Die taal van my hart
2010-01-30 11:18
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Ek was die afgelope naweek in ’n interessante gesprek betrokke met ’n bruin vrou wie se huistaal “verjohannesburg” het.
Sy het Afrikaans grootgeword, maar in die beroep waarin sy beland het, het sy vinnig agtergekom dat haar taal as “uncool” beskou is en nou praat sy hoofsaaklik Engels.
Dit was egter vir my baie interessant tydens ons gesprek dat wanneer sy ware emosie wou uitdruk, sy oorslaan na Afrikaans.
Sy het vertel dat sy (as vervaardiger) gereeld vir ’n radio-aanbieder sal sê: “Dit was nou absolute k–k!” Nie: “That was sh–t” of “Eish!” nie.
Nee, in Afrikaans met die klem op die “k”. En dit is dalk presies dít: Jy kan nie emosie ontkoppel van ’n taal nie, in jóú taal het jy vir die eerste keer jou woede uitgedruk, jou vreugde uitgedruk, gesê: “Lief”. Met apologie aan Stef Bos en Amanda Strydom: die Taal van jou Hart.
Dit is nie vir my moeilik om Engels te praat nie, maar ek sukkel om te sê hoe ek werklik voel in enige taal anders as Afrikaans. My hart swel steeds van trots as ek Afrikaans in ’n Amerikaanse fliek hoor – al is dit die vloekwoorde.
Ek hoor my taal en ek voel dit. Ek vóél dit.
By Alcatraz het iemand my kom groet in Afrikaans. Onlosmaaklik deel van daardie paar woorde was ’n ryke geskiedenis, ’n sin van behoort, Amanda en Laurika, Anton en Sonja, Jan en Fokofpolisiekar, Dana en Daleen, Elizabeth en Ingrid, Pierre en Bakkies, Gerrie en Zola, PG en Casper, Soli en Jonathan, Shaleen en Sandra, slaphakskeentjies en koperpennies, koeksisters en melkkos?.?.?.
En ja, niemand het hierdie taal sit en uitdink nie (behalwe diegene soos Fanus). En ja, net soos bobotie het verskeie woorde in ons taal iewers anders ontstaan, maar dit ontneem steeds nie die uniekheid daarvan nie. Daarom is dit steeds nie moontlik om die frase “Die kat kruip onderdeur die tafel” in Engels te vertaal nie.
Maar, liewe leser, ek is nie ’n taalpuris nie. Vir my, net soos die oorgrote meerderheid sprekers van ’n taal, gaan dit oor gemaklikheid. En daarom bly ’n Ipod ’n Ipod, ’n Blu Ray ’n Blu Ray?.?.?. en ’n slipper ’n slipper.
Gepraat daarvan, ons het seker een van die visueelste tale. Kyk bietjie hier: “Die ou tannie loop skuifelend die karig gemeubileerde kamertjie binne, sy gaan sit moeisaam op die kant van die kateltjie en vat-vat met ’n beplooide hand aan die lappieskombers. Dit is sterk skemer.”
Sien jy haar? Natuurlik. Jy voel haar.
En hoewel ongelooflike skryfwerk al in Engels (en Frans) gepubliseer is, het ek steeds geen idee waaroor A Tale of Two Cities van Charles Dickens handel nie. Ek weet net daar is ’n koets betrokke, iewers aan die begin. Maar vra my waaroor F.A. Venter se Geknelde Land-reeks gaan, en ek sal jou kan vertel.
Wat vir my wel vreemd is, is hierdie skielike obsessiewe liefde vir die taal onder Afrikaanssprekendes. Waar was dit voorheen?
Iemand het iewers op ’n ramshoring geblaas en aangekondig die taal is onder beleg, en skielik is ons toegegooi met alles van Afrikaanse T-hemde tot splinternuwe Afrikaanse tydskrifte.
Om nie te praat van die massas agtertangse sangers van swak gehalte wat skielik in Buffalo-skoene hul verskyning gemaak het nie. Waar was dit destyds?
Waar was dit toe Punt Geselsradio, die enigste progressiewe Afrikaanse radiostasie, geknak het onder finansiële druk? Waar was die taalstryders wat gevra is om minstens net R10 te skenk? Waar was die adverteerders wat nou op groot advertensieborde buite Pretoria aankondig: “Welkom tuis. Nou kan jy weer Afrikaans praat. Dis nou Ayoba!”
As iemand wat tans in Afrikaans kommunikeer in ’n sterk Afrikaanse media-omgewing wil ek vra: Waar is die beleg? Ek sukkel om dit te identifiseer.
Soos Mondli Makhanya, redakteur van Sunday Times, in sy rubriek skryf: “Yet the perception persists among Afrikaners that their language is under siege. Some of these defenders are genuine lovers of the language, however there is a large proportion who are motivated by narrow nationalism.”
Ons dring steeds aan op voorkeurbehandeling. Ons weier steeds diep binne om die reg van ander tale te erken om gelyk met ons mee te ding.
Ek praat Afrikaans. En ja, as ek in enige stadium agterkom dat daar sprake is van ’n werklike “beleg” sal ek nie skroom om in die voorste linie ’n taalstryd te voer nie.
Maar is ’n beraad oor die toekoms van Afrikaans by universiteite nodig, soos die F.W. de Klerk-stigting beplan het?
En ja, natuurlik het jy die reg op onderrig in die taal van jou keuse, maar sal jy prakties kan meeding in jou gekose beroep as jy nie die Engelse terme ken nie?
Ons onderskat ons eie taal. Afrikaans sál oorleef solank ons ons plig besef om dit vir ons kinders te leer, maar meer as dit: om ’n liefde vir ons taal by hulle te kweek.
Dit is nie universiteite, onderwysers of Theuns Jordaan se plig nie.
Dis joune.