Die premier en die prins
2012-02-18 06:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Die fliek The Iron Lady, wat verlede week in Suid-Afrika uitgereik is, is asemrowend en hartverskeurend.
Meryl Streep speel Margaret Thatcher waar sy nou is: ’n ou vrou wat in die skemeruur van demensie leef. Die drama word afgewissel met terugflitse na bepalende oomblikke in Thatcher se merkwaardige loopbaan
.
In die fliek verskyn haar oorlede man, Denis, in ’n reeks hallusinasies. Elkeen wat dié lees, sal die rou verdriet van verlies ken – daardie gevoel as jy ’n geliefde verloor, ’n eggenoot, ’n vriend, ’n kind of groot-ouer. En wanneer ’n mens sien hoe Denis vir Margaret sê “steady the buffers, old girl”, dink jy aan die geliefde in jou lewe wat dié rol speel – of dit eens gespeel het.
Streep was briljant in haar besluit om die storie oor een van die 20ste eeu se mees ikonies figure te omskep in ’n storie oor die lewe wat ons leef. Mense leef langer. Baie van ons sal ly aan, of iemand ken wat ly aan alzheimersiekte.
Van die geskiedenis en chronologie in die fliek is verkeerd. Thatcher was nie by toe die Ierse Republikeinse Leer (IRL) Airy Neave, haar nabye vriend en woordvoerder oor Noord-Ierland, in 1979 in ’n motorbomaanval vermoor het nie.
In ’n heerlike toneel sien ons Thatcher, toe nog minister van onderwys in Ted Heath se regering in die vroeë sewentigerjare, waar sy tydens ’n kragonderbreking op ’n kabinetsvergadering speels ’n flits op haar kollegas laat skyn.
Die waarheid is beter. Lord Butler, Thatcher se sekretaris, onthou dit het eintlik gebeur nadat die IRL in 1984 die Grand Hotel in Brighton tydens die Konserwatiewe Party se konferensie gebombardeer het – eers tóé het Thatcher ’n flits in haar handsak begin ronddra. “Sy het altyd uit ervaring geleer,” sê Butler.
Ek kan getuig dat Streep Thatcher se maniërismes en manier van praat foutloos regkry.
Tien jaar gelede, nie lank nadat sy op haar dokter se aanbeveling, en teensinnig, uit die openbare lewe getree het nie, het ek Thatcher gevra of sy ’n huldeblyk wat sy aan Mangosuthu Buthelezi geskryf het, vir die televisie sou opneem.
Sy het onverwags ingestem, en ek het ’n kamer in die Savoy-hotel in Londen bespreek om die opname te doen.
Op die dag van die opname het haar middernagblou Jaguar op presies die regte oomblik voor die hotel se agterste ingang ingeswenk. Sy het ’n pienk haute couture- shikata-pak aangehad, en op my afgestuur soos ’n oorlogskip op pad na die Falkland-eilande.
Terwyl ek soos ’n swymelende skoolseun oorgretig langs haar huppel, het ons “gemeenplasies” só ontvou:
Ek: “You are exactly on time.”
Sy: “I háte that (traag wees).”
(Sy vee afwysend met haar hand.)
Sy: “Hotel corridors are longer than the corridors of power.”
En toe is dit tyd vir die senutergende opname van haar huldeblyk.
Die ongeredigeerde weergawe is tipies Thatcher.
“I have known Prince Buthelezi for many years... STOP! I’ve stumbled!”
En toe moes ons weer voor begin.
Die tweede keer was dit perfek tot op die laaste woord, en ek het so gesê.
“If it is perfect, young man, we don’t need to do it again, do we!” het sy uitgeroep.
En toe is sy summier daar weg in ’n wolk parfuum en assistente. Al wat agtergebly het, was haar handgeskrewe, netjiese aantekeninge.
Ek het dit geraam en aan Buthelezi gegee.
Thatcher se gesondheid het kort daarna begin agteruitgaan. Haar man is in 2003 oorlede.
Sy het merkbaar oud geword teen die tyd dat sy Kaapstad in Desember 2004 vir die laaste keer besoek het om by haar seun, Mark, te kuier. (Die chronologie van toe sy in Suid-Afrika was, is in die fliek verkeerd.)
Sy het middagete gaan eet saam met ou vriende, ook saam met Mangosuthu Buthelezi.
Hy was, sover ek weet, die enigste Afrikaan op haar 80ste verjaardagparty in Londen in Oktober 2005.
In die eerste dekade of wat nadat sy in 1990 as premier bedank het, was Thatcher se nalatenskap omstrede. Sy is deur ’n groot deel van die Britte verguis oor haar verdelende beleid.
Dit was egter nie naastenby so vurig soos die haat gemik op Tony Blair nie. Anders as háár reputasie, sal sýne waarskynlik nie in later jare geherwaardeer word nie – weens sy besluit om Brittanje gegrond op vals inligting in ’n oorlog met Irak te dompel.
Selfs Thatcher se felste kritici het haar nooit van vuilspel beskuldig nie.
Een van die beste boeke oor Thatcher is Hugo Young se One of Us. Die titel kom van haar vreemde gewoonte om, wanneer sy onseker van iemand se politieke oortuigings was, te vra: “Is he one of us?”
Sy was nie juis bekend om ’n goeie humorsin nie en het selfs die beroemdste sin uit Monty Python se gewilde “Dead Parrot”-skets met ’n uitdrukkinglose gesig kwytgeraak in haar laaste toespraak op die Konserwatiewe Party se kongres in 1990.
Sy het dié grap nie gesnap nie, maar die gehoor het gebrul van die lag. “This Monty Python,” het sy ná die tyd senu- agtig haar toespraakskrywer gevra, “is he one of us?”
Die geniale tragiek van TheIron Lady is dat dit ’n legende vermenslik.
In haar broosheid en eensaamheid kan ons sien: sy is, sowaar, een van ons.
- Jon Cayzer was voorheen Mangosuthu Buthelezi se privaat sekretaris.
- The Iron Lady is vir twee Oscars benoem, onder meer vir Meryl Streep in die kategorie beste aktrise. Die Oscar-toekennings vind volgende Sondag plaas.

Mangosuthu Buthelezi was die enigste Afrikaan by Thatcher se 80ste verjaarsdagparty.