‘Columbus’ ontdek die Kosmos – en wat sou volg
2011-04-16 06:00
Vandeesweek presies ’n halfeeu gelede het die mensdom een van sy grootste tegnologiese deur-brake nog gemaak: Die mens kon vir die eerste keer van sy aard- gebonde bestaan ontsnap en die ruimte betree.
Op 12 April 1961 het die Russiese vlieënier Joeri Aleksejewitsj Gagarin die eerste mens geword wat die swaartekrag kon oorkom en ’n ruimtevaarder kon word. In sy ruimtetuig, Wostok 1, het hy in ’n ruimtereis van 83 minute een keer om die aarde gereis.
Wostok?1 se kruisspoed was 27?400 km/h en die hoogste punt van sy wentelbaan 327?km bo die aarde se oppervlakte.
Tydens sy omwentelingsreis het Gagarin geen beheer oor sy ruimtetuig gehad nie. Wostok I se terugkeer na die aarde is beheer deur ’n aardegegronde rekenaar – primitief vergeleke met vandag se persoonlike rekenaars – wat radioseine na Wostok gestuur het om dit te kontroleer. Hoewel die kontroles in die tuig nie gebruik is nie, was daar ’n sleutel in ’n verseëlde koevert aan boord wat Gagarin in geval van ’n noodsituasie sou kon gebruik om hand- beheer van Wostok oor te neem. Dit was gelukkig nie nodig nie.
Soos beplan is ruimtevaarder Gagarin uit die terugkerende ruimtetuig geskiet nadat Wostok die aarde se atmosfeer ná sy eerste en enigste omwenteling weer binnegedring het. Gagarin het veilig met sy valskerm geland.
Ofskoon hy net ’n passiewe passasier aan boord van Wostok 1 was, was hierdie kortstondige ruimtereis een van die hoogtepunte van die mens se ontdekking van sy omgewing – en die ruimte daarbuite.
Gagarin is as ’n nasionale held in die Sowjetunie vereer – onder meer met die Held van die Sowjetunie-eerbewys – en die kosmiese opleidingsentrum buite Moskou is na hom genoem. Hy het ook die internasionale kalklig betree en Italië, Duitsland, Kanada, Japan, Finland en die Verenigde Koninkryk besoek. Hy is telkemale vereer.
Daar is dikwels na Gagarin verwys as die “Columbus van die Kosmos”. Hy is enkele jare later, op 27 Maart 1968, in ’n vliegtuigongeluk dood toe sy MiG-15 opleidingsvegvliegtuig by Kirzhagh naby Moskou neergestort het tydens ’n oefenvlug vir ’n tweede ruimtemissie. Die as van sy oorskot is in die Kremlin-muur toegemessel.
Die Russiese prestasie om die eerste menslike ruimtereis te onderneem het die Amerikaners getroef en onkant gevang. Dit was ’n herhaling van die gebeure drie en ’n half jaar tevore toe die Russe Spoetnik 1 op 4 Oktober 1957 gelanseer het en daarmee die eerste mensgemaakte voorwerp in ’n wentelbaan om die aarde geplaas het.
Die Amerikaners kon eers vier maande later – en met rooi gesigte – reageer toe hulle hul Explorer 1-satelliet suksesvol op 31 Januarie 1958 gelanseer het. Nasa is onder meer gestig om die Amerikaanse ruimtepoging stukrag te gee.
Nogtans het die Russe nog ’n eerste prestasie in die ruimte behaal toe hulle Spoetnik 2 op 3 November 1957 gelanseer het vir ’n eenrigtingreis – aan boord was die eerste lewende wese in die ruimte, die hond Laika. Laika was die eerste slagoffer van die ruimtebedryf toe sy aan boord van haar kapsule dood is ná drie omwentelinge van die aarde. Die omstandighede waaronder sy dood is, het diereliefhebbers oor die wêreld heen ontstel.
***
Sedertdien het die mens op die maan geland en verkenning- satelliete na nabygeleë planete en selfs die diepruimte gestuur.
Geostasionêre satelliete voorsien internasionale kommunikasiekanale en uitsaaidienste. GPS-satelliete voorsien posisioneringsinligting aan sowel mens as voer-, vaar- en vliegtuie. Observasiesatelliete verken die aarde vir sowel weerstelsels as operasionele aktiwiteite en spioeneer ook op militêre operasies. Die Hubble- teleskoop verken die diepruimte sonder om deur die aarde se atmosferiese versteurings gesteur te word.
Etlike lande, waaronder Suid-Afrika, het sedertdien tot die ruimtebedryf toegetree – laas- genoemde in die kleine met die lansering van die Sunsat-satelliet in 2000 en die Sumbandilasat- satelliet in 2010.
Dat die ruimtebedryf ongekende ontwikkeling op tegnologiese gebied tot gevolg gehad en gestimuleer het, is ongetwyfeld waar. Die mensdom het al onein- dig baat gevind by die toepassing van ruimte-geïnspireerde navorsing vir burgerlike doeleindes.
Elkeen van ons deel in die voordele van hierdie tegnologie in ons alledaagse lewe. Voorbeelde van moderne tegnologiese produkte en tegnieke wat spruit uit navorsing wat aanvanklik vir die ruimtebedryf onderneem is, sluit in: gevorderde elektroniese toerusting (waaronder geoposisioneringstelsels en kommunikasiedienste), babavoedsel, water- suiweringstelsels, atletiekskoene (wat ontwerp is om op die maan te loop), fotovoltaïese stelsels om sonenergie doeltreffend in elektrisiteit te omskep, telemetriestelsels, stralingsisolasie, digitale beeldverwerking (wat onder meer gebruik word om te help met die opsporing van kanker), laser-angioplastie (wat tydens operasies in hospitaal- teaters gebruik word), robot- stelsels, energie-stoorstelsels en vlerkontwerp vir spuitvliegtuie.
Nogtans ontstaan die vraag: Waarom moet die mens miljarde dollars aan die ruimtebedryf bestee? Hierdie geld sou tog aangewend kon word om die lewensgehalte op aarde te verbeter en armoede te beveg?
***
Dit is ’n legitieme vraag. Ongelukkig word mense nie bewus gemaak van die enorme bydrae wat navorsing vir die ruimte- bedryf gemaak het tot die verbetering van ons lewensgehalte, die ekonomie, nywerhede, produktiwiteit en lewenstyl nie. Kollektief lewer hierdie afwentelvoordele ’n substansiële rendement op die wêreldwye besteding aan die ruimtebedryf. Sonder die stimulus van die ruimtebedryf sou die mensdom nog spreekwoordelik in die tegnologiese middeleeue geleef het.
Hierdie kwelvraag was die onderwerp van die hoofreferaat wat tydens die vyftigste herdenking van die stigting van Nasa op 15 April 2008 deur prof. Stephen Hawking gelewer is.
Dié vraag is aan hom gestel: “Hoekom moet ons al daardie pogings en miljarde dollar bestee om ’n paar brokke maanrots te bekom?”
Hawking het geantwoord: “Om uit te reik na die ruimte sal die toekoms van die mensdom ingrypend verander en waar-skynlik bepaal of ons hoegenaamd enige toekoms het.”
“Dit sal nie enige van ons onmiddellike probleme op die planeet aarde oplos nie, maar dit sal ons ’n nuwe perspektief daarop gee en ons dwing om sowel na binne as na buite te kyk. Dit is ’n langtermyn-strategie, wat honderde en selfs duisende jare sal duur. Ons kan oor 30 jaar ’n basis op die maan oprig, Mars oor 50 jaar bereik en die mane van die buiteplanete oor 200 jaar verken,” het hy gesê.
“Daar is diegene wat sal redeneer ons moet liefs die geld aanwend om die probleme van ons planeet op te los, soos klimaatsverandering en besoedeling, eerder as om geld te verkwis op ’n moontlik vrugtelose soektog na ’n nuwe planeet. Ek betwyfel nie die belangrikheid om klimaatsverandering en aardverhitting te beveg nie, maar ons kan dit doen en nog steeds ’n kwart-persent van die wêreld se BNP vir ruimtenavorsing opsy sit. Is die mensdom se toekoms nie meer as ’n kwartpersent werd nie?”
Ons aardgebonde woning is tydelik. Die mens sal die een of ander tyd – duisende of miljoene jaar in die toekoms – elders in die groot uitspansel ’n nuwe woonplek moet soek. Daar word steeds gedroom van ’n maanbasis teen 2020 en om ’n man teen 2025 op Mars te laat land.
Die eerste ruimtereis van 50 jaar gelede was die eerste tree om die ruimte vir die mensdom oop te maak – byna soos Columbus die Nuwe Wêreld ontdek en oopgemaak het. In die verre toekoms sal Gagarin se epiese reis as een van die grootste gebeurtenisse in die geskiedenis van die mensdom erken word.
** Christo Viljoen is ’n afgetrede ingenieur en direkteur van die satellietmaatskappy Sunspace in Stellenbosch.