Caliban se eilandbiblioteek
2012-02-03 22:41
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Ek wou nog altyd oor boeke skryf – oor hul invloed, hul vermoë om aan die verbeelding vrye teuels te gee, hul spel met woorde, die manier waarop ’n teks ook in die werklikheid kan uitspeel.
Dié woorde van Mario Vargas Llosa het my bygebly:
“Like living human beings, novels grow, and often age and die. Those that survive change skin and being, like snakes and caterpillars that turn into butterflies. These novels say different things to new generations, very often things that the author never thought of expressing.”
En toe besoek ek Sonny Venkatrathnam, wat tydens apartheid op Robbeneiland aangehou is, in Durban en hy plaas ’n gehawende eksemplaar van The Complete Works of Shakespeare in my hande. Toe ek dié boek sien, het ek besef: dis dít, die oomblik het aangebreek.
Sonny se eksemplaar van Shakespeare se Complete Works het sy weg in die jare sewentig na Robbeneiland gevind nadat die gevangenes die tronkowerheid versoek het om dié boek aan hulle te stuur. Maar dit is kort daarna gekonfiskeer.
Die geluksgodin was egter aan Sonny se kant, en iets het gebeur wat gesorg het dat hy die boek kon terugkry en dit kon hou.
“Een Sondagoggend het ’n bewaarder vir my gesê: ‘Die kerk is hier,’?” vertel Sonny. “Ek vra toe: ‘Kerk, watter kerk?’ En hy sê: ‘Die Anglikaanse kerk.’ Ek sê toe vir hom ek is Anglikaans, maar ek het my Bybel in die pakkamer vergeet. Oukei, sê hy, en hy sluit die pakkamer oop. En ek vat toe my boek: The Complete Works of Shakespeare.
“Die probleem was hoe om dit weg te steek, want daar was niks?.?.?. Die kamer was kaal, en ons het nie eens kaste gehad nie – niks.”
Maar toe maak hy ’n plan. “Dit was Divali, en my ouers het vir my kaartjies gestuur. Ek vat toe die kaartjies, sny die prentjies uit en plak dit voor op die boek. Ons het pap gebruik as gom. Die boek lyk steeds so.”
Terwyl Sonny gevange gehou is, het hy die boek met sy mede-gevangenes gedeel en dit ook gestuur aan die gevangenes wat in enkelselle aangehou is. Hy het elkeen gevra om ’n sin of paragraaf wat tot hom spreek, te kies en dit te onderteken.
Die afdelings in sy boek is dus onderteken deur helde van die struggle: Nelson Mandela, Walter Sisulu, Govan Mbeki, Neville Alexander, Ahmed Kathrada, Strini Moodley en verskeie ander.
Die deel wat Mandela gekies en onderteken het, is uit Julius Caesar, die gedeelte waar Caesar reageer nadat sy vrou, Calpurnia, by hom gepleit het om nie na die senaat te gaan nie:
Caesar: Cowards die many times before their deaths:
The valiant never taste of death but once.
Of all the wonders that I yet have heard,
It seems to be most strange that men should fear;
Seeing that death, a necessary end,
will come, when it will come.
Anders as die meeste van die struggle-leiers wat in enkelselle aangehou is, het Govan Mbeki ’n gedeelte uit Twelfth Night gekies: “If music be the food of love play on, Give me excess of it?.?.?.”
Musiek was klaarblyklik een van Mbeki se groot liefdes. Hy het juis vertel hoe graag hy gereël het aan “konserte vir verjaarsdae of vir die einde van die jaar, en ons sou by die vensters sit en liedjies sing of gedigte voordra”.
Toe ek deur die paragrawe gaan wat deur elke gevangene gekies is, het dit my op ’n reis geneem. Ek het Shakespeare weer gelees en daarna probeer kyk deur die oë van mans wat die beste jare van hul lewe in die tronk moes deurbring.
Wat was dit aan Shakespeare wat so tot dié vryheidsvegters gespreek het?
Shakespeare is al sedert 1964 op die eiland gelees, en sy werk het deur die dekades daarna vertroosting gebring vir die gevangenes wat in dié haatlike omgewing aangehou is.
Een van die hoofredes waarom sy werk so gewild was, is dat die gevangenes dit gelees het in die konteks van die struggle. Waar Shakespeare dikwels as Eurosentries beskou word, het die gevangenes dit – weliswaar nie noodwendig bewustelik nie – herinterpreteer binne die politieke konteks van die tyd, waarvan dit ook vir hulle ’n weerspieëling was.
Toe Kwedi Mkalipi, wat 20?jaar op Robbeneiland deurgebring het, byvoorbeeld gevra is watter reël uit Shakespeare hy die beste uit daardie jare onthou, het hy Lady Macbeth onmiddellik aangehaal: “All the perfumes of Arabia will not sweeten this little hand.”
Vir Mkalipi was die apartheids- leiers se pogings om die werklikheid soet te smeer met tuislande en die belofte om veterane vroeg vry te laat indien hulle geweld afsweer, nie genoeg nie.
Shakespeare se historiese toneelstukke was ook gewild omdat dit die vloeibaarheid van mag aan die lig gebring het: “O, gentlemen, the time of life is short! ... And if we live, we live to tread on kings” (Henry IV, I).
Ek het opnuut bewus geword van die skoonheid van Shakespeare se werk en van die krag van sy woorde. Soos Carlos Fuentes dit gestel het:
“Shakespeare grabbed words by the ass and made them shriek and bitch, showing us the range of verbal expression cannot be constrained by the constipated or famished genres of literature. The savage, lyrical and tragic abundance of William Shakespeare continues to be the greatest evidence to support the conviction that ironclad rules have no place in literature.”
Studie en letterkunde het ’n nuwe wêreld laat oopgaan vir almal wat lang tye uit die samelewing verwyder is.
Party vryheidsvegters was “ongeletterd” toe hulle op Robbeneiland aangekom het, maar het daar leer lees en skryf: sand en leiklip uit die klipgroef het gesorg vir iets waarmee hulle die alfabet kon oefen, en so het hulle geleer om hul eerste briewe te skryf.
Sommige gevangenes het tot laatnag – en in aflos – boeke met die langhand oorgeskryf omdat die geleende eksemplare na veraf biblioteke teruggestuur moes word voordat hulle dit klaar sou kon lees.
Boeke is dikwels na die eiland gesmokkel, maar daar was ook ’n biblioteek waar die gevangenes kon lees en studeer. Gevangenes het vindingryke maniere gevind om die leerproses aan te help: potlode is in kleiner stukke gebreek en gedeel, sementsakke is omskep in boekies waarop mense die alfabet kon oefen.
Hoewel die afdeling met enkelselle afgesper was, kon dié gevangenes met behulp van letterkunde deur muur en draad met mekaar kommunikeer. Deur dieselfde boeke te lees, kon hulle dieselfde gedagtes vorm, dieselfde goed ervaar.
Die tronkbewaarders wou inligting van gevangenes weerhou en hul intellek verhonger. Maar dit het die gevangenes net desperater vir kennis gemaak, en hulle het die bewaarders en die stelsel uiteindelik hierin getart en uitoorlê.
Buiten Shakespeare en marxistiese literatuur was ook ander boeke gewild: John Steinbeck se The Grapes of Wrath, Jack London se The Call of the Wild, Isaac Deutscher se trilogie oor die Bolsjewiste-leier Leon Trotski, sowel as Dickens, Tolstoi en Dostojewski.
Klassieke Europese letterkunde is dus verorber en herinterpreteer deur mense wat ’n samelewing wou verander, maar van die wêreld afgesny was. Met letterkunde soos Shakespeare se Caesar en The Tempest, waarin Caliban deur Prospero tot slawerny gedwing word, kon dié gevangenes verder sin maak van ’n wêreld waarin hulle om vryheid moes veg.
Hulle was vyande van die staat, maar het die letterkunde waarop dié sosiale stelsel sy aanspraak op meerderwaardigheid gegrond het, gebruik om hulself te onderhou.
Dit is ’n verhaal wat waarsku: Die boodskap aan despote is dat onderdrukking nie ’n idee (of Caliban) kan ondermyn wanneer sy tyd aangebreek het nie. “Niks is so magtig soos ’n idee waarvan die tyd aangebreek het nie,” soos Victor Hugo gesê het.
Maar dit geld nie net die verlede nie – dit geld ook die tyd wanneer Caliban beheer verkry. Daar word juis minder aanklank by The Tempest gevind sedert dit begin blyk het dat vele van die struggle se beloftes vals was. Soos Rob Nixon dit gestel het:
“The Tempest’s value for African and Caribbean intellectuals faded as the plot ran out. The play lacks a sixth act.”
In die tyd van neokolonialisme gedra vele voormalige Calibans hulle skielik soos Prospero’s. Wat verklap die rekord van Suid-Afrika se Calibans noudat hulle aan die bewind is? Hoe kan ons sorg dat ons van ons eie Caesars ontslae raak, en die rou ambisie weerstaan van die hekse en towenaars wat op eie bodem double, double toil and trouble, fire burn and cauldron bubble?
- Ashwin Desai se boek Reading Revolution – Shakespeare on Robben Island het pas by Unisa verskyn.
