Ons sit tussen die blare by Die Werf, ’n restaurant
met ’n houtdek, omring deur ritselende groen bome en ’n rietdakreuk wat ’n mens
laat verlang na mense wat jy nie ken nie.
Dis moeilik om te glo ons is net ’n
hanetree van die manie van Pretoria se besige Menlyn-winkelsentrum; amper net so
moeilik om te glo ek praat met ’n koelkop-ekonoom. Want Dawie Roodt weet nie net
van ekonomie nie. Dawie weet van alles.
Terwyl ons gesels,
sien ek voor my geestesoog hoe hol die mannetjies tussen die liasseer- kabinette
van sy formidabele brein rond ... Die visse wat jy kry in die Tanganjika-meer,
die diepste en oudste meer in Afrika (met ’n detour verby die
Baikal-meer in Siberië). Daar gaat die mannetjies in sy brein.
Die Latynse name
vir alles van ’n katvis tot ’n Tanganjika-kobra? Die momentum neem toe. Karl
Marx,
Das Kapital en die Patrice Lumumba-universiteit in Moskou,
waar hy wou gaan swot het? ’n Mens sien net hakskene. Eugène
Marais en
Die Siel van die Mier
Die mannetjies laat die termiete
op hul neus kyk. (En, les bes, die binnebaan van daardie tartan-brein wat
behoort aan die ontmoeting ses jaar gelede met sy Russiese wederhelf,
Marina... Maar meer hieroor later.)
Geen wonder die
stoutgat-seunskind van Tzaneen kon op ’n dag nie ’n enkele boek in die plaaslike
kinderbiblioteek kry wat hy nog nie gelees het nie. Maar lees, kom ek agter, was
een ding; akademie ’n ander.
Dus was stokkiesdraai aan die orde van die dag;
ditto in die bosse rook. Met duidelike binnepret en ’n gin and tonic
in die hand mymer Dawie oor die keer dat hy sy pa se drankkabinet ge-raid het, die vonds in ’n Coke-bottel gegooi en toe saam met ’n
klomp maters op ’n kano uit is.
“Ons het baie slae
gekry,” bieg hy, “want ons was stout, maar nie lelik stout nie.”
’n Jaar of twee later
het hy matriek op sy bas deurgeskraap en is hy weermag toe, waartydens hy ook ’n
BCom (Ekonomie en Regte) deur Unisa gedoen het.
Teen die tyd dat hy uitgeklaar
het, was die swot-gogga behoorlik ingeburger. Nie dat dit
altyd maklik was nie; hy moes by tye sy klere verkwansel om kos te koop.
Desnieteenstaande het hy ’n BCom (Honneurs) en ’n M-graad (met lof) oor
kapitaalbelasting kafgedraf.
Sy eerste voltydse
werk was by Trust Bank, en die volgende een as rekenmeester by Avbob, waar hy
hom, by wyse van spreke, amper doodverveel het. ’n Draai as ekonoom by die
Reserwebank het gevolg.
Vandag is Dawie die
stigterslid, direkteur en hoofekonoom van die Efficient Group, en ook ’n
aanbieder van Ontbytsake op kykNET. Dis nie ekonome se werk om die
toekoms te voorspel nie, sê hy. “Ek weet nie eens wat môre gaan gebeur nie,
watwou aan die einde van die jaar!”
Om saam met Dawie te
kuier, is nie soos ’n vergadering wat met Skriflesing en gebed geopen word en
dan streng volgens die agenda verloop nie.
Hy verweef moeiteloos sy kinderdae en
loopbaan- geskiedenis met menings omtrent alles van die feminisme tot die
kommunisme, laasgenoemde synde ’n belangstelling wat hom in sy weermagdae ’n
probleem of twee op die hals gehaal het.
Tog, hoewel hy die meriete van ’n
sentraal beheerde stelsel insien, is hy uiteindelik ’n voorstander van die
vreugdes van ’n vryemarkstelsel en demokrasie.
“Alles in hierdie land
is hier om my lewe makliker te maak,” beduie hy met ’n sigaret in die een hand
en ’n glas sauvignon blanc in die ander, terwyl hy wag vir sy skaapnek (wat hy
net-net bo die T-beenskyf met rooiwynsous verkies het) en ek vir my snoek.
Die kos kom. Ons
klink glase, en Dawie val weg terwyl ek vir my van die pampoen en boontjies met
aartappels inskep. Groente is klaarblyklik nie Dawie se ding nie.
As die lus hom
tref, sal hy waarskynlik eerder, soos die Namibiërs, ’n vark slag. Tussen die
etery deur besluit ek dis tyd vir Die Storie van die Asemrowende Russiese
Avontuur.
En terwyl hy vertel, ontplooi die verhaal soos ’n hedendaagse Dr. Zhivago met ’n gelukkige(r) einde.
Die Siberiese sage
begin met Dawie se belangstelling in die hoë persentasie Afrikaanse mans wat met
Russiese vroue getroud is. Dit kry ’n hupstoot met sy besluit om, saam met ’n
vriend wat sy eie produksiemaatskappy het, ’n reeks TV-programme oor die
onderwerp te maak.
Die momentum neem toe toe hy tydens sy voorbereiding ’n
webwerf besoek waar hy afkom op die naam van ’n veearts in Siberië. En ’n foto.
“Haar oë,” sê Dawie, “haar oë sal jy nie miskyk nie.”
Met dié het hy vir
haar begin skryf, maar sy het nie terug- geskryf nie. En toe sy uiteindelik
skryf, het sy nie juis in die TV-program belanggestel nie.
Die
langafstandverhouding het gegroei, en ’n paar maande later het hulle besluit om
mekaar op ’n dag om twaalfuur onder Nelson se pilaar voor die Hermitage in Sint
Petersburg te ontmoet.
Die ysige druppels buite-op Dawie se wynglas word die
triestige vensters van die trem waardeur hy staar terwyl hy wonder wat hulle vir
mekaar gaan sê, want hy praat nie Russies nie; sy nie veel Engels nie. ’n Klein
ewigheid later staan hy onder die pilaar, waar hy eers dink sy gaan nie opdaag
nie – totdat hy twee vroue onder ’n pienk sambreel sien aankom. Die een was
Marina se niggie. Die ander een was Marina.
En die eerste ding
wat die twee toe saam gekoop het? ’n Russies-Engelse woordeboekie.
Toe die storie klaar
is, is dit tyd vir poeding. Dawie bestel roomys met warm sjokoladesous (“baie
sjokoladesous,” beduie hy vir die kelner).
En teen die tyd dat die
koffie-en-poeding opdaag, praat ons oor women’s lib wat vroue hul vroulikheid ontneem; die feit
dat Margaret Thatcher en Golda Meir formidabele leiers was oor hul
leierseienskappe en nié omdat hulle vroue is nie; die ding dat Russiese vroue
liewer met hoë hakke op keistene sal waggel as om uit die mode te wees; die keer
toe Dawie in die vroeë 1990’s met ’n ou Opel Kadett deur Afrika gery
het...
Dit
is tyd vir opsaal, en ek ry agter Dawie aan om Marina, hul Tanganjika-visse en
hul twee huismuishonde te ontmoet. Daar aangekom, ontdek ons Marina is oor Skype
met haar ma in Rusland aan die gesels.
Die muishonde bejeën my met agterdog
terwyl die Tanganjika-treffers rustig hul gang gaan in ’n doelgeboude akwarium
van twee meter hoog wat sesduisend liter water hou, en wat Dawie beskou as die
perfekte metafoor vir die ekonomie: “As elkeen doen wat hy moet doen, word die
water nie vuil nie.”
Terwyl die
donkerhaar-diep-oog Marina (dit is beslis daardie oë) die kuberlyne tussen twee
wye en droewe lande laat sing, neem Dawie my op ’n begeleide toer deur die
verskeidenheid inheemse bome wat binne die volgende dekade of twee sy eie
persoonlike woud gaan word.
Hy wys vir my die swane, die marmotte, die voëltjies
en die huisgode wat met vodka gevoer word. Hy vertel my van die steenbokkies wat
êrens wegkruip, en lei my af na die wynkelder, waar Marina se niggie en swaer,
kunsdeskundiges uit Sint Petersburg, ’n asemrowende muurskildery gedoen het met
twee besems en ’n paar blikke oorskiet-huisverf.
Uiteindelik het
Marina klaar gesels, en dis tyd vir bladskud en uitspan op die stoep, ek en
Marina met ’n bottel wyn, Dawie met ’n Laphroaig-whisky.
Voordat ek huiswaarts
koers kies, wys Dawie my sy boekrak. En skielik verstaan ek alles.
Want dit is, vermoed
ek, net in Dawie Roodt,
ekonoom-aanbieder-motiveringspreker-Springbok-paravlieër-kleiduifskieter-Russiese-kenner-en-Siberiese-minnaar,
se boekrak dat jy Das Kapital net so neffens die Trompie-omnibus
voor ’n bundel vol politieke booswigte (Stalin, Hitler) en slap duskant ’n
verslete Bybeltjie sal kry.
SPYSKAART
Die Werf, Faerie Glen,
Pretoria
Coke Zero R11,00
Gin &
tonic R22,50
Porcupine Ridge
Sauvignon Blanc R93,50
Gebraaide Snoek R69,50
Skaapnek R88,00
Roomys en
sjokoladesous R22,95
Filterkoffie R9,00
Fooitjie R33,55
TOTAAL:
R350
DAWIE SE
VOORSPELLING VIR DIE EKONOMIE IN 2011:
Europa
se “skuld-gemors” en Amerika se “onkonvensionele eko- nomiese beleid” sal die
wêreld-ekonomie beïnvloed, en verdere “krisisse” daar “kan die ekonomie van
vooraf beduiwel”, sê hy.
“Maar
gelukkig speel die ‘Weste’ vandag ’n kleiner rol as die ‘Res’, en dit lyk asof
die ‘Res’, wat Rusland, China, Indië, Suid-Amerika en Afrika insluit, ekonomies
goed vaar.
Weens Suid-Afrika se verbeterde verhouding met die ‘Res’ behoort ons
ekonomie redelik goed te vaar. Ons ekonomiese groei sal weer eens te laag wees
om ’n noemenswaardige impak op ons hoë werkloosheidsyfer te hê.”