Eerder Retief Goosen as Ernie Els
2012-02-03 22:41
‘Daardie perd het ’n aura aan hom. Hy wéét hy’s goed. Ek kry hoendervleis as ek daaraan dink,” vertel ’n besielde Gary Lemke my oor ’n kroeg-ete in die Fireman’s Arms in Groenpunt.
Gary, skrywer van Pocket: The Story of Pocket Power – A Racing Legend, hou sy arm as bewys na my uit, en voeg dan by: “Hy kyk vir jou soos sy ma, Stormsvlei. Dis iets wat baie min perde doen. Toe ek hom die eerste keer in die oë kyk, het ek amper my broek natgemaak. Jy weet nie of hy die hel uit jou gaan skop nie. Moenie dink jy kan soos sy afrigter oor sy neus vryf terwyl jy paaigeluidjies maak nie. Hy sal jou hand afbyt.”
Om in dié selfversekerde hings se oë te gaan kyk, ry ek kort daarna na die lowergroen deel van Constantia waar Kaapstad se suidelike voorstede in luukse landgoedere verander. Hier het Pocket Power kom aftree in die sorg van die Haytreads – die skouspringer Belinda, wat gehelp het om hom vir wedrenne af te rig, en haar springlewendige bejaarde ma, Jenny.
In Gary se perdbiografie sê die einste Belinda: “Ek hou van hulle groot en taai en ’n bietjie vol van hulself. Ek praat van perde, natuurlik!”
“Hoe so?” vra ek Belinda op pad na die stalle. “Want anders is dit vervelig,” sê sy sonder aarseling.
En toe toring die beroemdste nasaat van die legendariese stoethings Jet Master skielik bo my uit en ek skrik. “Dis goed om versigtig te wees,” sê Belinda. “Naas motorwedrenne is perderesies die gevaarlikste sportsoort in die wêreld.”
“Kyk hoe ek lyk,” sê Jenny en wys met ’n ondeunde laggie na die littekens op haar skouer en knie waar staal en titanium ingesit is om haar ná die een val ná die ander weer in die saal te kry. Haar mees dramatiese letsel is egter haar linkervoorarm wat skeef uit die elmboog steek.
“Toe nou, Ma. Daardie was ’n fietsongeluk,” sê Belinda.
“Fietse is ook gevaarlik,” sê Jenny en lag. Dan verwelkom sy hul Patagoniese parkiet, Wyatt (genoem na Wyatt Earp, die cowboy-held van die skietgeveg by O.K. Corral), op haar skouer.
As dié twee onverskrokke perdefluisteraars my gerus wou stel, het hulle klaaglik misluk, maar ten spyte van sy indrukwekkende grootte lyk die hings met die wit ster op sy voorkop nie vandag besonder moeilik nie. Ek vertrou egter nie die vrede nie – Pocket was só temperamenteel en vurig dat hy op twee jaar gekastreer is.
“Hier by ons het hy baie rustig geword,” sê Jenny. “Hy’t nou daai sentimentele kyk wat ouer mans kry.” Ek probeer sien wat Jenny bedoel, maar Pocket gee eers sy buurman, My Place, ’n oopmond-neusvryf wat na ’n perdesoen lyk.
“Toe My Place ophou resies hardloop het, was hy só befoeterd dat hulle hom wou uitsit,” sê Jenny. “Maar hy het ook by ons mak geword.”
Die liefde vir perde omring Jenny en Belinda soos ’n gloed. Hulle laat jou voel of jy in ’n sitkamer tussen vierbeen- vriende kuier.
En dan hop Wyatt op die muurtjie voor Pocket en knibbel parmantig aan die groot hings se kies – so asof hy Jenny se punt wil illustreer. Pocket laat hom dit gelate welgeval, maar toe rig hy sy blik op my, en die soetlikheid waarvan Jenny praat, sien ek nie. Hy lyk wel rustiger as die derduiwel wat Gary beskryf het, maar hy takseer my met ’n intense, deurtastende onverskilligheid. As ’n sakeman of politieke opponent jou só sou vaspen met sy oë, sal jy teen jouself begin onderhandel. Niks is meer intimiderend of indrukwekkend as intelligensie wat jou glad nie nodig het nie.
“Die grootste verlange,” skryf die Franse filosoof Jean Baudrillard in Die Volmaakte Misdaad, “is na dit wat geheel en al sonder my kan bestaan.”
Pocket Power se gereelde jokkie Bernard Fayd’Herbe sê hy’s die dapperste perd waarop hy ooit gesit het. En dit is hierdie veglus en verbetenheid om pyn en beserings te oorwin wat Gary in sy biografie beskryf.
Volgens Gary was sowel Fayd’Herbe as die perd se eienaars, Marsh Shirtliff en Arthur Webber, en sy hoogaangeskrewe afrigter, Mike Bass, gaande oor die boek. Die sogenaamde Koning van Kenilworth se teler, Dan de Wet van Zandvliet Shiraz-faam, het egter speels teenoor hom opgemerk: “Jy moet eintlik flieks maak, nie boeke skryf nie.”
Gary se Pocket is inderdaad soos ’n goedvoel-rolprent vir die hele familie in boekvorm – ’n inheemse Sea Biscuit of Secretariat wat nie wil byltjies slyp of die skadukant van die perde- resiesbedryf sinies aan die kaak stel nie, maar eerder die romantiese drama inherent aan die sport van konings in die verhaal van een merkwaardige resiesperd wil vasvang.
En ’n bietjie Disney is geregverdig. Jenny noem Pocket Power immers ’n sprokiesperd: “Hy het net R190 000 gekos. Mense betaal tot R2 miljoen vir ’n perd met ’n indrukwekkende stamboom. Dis geld wat hulle meestal nooit weer sien nie. Pocket het baie probleme met pure hart en brute krag oorkom om meer as R10?miljoen se prysgeld te wen. Dis nie ’n belegging nie – dis die boerpot!”
“Vir my gaan dit oor die nalatenskap van die perd. As hy ’n sportman was, sou daar al drie of vier boeke oor hom op die rak gewees het,” sê Gary, wat in 2009 as die SAB Sportskrywer van die Jaar aangewys is.
“Ek het die boek doelbewus skoon en familievriendelik gehou. My twee seuns van 8 en 9 het al met groot opgewondenheid Pocket Power ontmoet. As die boek vol van die kru taal was wat eienaars of jokkies soms in die hitte van die stryd en in kleedkamers of losies gebruik, sou hulle dit nie kon lees nie.”
Gary het Pocket Power se loopbaan gevolg sedert sy terugkeer uit Londen, waar hy tussen 2000 en 2005 vir koerante in Fleet Street gewerk het. “Ek is saam met Pocket se eienaars, afrigters en jokkies deur DVD-opnames van al die wedrenne waaraan hy deelgeneem het – ook dié wat hy verloor het. Ek het lang gesprekke met al die rolspelers gevoer, en ná ’n glasie wyn of twee het mense allerhande detail begin onthou.
“Maar ek het nooit geweet presies waarheen die boek op pad was nie, en dit was vir my opwindend. Ek was medeskrywer van [die swemmer] Penny Heyns se outobiografie, maar hierdie was ’n heel ander uitdaging. Dis moeilik om te skryf oor ’n hoofkarakter wat nie kan praat nie.”
As Pocket kon praat, watter soort sportster sou hy wees?
“As hy gholf gespeel het, sou hy beslis nie ’n Ernie Els gewees het nie. Ernie is ontspanne; almal se pel. Pocket is broeiend, soos Retief Goosen. Hy kan vol draadwerk en nors wees of eenvoudig arrogant voorkom. Op ’n perskonferensie sal Goosen sommer maklik sê: ‘Genoeg – ek beantwoord nie meer vrae nie.’ Hy kan die Amerikaanse Ope wen en net ’n paar oomblikke glimlag, terwyl Ernie sou sê: ‘Oukei, manne, ons sluit nou die kroegdeure vir die volgende 24 uur en hou partytjie.’
“Pocket het die Met, die July en die Queen’s Plate gewen, maar hy’t elke keer verseg om in die spesiale wennerskamp in te gaan. Hy was aan die een kant kloustrofobies – hulle moes hom altyd laaste in die wegspringhokke sit; aan die ander kant wou hy net teruggaan na die ander perde. Hy stel nie belang om vir mense toertjies te doen nie.
“Dis hoekom hy nooit ’n ren baie ver gewen het nie. Hy’t altyd net genoeg gedoen. Die jokkie het nooit ’n maklike rit gehad nie. Hy moes die lat inlê voordat Pocket na sy ongeloof- like versnelrat sou oorskakel. Maar as Pocket eers sy neus voor gehad het, het hy dit weer begin kalm vat. Sy houding was: ‘Hierdie ander perde is my maats. Dis ’n speletjie. Ek hoef hulle nie met tien lengtes te verneder nie. Ek wil net gou wys wie’s baas.’
“Dis hoekom party skeptici sê as hy rêrig so goed was, sou hy verder gewen het en baanrekords verbeter het. Maar hy’t byna altyd genoeg gedoen om te wen, en hy het teen al die beste perde van sy generasie meegeding. As jy ’n masjien teen hom laat hardloop het, sou hy daai ding ook geklop het.”
Hy maak keel skoon. “Daar’s ook ouens wat sê hy’t homself nooit in Doebai gaan bewys nie, maar ek dink Mike Bass het wyslik besluit om hom nie soontoe te stuur nie. Pocket het nie net altyd probleme gehad met die ligamente van sy leidende regterbeen nie, maar ook ’n sagte hoef waarvoor die smid Greg Dabbs spesiale hoefysters moes laat maak. Hy was soos ’n bokser met slegte hande wat nogtans ’n kampioen geword het. Maar Doebai se bane is baie hard, en dit kon ’n tragiese vroegtydige einde aan sy loopbaan gebring het.”
As Pocket ’n rugbyspeler was?
“Hy’s soos die Cheetah-kaptein, Juan Smith. Juan is ook altyd beseer, maar hy speel eenvoudig deur daardie pyngrens. En as hy nie daar is op flank nie, besef jy watter verskil hy maak.”
Maar met die naam van Igugu op almal se lippe ná dié perd se oorwinning in verlede Saterdag se J&B Met-perderesies, wonder ek of Pocket Power nie ’n ster is wat, soos vele voor hom, gou aan die perderesieshemel gaan verdof nie.
“Igugu is ’n wonderlike perd, maar laat haar eers volgende jaar en die jaar daarna die Met wen; dan praat ons weer. Die vermoë om bo te bly is wat grootsheid definieer. En bitter min perde kan vier jaar lank op top-peil bly. ’n Jaar in ’n mens se lewe is ongeveer vier perdejare. Pocket het so te sê alles gewen toe hy 16, 20, 24 en 28 in mense-jare was. Probeer dink aan ’n atleet wat 12 jaar lank op die kruin van die golf gebly het. Nie eens Penny Heyns het meer as agt jaar gehad nie. Daar is sekerlik perde wat die Queen’s Plate, wat soos die Curriebeker van perderesies is, drie keer ná mekaar kan wen, maar hierdie ou het dit vier keer op ’n streep gedoen. Ons gaan nie weer so iets in ons leeftyd sien nie.”
Met hierdie woorde in my kop probeer ek Pocket se bodemlose blik in die lig van die laaste sagte sonstrale in Constantia peil, maar hy verloor belangstelling in my en kyk weg na Wyatt, wat langs hom rondhop.
“Moenie bang wees nie,” sê Jenny. “Vat aan hom. Hy sal jou niks maak nie.”
Ek vryf aarselend oor die maanhaarkuif tussen Pocket se ore, en dan streel ek oor die kampioen se neus, so asof ’n mens aan ’n groot storie kan vat. Maar al wat jy voel, is ’n ander warm lewe onder jou hand – een wat vrede het met al die plesier en rykdom wat hy toevallig aan mensekinders gegee het.

Bernard Fayd’Herbe in die saal en Pocket Power in volle vaart in die J&B Met, wat dié hings in 2007, 2008 en 2009 gewen het.
Foto: Ricardo de Nobrega

Pocket word gelawe met emmers yswater en ’n elektromagnetiese terapie-kombers.
Foto: Mikebassracing.com

Die spesiale perdeskoen (links) wat Greg Dabbs vir Pocket se sagte
hoef gemaak het.
Foto: Mikebassracing.com

Die afrigter Mike Bass en sy ster.
Foto: Mikebassracing.com