Die derde oog

2009-09-18 22:49

Grafika: Hanlie Malan

Foto's   ·   Lesersfoto’s   ·   Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Die vervaardiger van ‘n interna-sionaal bekroonde dokumentêre fliek oor die psigiese wêreld wat tans hier te sien is, woon toe al die tyd in Suid-Afrika. Renée Scheltema en Riette Rust, self psigies, deel persoonlike ervaringe en die jongste navorsing.

Jy is weird. Jy hou jou met donker dinge op. Dís gewoonlik wat ander sê wanneer hulle hoor jy is psigies.

As kind verstaan jy self nie dié sesde sintuig of derde oog nie. Jy wil tog net nie “anders” wees nie en soek later na wetenskaplike bewys dat die paranormale wél bestaan. Oplaas kry jy dit. ’n Kenner of twee bevestig boonop “dis ’n talent”, nes musikaliteit of sportiwiteit. En ook nie noodwendig black magic nie.

Die besef laat jou uit die kas tuimel van vreugde.

’n Mens ontdek rondom jou tienerjare jou derde oog. Ek was 12: Net voor middagete dwing ’n onsigbare krag my uit my bed buitentoe. Dit voel asof ’n sterk man my vorentoe stoot.

“Wat maak jy op die sypaadjie?” vra my ma.

“Ek wag vir Daleen.”

“Sy is in die skool. Kom in, jy’s seker deurmekaar van die koors.”

Ek was nie. Om presies een minuut voor 12:00 daardie middag het ek my vriendin se ma “sien” sterf. Kort daarna het Daleen aangehardloop gekom. Huilend. Ek kon nie sê ek weet reeds nie, het haar net styf vasgehou. Min verstaan van wat gebeur het.

Die wetenskaplike bewys kom in die vorm van ’n dokumentêre rolprent. Something unknown is doing we don’t know what draai tans* in die Kaapstadse Labia en by Zenitude in Johannesburg. Dié dokumentêr is tydens die Arizona-rolprentfees met die spesiale jurieprys bekroon en vir verskeie ander feeste, soos die Berlynse-rolprentfees, gekeur.

Ek stel vas Renée Scheltema, die fliekmaker van Nederlandse oorsprong, woon in Constantia in die Kaap. Ek soek haar op.

’n Maer vrou van iets in die 50 skuif die groot bondel wasgoed op die reuse-kombuistafel opsy om vir ons teebekers plek te maak.

Dit het Renée Scheltema nege jaar geneem om dié rolprent te skryf, skiet en redigeer, vertel sy. Sy het hoofsaaklik haar eie geld gebruik, net ’n bietjie kom van ’n Nederlandse televisiemaatskappy. Sy het na Amerika gereis om onderhoude met psigiese kenners te voer.

“Ek moes op ’n fyn lyn loop om net op white magic te fokus,” vertel sy van die dokumentêr wat ’n amper heilige atmosfeer het. Jy kan jou psigiese vermoëns positief inspan, soos as jy aanvoel gevaar dreig en dit dan vermy. Black magic, daarenteen, gebeur wanneer jy jou psigiese vermoëns verkeerd sou inspan deur byvoorbeeld iemand te vervloek.

Renée, wat al voorheen dokumentêre soos The Death Penalty en Portrait of a Zen Couple gemaak het, het ’n regsgraad aan die Universiteit van Leiden behaal en daarna in kriminologie gespesialiseer. Sy het ook ’n M-graad in foto- en TV-joernalistiek van die Universiteit van Kalifornië.

“Toe ek as kriminoloog gewerk het, was ek jonk. Ek moes nog myself leer ken,” vertel sy in Engels met ’n Nederlandse aksent. Sy het met verstandelik-gestremde mense en gevangenes gewerk. “Dit het my geweldig ontstel, ek het ook nie gevoel ek kan regtig ’n verskil maak nie.”

’n Breuk het haar in Amerika laat beland waar sy TV- en foto-joernalistiek ontdek het.

“Dit was ongelooflik om weer kreatief te wees,” vertel sy. Nes dit gevoel het toe sy as kind pryse vir teken en fotografie gekry het. Later het sy vir verskillende koerante en tydskrifte in Nederland, Amerika en Suid-Afrika gewerk.

Renée vertel sy het op ’n dokumentêr oor die psigiese wêreld besluit nadat haar dogter, Lisa (toe 14), die dood van ’n vriendin se ma vooruit gedroom en Renée self “?’n dringende gevoel” gekry het om haar ouers, met wie sy gewoonlik min kontak gehad het, te bel. Sy hoor toe haar pa moet in die waakeenheid opgeneem word.

Vir ou kulture soos die Boesmans, Indiane, Aborigines en Chinese is spiritualiteit normaal, sê Renée. Wanneer hulle mediteer of bid en hul hande op iemand lê, verwág hulle die sieke sal gesond word. “In die Weste het ons heeltemal uit voeling geraak met die spirituele. Maar wat verwag ons? Ons is omring deur die internet en ons vernietig die natuur.”

Die dokumentêr ondersoek telepatie, heldersiendheid, telekinese (mind over matter), afstandswaarneming (remote viewing) en psigiese genesing. Niemand weet presies hóé hierdie verskynsels werk nie, vandaar die dokumentêr se titel.

Kenners is nie seker of ons psigiese vermoëns te make het met energievelde, strale of dalk elektriese of breingolwe nie. “Dis soos liefde. Jy kan dit nie aanraak nie, maar jy weet dit bestaan,” sê Renée.

Sy vertel van twee ontdekkings tydens die maak van die fliek: Erg psigiese mense dra meestal nie horlosies nie want hul energie laat die wysers tol! En tydens onderhoude het hulle die nuwe batterye van haar bandmasjien besonder spoedig laat afloop. “Dit was asof hulle al die krag uit die batterye trek.”

Ek vra haar uit oor ’n paar psigiese verskynsels. Soos telepatie. Dis kitskommunikasie tussen twee mense (of ’n mens en ’n dier) sonder inspanning van jou normale sintuie, volgens dr. Rupert Sheldrake, Britse telepatie-navorser, bioloog en skrywer. Jy registreer telepatie net soos wanneer jy voel iemand staar na jou, al sien jy dit nie.

Die meeste van ons ervaar dit van tyd tot tyd. Soos wanneer jy sommer weet wie bel. Ek weet meestal wanneer ’n vriend of vriendin siek is of probleme het. Handig, want jy kan help.

Kwantumfisika bewys juis dat as twee voorwerpe (mense ingesluit) na aan mekaar is, fisiek of emosioneel, en ’n verandering in een intree, dit ook die ander beïnvloed, vertel Renée.

In die fliek word ’n vrou aan helder, flitsende lig blootgestel. ’n MR-skandering toon terselfdertyd dat die brein van haar metgesel (wat ver weg is) “verlig”.

Diere is dikwels ook telepaties. Renée vertel haar kat, wat pas dood is, het geweet wanneer sy veearts toe mik. Dan het hy verdwyn. En dr. David Dosa van ’n hospitaal vir terminaal siek mense in Providence (Rhode Island, Amerika) vertel in die dokumentêr van die hospitaalkat, Oscar. Enkele ure voor ’n pasiënt sterf, gaan Oscar op die sieke se bed lê.

Dan weet die personeel hulle kan maar die gesin bel om te kom?...

Troeteldiere weet ook wanneer jy op pad huis toe is. Nee, hulle hoor nie jou motor nie. Die oomblik dat jy besluit om terug te keer, weet hulle dit en wag jou in!

Ek het self uitgevind (en dit ook by ander gehoor) dat diere selfs ná hul dood bande met jou kan hê. Ons kat (15) wat aan kanker dood is, het drie nagte daarna oor my bed geloop, presies daar waar hy altyd gelê het. Ek kon hom nie sien nie, maar duidelik voel dat sy voete duikies in die duvet maak. Hy het net vir my kom sê hy is oukei.

’n Ander aspek van psigies wees is heldersiendheid. Dit beteken jy registreer vooraf (geestelik en fisiek) dat iets gaan gebeur, sê Renée. In die fliek toon ’n eksperiment dat jou pupille byvoorbeeld wyer word net vóór jy iets “sien”.

Wanneer jy vir die eerste keer heldersiende is, skrik jy nogal. Soos die keer toe my man van die Kaap af Potchefstroom toe gery het. Ek het ge-“sien” hy maak ’n ongeluk en vertel dit toe telefonies aan my ma. (Ek kon hóm nie waarsku nie, daar was nog nie selfone nie.)

Daardie aand het iemand anders my man langs die pad opgelaai en huis toe gebring. Die bloed teen sy kop was al hard ...

Volgens die dokumentêr kry ’n mens soms “buitengewone” hulp. Dalk van engele? Ek kan identifiseer. Op ’n Saterdagoggend het ek in ’n besige Paarlse hoofstraat gestaan en probeer oorstap. ’n Krag, dit het soos wind gevoel, het my teruggedwing op die sypaadjie. Daarvandaan het ek aanskou hoe ’n vragmotor teen die spoed van lig op die plek waar ek gestaan het, verbykom...

Eksperimente bewys ook groot groepe mense kan dinge vooraf registreer. “Ons is almal holisties verbind. Kenners praat van global consciousness,” sê Renée.

Voor gebeure soos 9/11 en die tsoenami in Suidoos-Asië het kwantumtoestelle reg oor die wêreld geregistreer dat iets groots sou gebeur. Dié apparaatjies wat aan rekenaars gekoppel word, spuug gewoonlik lukraak nulle en ene teen ’n hoë spoed uit.

Tog is daar ’n patroon, sien jy op rekenaarskerms. Rondom groot gebeurtenisse is daar ’n duidelike patroonverandering, dui grafieke aan. Dit word klaarblyklik meegebring deur ’n kollektiewe skakeling van bewussyne.

Patrone verander gewoonlik rondom nuwejaarsvieringe en het ook tydens prinses Diana se begrafnis verander. Die kanse dat die patroon op ’n “gewone” dag verander? Een uit ’n miljoen.

Dan is daar telekinese, oftewel verplasing. Nadat ek Rhonda Byrne se The Secret gelees het (dis op kwantumfisika-beginsels geskoei), het ek my voorgeneem om my wiskunde-kompleks (ek het graad agt-wiskunde net-net geslaag) te oorkom. Drie jaar lank het ek my dus daarop ingestel om vir finansiële joernalistiek bekroon te word. Dit het vanjaar gebeur!

Dieselfde beginsel geld wanneer ’n psigiese mens by die bingo-tafel spesifieke nommers wil laat opkom, sê Renée. Sommige kry dit selfs reg om lepels met hul gedagtes te kan buig. Hieroor was Renée eers skepties – toe nooi sy ’n lepelbuiger na haar huis en sit nou self met ’n paar gebuigdes in die messelaai.

Nog ’n psigiese verskynsel is afstandswaarneming: Psigiese mense “sien” gebeure oor ’n afstand. Sulke kenners (afstandswaarnemers of psigiese speurders) kan die polisie help om vermiste kinders op te spoor.

Een kenner vertel in die dokumentêr hoe sy ’n vermiste kind gevind het. Dit klink ook asof sy weet waar Osama bin Laden hom bevind. Sy wil dit egter nie op kamera erken nie, “want dit kan my dood beteken”.

Of dit deur middel van energiegeleiding, gebed, musiek, visualisering of meditasie gebeur, psigiese genesing is nog ’n verskynsel wat wenkbroue laat lig. En, ja, daar ís bedrieërs. “Die egtes doen dit nie vir roem nie en hulle werk gratis,” sê Renée.

Volgens haar sal dokters nie sommer erken psigiese genesing werk nie, al ervaar hulle dit in praktyk. Renée het lank gesoek na ’n dokter wat op kamera sou praat. Uiteindelik het sy dr. Hilda Landman in Stellenbosch opgespoor.

Landman vertel een van haar pasiënte, ’n vrou met ernstige kolonprobleme vir wie medies niks meer gedoen kon word nie, is wonderbaarlik genees deur John of God van Brasilië. Landman sê sy het geen verklaring hiervoor nie, maar weet nou dit werk.
John of God “opereer” sonder narkose, soms selfs met eetgerei. Sy prosedures is gratis en hy beskou homself net as ’n geleier van God se krag.

Die fliek wys ook hoe afgesnyde blare waarop psigiese genesers daagliks (selfs op ’n afstand) konsentreer, ná 58 dae nog vars is terwyl die kontrolegroep lank reeds verdor het.

Ons is tot baie meer in staat as wat ons besef, veral as ons saamstaan, sê Renée. “Jy kan jou psigiese vermoëns ontwikkel deur gereeld stil te word, jou gedagtes skoon te maak en jouself oop te stel om só ’n hoër vlak van bewussyn te betree. Dit werk nes kreatiwiteit.”

Renée reken ons kan onsself, mekaar en die wêreld genees en dis waarop ons moet fokus. “Plant tamaties, ondersteun die ontwikkeling van hibriede motors en windkrag en gee om vir die aarde.”

Albert Einstein, bekend vir sy relatiwiteitsteorie, het gesê: “Jy kan op twee maniere na die lewe kyk: een is asof niks ’n wonderwerk is nie. Die ander is asof alles is. Ek glo laasgenoemde.”

Something unknown is doing I don’t know what word vertoon by Zenatude in Sandton tot 25 September. Jy kan die DVD bestel by www.somethingunknown.com.

Riette Rust is ’n vryskutjoernalis

Binne Beeld

Weer
Lotto
Ksd: 14-20°C Scattered clouds. Mild. Pta: 7-21°C Sunny. Refreshingly cool.
Jhb: 4-18°C Sunny. Cool. Bfn: 3-19°C Sunny. Refreshingly cool.
Dbn: 16-26°C Sunny. Mild. PE: 15-25°C Sunny. Warm.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

OPEL

Corsa 1.4 Sport Utility MY04 PU
2008
R 99,900.00

TOYOTA

Corolla 140i MY05
2006
R 104,990.00

AUDI

A3 2.0 FSi Attraction Tiptronic 3-dr
2007
R 207,000.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Chobe Marina Lodge

Spend 2 nights on the banks of the banks of the Chobe river at Chobe Marina Lodge from R6717 per person sharing. Includes return flights, taxes, transfers and accommodation. Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Avengers nou beskikbaar

Marvel Avengers-aksiekarakters nou beskikbaar vanaf R189,95. Koop dit nou.

Toshiba-tabletrekenaar AT-100

Bespaar R1 000 op dié fantastiese tabletrekenaar. Nou slegs R2 999,95. Koop dit nou.

Massiewe speletjie-uitverkoping

Kry tot 65% afslag op speletjies. Alle voorraad moet verkoop word. Terwyl voorraad hou. Koop dit nou.

Meng & Pas

Meng en pas twee albums vir die prys vir R149. Nuwe albums het so pas ingekom. Koop dit nou.

Moet-lees-boeke vir tieners

Die gewildste boeke vir tieners en jong volwassenes. Hunger Games, The Flappers & meer. Koop dit nou.

Aanbod van die week

PS3 speletjies vanaf R149.95

Plus PS2 en PSP speletjies vanaf R99.95. Slegs terwyl voorraad hou. Koop nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...
Daar is vars stories op ons tuisblad. Kliek hier om hulle te lees.