Dr. Witboy, sielkundige manipuleerder en kulturele internis
2012-01-28 06:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
‘Ek kom nooit Kaap toe sonder om hier te eet nie,” sê Deon Maas en slaan Minato se spyskaart oop. Dalk lyk ek effe bekommerd oor sy entoesiasme, want hy voeg dadelik by: “Vir soesji wat so oorspronklik soos hierdie plek s’n is, is dit regtig goedkoop. En ek eet nie baie nie. Ek gaan wel indulge in ’n Japannese bier. Maar jy moet die Crying Balls probeer. Hulle meng die rys met wasabi. Ongelooflik!”
Twee yskoue Kirins daag op en ons drink albei die eerste twee slukke in gewyde stilte. Die Kaap is in die sweterige greep van ’n wrede hittegolf, maar in die koel skemerte van Minato aan die einde van ’n stil stegie in Buitenstraat, kan ’n mens regtig nie kla nie. Die plek se dekor is duidelik min geskeel oor Kaapse modes en kontemporêre style. Daar’s bont Oosterse kimono’s teen die mure (ek raai Japannees, maar Deon meen die eienaars is eintlik Koreane) en die meubels is plastiekerig goedkoop maar gemaklik.
Hy is bekend as moeilikheidmaker en enfant terrible, maar ek sukkel om hierdie mediabeeld en die indruk wat ’n mens van hom kry uit sy outobiografiese Witboy in Afrika te versoen met die rustige, innemende ou wat vandag oorkant my sit. Witboy, waarvan die opvolg eersdaags op pad is, is ’n heerlik bisarre, bewussynsverruimende kopvakansie – ’n boek wat jou diepste vrese vir donker Afrika tegelyk bevestig en besweer. Dit laat jou egter ook vermoed Maas word waarskynlik netjies opgesom in die woorde van een van sy helde, die gonzo-joernalis Hunter S. Thompson. Laasgenoemde het sy reisgenoot in Fear and Loathing in Las Vegas, Die Advokaat, beskryf as: “One of God’s own prototypes. Some kind of high powered mutant never even considered for mass production.”
As jy Maas op sy onmiskenbare baadjie wil takseer, sal jy geneig wees om saam te stem. Hy lyk soos ons eie Johnny Rotten – ’n punk-haarstyl met twee oorringe en ’n tatoeëermerk op sy linker-voorarm wat herinner aan die meedoënlose masjinerie onder die Terminator se sintetiese vel.
Maar dis nie die hele prentjie nie. As die bril en nuuskierige oë jou ’n wye belesenheid laat raai, is jy in die kol. Toe ek hom komplimenteer oor die gemaklike manier waarop hy in Witboy reisjoernalistiek, geskiedskrywing en outobiografie kombineer, kry ek ’n verrassende reaksie.
“Skoolvakansies, toe my maatjies gedrink het, was ek die totale nerd. Ek het my tyd bestee in Die Burger, die Cape Times, die Argus en die Kaapse argiewe waar ek selfopgelegde take gedoen het oor sekere geskiedkundige onderwerpe, soos die Ku Klux Klan of Haile Selassie. Ek’s heavy into geskiedenis en agtergrond. Jy kan niks verstaan as jy nie die konteks verstaan nie.”
Die grootste wanopvatting oor hom, sê Deon, is dat hy ’n kwaadstoker is. “Baie mense dink blykbaar ek gaan uit my pad om moeilikheid te maak en verdeeldheid te saai. Ek dink dis presies die teenoorgestelde. Ek wou nog altyd net mense aan die dink sit. As jy met my vriende praat, sal hulle almal vir jou twee goed sê: Deon probeer altyd seker maak dat mense nie met mekaar baklei nie en Deon is ’n ewige optimis.”
Al die venynige kritiek wat hy al moes verduur, het hom duidelik nie heeltemal koud gelaat nie. Hy praat met dankbaarheid oor die sukses van Witboy. “Ek het baie beatings gevat voor die boek – dit was die By-rubriek en die Rapport-ding [Deon was in die pekel oor sy uitlatings in albei dié koerante]. Ek was bang gewees toe dit verskyn en toe mense na my kom en sê hulle hou daarvan, toe’s dit soos in half, wow, ek kan actually iets doen waarvan mense hou ook. Om uit te vind daar is mense wat my kop verstaan, was vir my ’n saving grace.”
Deon is in die Kaap vir ’n spesiale vertoning van Punk in Africa – die indrukwekkende dokumentêr wat hy saam met sy Amerikaanse vriend Keith Jones gemaak het. Die fliek is sedert sy uitverkoopte première by die Durbanse Internasionale rolprentfees verlede jaar ook goed ontvang by die Festival Do Rio in Brasilië en word later vanjaar by internasionale rolprentfeeste in Rotterdam en Praag vertoon.
Dié dokkie was ’n liefdestaak en Deon is trots op die eindproduk, maar die gees van punk sien hy nie meer in rock nie.
“Dinge is nou te geïnstitusionaliseer... Die wit suburban kids... dit lyk my hulle is nou te bang om kwaad te wees, want dan sny Pa die goue kredietkaart af wat hulle op 16 gekry het.”
Deon was die vervaardiger van Fortuinsoekers en werk tans aan ’n opvolg van dié gewilde kykNET-realiteitsreeks. Ook die opvolg van Witboy is binnekort op die rak.
“Hoekom moet jy nou my lunchspoil?” vra hy wanneer ek hom hieroor vra. “Die boek is veronderstel om in April klaar te wees en my editor, Annie Olivier van Tafelberg, gaan nou via hierdie onderhoud uitvind dat ek die deadline gaan mis. Maar skryf asseblief ook Annie is die beste redakteur waarvoor enige skrywer kan vra – al het sy my Stockholm-sindroom gegee met die skryf van Witboy.
“Maar ja, die nuwe boek gaan ook reisverhale wees – ’n mengsel van goed wat in Suid-Afrika en Europa gebeur het. En duidelik gaan ek weer oor Nigerië skryf. Eintlik kan ek weer ’n hele boek skryf oor die goed wat daar met my gebeur het.”
Deon gaan al agt jaar lank jaarliks terug na Nigerië waar hy as skrywer en “sielkundige manipuleerder” ’n sentrale rol speel in die werklikheidstelevisieprogram The Gulder Ultimate Search – ’n kombinasie van Fear Factor, Survivor en The Amazing Race waarin die deelnemers en produksiespan tot die uiterste beproef word deur die Nigeriese weerstoestande, korrupsie en algemene chaos. In Witboy skets Deon die vervaardiging van die eerste reeks op Snake Island in 2004 as ’n Apocalypse Now-agtige nagmerrie wat die meeste mense vir altyd van Nigerië sou genees. Wat lok hom telkens terug?
“As ’n mens nie jouself uitdaag nie, kan jy maar net sowel doodgaan. En onthou, dis elke keer Nigerië, maar dis elke keer ’n ander ervaring in ’n ander streek. Jy weet nooit voor die tyd wat die f**op hierdie jaar gaan wees nie, maar daar is altyd een.
“Die oomblik as jy noem jy was in Nigerië, sê iemand altyd, ja, my tweede neef vyf keer verwyderd was daar en hy sê die plek is terrible. En dan’s ek oukei, ja-nee, en dan los ek dit net. Want Nigerië is actually insane, maar die respek waarmee ek daar behandel word omdat ek sekere kennis het, kry ek nie in hierdie land nie. Ek hoef nie ’n swart BEE partner daar te hê nie. Hulle vat my vir wie ek is.
“Daar is ek in beheer van 120 Nigeriërs, wat nie een soos ek dink nie omdat hulle nie uit dieselfde kondisioneringsagtergrond kom nie. Dit haal my uit my veiligheidsboksie en sit my in ’n situasie waar ek nuwe goed ervaar en op my voete moet dink – die hele tyd.”
’n Vorm van kulturele reksprong?
“Ja, ja, ja! Maar daar word ek as Afrikaan aanvaar.”
Wat dink hy staan tussen ons wit boys en meer aanvaarding as Afrikane in ons eie land?
“Veertig jaar van slegte geskiedenis. Die Bybel sê jy sal betaal vir die sondes van die vaders tot in die derde en die vierde geslag. Tot ’n mate is ons nou besig om vir daai sondes te betaal. Daar’s baie aggressie wat gevoel word teenoor ons as ’n groep.
“Maar ek dink die grootste hindernis is die verskriklik negatiewe houding van baie Afrikaners. Jy kan maar net kyk na die brieweblaaie in koerante om te sien watse soort mense die Afrikaners geword het. Hierdie eens trotse pioniersnasie sit nou agter hul mure en elektriese heinings en bitch en moan oor alles. En hulle het so nydig geword.
“Nasiebou en die persepsie van die Afrikaners gaan nie deur die regering of Afrikaanse universiteite bepaal kan word nie, maar deur die verhouding wat Afrikaanse mense met die res van die mense in hierdie land het. Dit gaan oor hoe jy praat met die kassier in Pick n Pay. En onthou, as die kelner jou sleg bedien, is daar ’n goeie kans dat hy nie reg opgelei is nie. So, wees liewer kwaad vir die eienaar.
“Ek het ’n teorie en dis totaal medies onbewysbaar, maar ek dink een van die redes hoekom daar so baie kanker onder Afrikaners is, is omdat hulle hierdie haat in die binnekant ronddra. Genuine.
“Ons gaan almal hier – wit en swart – die land kry wat ons verdien. En luister, om ’n Facebook-groep te stig, is nie ’n revolusionêre daad nie.”
As Deon se teorie reg is, het hy niks by sy volgende besoek aan die internis te vrees nie. Hy is tevrede. “As jy op hoërskool vir my gesê het wat ek vandag sou doen met my lewe, sou ek so uitgesien het na hierdie tyd. Ek beskou myself as baie bevoorreg, want ek is in ’n situasie waar ek min of meer doen wat ek wil. Ek het tot ’n jong girlfriend.”
Dan is daar skielik trane in sy oë – die Crying Balls het hom getref. Hy draai na die bedeesde paartjie aan die tafel langs ons, en sê: “Julle moet dit probeer!”