O ja, daar is wonderlike regverdigings en rasionalisasies.

Maar die kern is die weifelende wil van baie akademici en die bereidwilligheid om ’n akademiese en kulturele erfenis van minstens negentig jaar weg te smyt.

Stellenbosch se vasklou aan die bedenklike T-opsie (meer as die helfte van die totaal is nou in hierdie modus) is van die skandaligste episodes in sy geskiedenis – amper soos die omarming van apartheid in die 1960’s: Mense weet dis verkeerd, maar vanweë “gerieflikheid en gedienstigheid” kan hulle dit nie laat los nie.

Natuurlik moet ’n mens die mark in ag neem. Die helfte van die bruin kinders gaan deesdae in Engels skool.

Die gr.?12-uitslag van die twee bruin Afrikaanssprekende skole op Stellenbosch (ten spyte van moedertaalonderrig) is swakker as dié van die swart skool.

Die krisis in bruin onderwys en sosiale patologie in die gemeenskap is klaarblyklik veel erger as wat enigiemand vermoed.

In Age of Iron skryf Coetzee: “Life in SA is like being on board a sinking ship. It is a land only loved in the bloom time of its youth.”

Ek verskil: Dit is juis die agteruitgang wat voor jou ontvou wat jou die land en veral hierdie streek meer intens laat liefhê, en die hoop dat die agteruitgang omgekeer kan word wat jou laat voortgaan.

LIEFDE,
HERMANN

Hermann Giliomee is ’n skrywer en historikus.

 

binne beeld

Weer
Verkeer
Lotto
Ksd: 13-18°C Sunny. Mild. Pta: 6-20°C Mostly sunny. Cool.
Jhb: 4-17°C More sun than clouds. Cool. Bfn: 5-19°C Sunny. Refreshingly cool.
Dbn: 14-25°C Sunny. Mild. PE: 15-25°C Sunny. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

ELECTRICAL ENGINEERING MANAGER

Gauteng,Western Cape - Cape Town
Hire Resolve

Application Engineer

Gauteng,KwaZulu Natal,Western Cape - Cape Town
Hire Resolve

Mechanical Project Engineer

Gauteng,KwaZulu Natal - Durban,Western Cape - Cape Town
Hire Resolve

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

VOLKSWAGEN

CitiGolf 1.4i CitiSport AB 5-dr
2009
R 83,900.00

VOLKSWAGEN

Golf 5 2.0 GTi DSG 5-dr
2006
R 208,659.00

ISUZU

KB300 DTEQ D-Cab LX Dsl PU MY07
2009
R 301,715.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

KALK BAY

House R 13 000 000

MOSTERTSDRIFT

House R 16 000 000

SCHOONGEZICHT

House R 1 900 000

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Gratis Speletjies - TE VEEL NUUS? Neem ‘n blaaskans

Kalahari.net - doen vandag jou inkopies aanlyn

Lae pryse op Boeke!

Miljoene titels om van te kies. Spaar nou tot 40%!

DVD's vir R129.95 Elk

Kry al die topverkopers en nuwe vrystellings vanaf R129.95 nou! 100e DVD's om van te kies.

Koop jou UNISA & Akademiese Teksboeke & WEN Groot

Koop enige teksboek van kalahari.net en 50 gelukkige lesers sal 'n R100-koopbewys elke dag van Maandag die 19de tot Saterdag 31 Julie wen.

Vuurwarm Musiekvrystellings

Kry jou gunstelingalbum van die musiekwinkel. Lae pryse op ALLE albums.

Tot 20% af op Elektronika

Besoek die Elektroniese winkel vir die nuutste produkte en toebehore. Fantastiese aanbiedings op handelsnaam-produkte.

Vandag se beste aanbod!

Tot 40% Af op Sagtebande

Miljoene Titels

Maak gebruik van dié fantastiese geleentheid & koop wonderlike nuwe uitreikings & ou gunstelinge.

iPods, Wii, toebehore, sonbrille, horlosies & meer by www.kalahari.net!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...