Hoekom ek geskep is
2012-01-28 06:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Wanneer ’n mens in Botswana van die Trans-Kgalagadi-hoofweg naby Ghanzi afdraai en die stroom beeslorries agterlaat, lê die piepklein sendingdorpie D’Kar 80 km verder noord.
Hier in die Sentraal-Kgalagadi is nie veel nie. Of baie, afhangend van hoe jy na die wêreld kyk. Baie son, kameeldoringbome, kalkreet en sand – van horison tot verre horison. Maar min mense, min water, min genade.
Veral min genade vir die Khoisan- mense wat al duisende jare lank in hierdie dorsland woon. Teen die 1980’s het die Khoisan omtrent geen toegang tot grond meer gehad nie en die Botswana- regering het toe met ’n hervestigings- program begin.
D’Kar het egter nie vir regeringshulp gekwalifiseer nie omdat dit op Gereformeerde kerkgrond geleë is. Die kerkraad het toe sy eie projekte begin en uiteindelik, in 1991, die Kuru-ontwikkelingstrust gestig.
Kuru beteken “doen” of “skep” in die Naro-taal. Daaruit het ’n kunsprojek gevloei waardeur Khoisan-mense hul stories op doeke en afdrukke begin vertel het.
Een van hulle was ’n vrou genaamd Coex’ae Qcam, of Dada, soos sy bekend gestaan het. Sy is in 2008 oorlede en lê in D’Kar onder die wit kalkreet begrawe.
Maar haar woorde en werk lewe voort in ’n koffietafelboek wat pas deur twee ondernemende Botswana-burgers, Jenny Egner en Ann Gollifer, gepubliseer is.
’n Mens kyk twee keer na die titel I Don’t Know Why I Was Created. Dit kom van iets wat Dada op ’n dag gesê het: “Ek is enig in my soort, ek weet nie waarom ek geskep is nie.”
Dada se eiesoortigheid het Ann onmiddellik opgeval toe sy haar in 1991 vir die eerste keer by ’n Kuru-kunswerksessie ontmoet het.
Nadat Ann in 1983 ’n meestersgraad in kunsgeskiedenis aan die Universiteit van Edinburgh in Skotland verwerf het, het sy haar destydse kêrel Botswana toe gevolg. Ann se pa is Engels en haar ma ’n Suid-Amerikaner van inheemse herkoms.
Ons ontmoet in die boomryke teetuin van die kwekery wat haar skoonpa aan die buitewyke van die hoofstad Gaborone tot stand gebring het. Ann, ’n borrelende brunet, sit oorkant haar medeskrywer, die blonde Jenny, ’n skraal en saaklike onderwyseres. Jenny is in Botswana gebore.
“Ek was regtig, regtig smitten met haar,” onthou Ann daardie 1991-werk- sessie. “Ek het gedink sy is boeiend, ek het gedink haar kultuur is boeiend en ek het gedink Dada se gebruik van kleur was werklik gesofistikeerd.”
Ann en Dada het vriende geword en later professioneel saamgewerk aan ’n uitstalling saam met die Tswana-kunstenares Neo Matome. Three Women, Three Perspectives het deur Suider-Afrika getoer.
Dada se werk het ál meer opslae gemaak, en dit is van Londen tot die VSA en Japan uitgestal. Sy het die gesig van die Kuru-ontwikkelingstrust geword, ’n ambassadeur vir haar mense.
Jenny se ma woon langs Ann en het vir haar Dada se stories vertel wanneer sy in Gaborone kom kuier het.
“Ek het gesê: Skryf ’n boek! Laat sy dit neerskryf!” sê Jenny.
“Dit was dus Jenny se idee,” vertel Ann. “Sy het gesê sy sou dit graag wou doen.”
Jenny val haar in die rede. “Wel, ek wou gehad het jý moes dit doen...”
“...en ek het gesê: ‘Oukei, maar jy moet my help’,” sê Ann. “Ek het net geweet hoeveel werk dit sou wees.”
En op ’n dag in 2002 het die twee Dada op D’Kar gaan vra wat sy van die projek dink. Jenny onthou haar woorde goed: “Sy het net gesê: ‘My eerste kind is in ’n kraal gebore’.”
Die gedagte was aanvanklik om ’n biografie oor Dada te skryf. Sy is waarskynlik in 1934 in die Ghanzi-streek in Botswana gebore en het volgens Ann na haarself as Naro, eerder as San of Boesman, verwys. (Later, in die tyd wat sy in Namibië vir Afrikaanse boere as kinderoppasser gewerk het, het sy vermoedelik die naam “Dada” gekry omdat dit makliker vir die kinders was om uit te spreek.)
Ann en Jenny se boek het egter stadig gevorder: D’Kar is agt uur se ry van Gaborone af, Ann se kunstenaars- loopbaan was op dreef en Jenny het kinders gehad. Telkens moes ’n tolk gereël word om Dada se woorde uit Naro of Setswana na Engels te vertaal. Daarby was Dada gereeld siek.
Die grootste struikelblok was dat hulle eenvoudig nie ’n chronologiese lewensverhaal agter mekaar kon kry nie.
“Almal (in Dada se lewe) het so baie name,” verduidelik Ann. “En Dada sou afdwaal. Ander kere was sy moerig.”
Ann pers haar lippe saam en vou haar arms voor haar bors om Dada se houding te demonstreer.
“Dit het afgehang hoe sy gevoel het en teen die einde van haar lewe was sy nie gesond nie. Dada het ook gedurig kontantvloei-probleme gehad.”
Nadat servikale kanker by Dada gediagnoseer is, het Ann haar versorg terwyl sy bestraling in Gaborone ontvang het.
Die behandeling was egter te laat. Ann en Jenny het deur die nag met Dada terug na D’Kar gery sodat sy tuis kon sterf. Uiteindelik is die taai Naro-vrou eers drie maande later op 24 Oktober 2008 in Ghanzi se hospitaal oorlede.
Op pad na Dada se begrafnis het die lig opgegaan.
“Ek het gesê: Ek kan dit nie doen nie, ek kan nie hierdie boek voltooi nie. Dis te klinies,” onthou Ann.
Maar Jenny het gevoel hulle moet deurdruk.
“Ek het ’n lêer op my skoot gehad, so dik,” beduie Ann tussen haar uitgestrekte duim en wysvinger.
“Ek het gesê: weet jy wat? Vergeet hierdie ‘sy is gebore... – dis vervelig en ons is nie Gabriel García Márquez nie! Soveel soos ons graag wou wees, want hy is die enigste een wat haar lewe die eer kon aandoen.”
En daar word ’n nuwe plan toe gebore: “Kom ons doen ’n A tot Z in haar eie woorde.”
Die boek sou volgens elke letter van die alfabet ingedeel word, met skilderye, foto’s, staaltjies en aanhalings wat by elke tema pas.
“Ons het dit besluit en bang! – teen die tyd wat ons in D’Kar aangekom het, was die boek uitgewerk,” onthou Ann.
“Ons het bloot gegaan: ‘A – aeroplanes, animals...’ Want ons het die teks uit ons kop geken.
“Ek dink sy (Dada) sou gek hieroor gewees het. Sy sou nooit ’n tradisionele biografie gelees het nie. (Sy sou ook nie kon nie, want sy was ongeletterd.)
“En sy het nie ’n storie so vertel nie. Ons het haar nie aan die begin van haar lewe geken nie. Daar is ook geen foto van haar as ’n meisietjie nie. Natuurlik nie.”
Nog was dit het einde niet: Ann en Jenny moes ’n uitgewer vind. Baie uitgewershuise het belanggestel, maar omdat die boek in ’n nismark val, sou die twee vroue in die omgewing van P250 000 (ongeveer R270 000) moes insamel om dit die lig te laat sien. En inboet op ideale vir die boek.
Op besoek aan Singapoer in 2010 het Ann ’n drukker gevind wat ’n derde van die prys van Suider-Afrikaanse maatskappye gevra het. En siedaar – “Eggsson Books” is gebore.
Jenny vertel. “Ek noem my man ‘Egg’, want sy van is Egner...”
“...en my man se van is Nielson,” sê Ann, “so toe kies ons ‘Eggsson’...”
“...want hulle is waarskynlik ons grootste ondersteuners,” voltooi Jenny die storie.
Die helfte van Eggsson Books se wins uit hierdie projek sal aan Dada se familie gaan.
I Don’t Know Why is reeds in Johannesburg, Londen, Gaborone en Maun bekendgestel met D’Kar wat waarskynlik einde Februarie sy beurt kry.
Elke kunstenaar van die Kuru-kuns-projek het ’n eie eksemplaar gekry. In ’n kultuur waar foto-albums skaars is, vorm dit ’n kosbare kleinood vir baie van hulle.
Tot dusver word die boek goed ontvang, sê Ann en Jenny – die hoof van Botswana se weermag stel selfs belang om die boek aan te koop vir korporatiewe geskenke.
Wat dink hulle sou Dada gesê het?
“Sy sou ’n bietjie lughartig gewees...” begin Ann en bedink haar. “Nee, sy sou opgetoë gewees het, sy sou opgetoë gewees het.”
Jenny onthou. “Sy het altyd gesê – en ek dink baie daaroor – ‘sal ek lank genoeg lewe om die boek te sien?’ Want dit het ons so lank gevat omdat ons net af en toe daaraan gewerk het.”
Ann skud haar kop. “Ek voel tog in my hart ons kon die boek nie uitgegee het voordat sy gesterf het nie. Ons was glad te na daaraan omdat sy so siek was.”
Uiteindelik is I Don’t Know Why nie ’n opgewekte boek nie, verduidelik Ann. Tussen die helder, amper kinderlike kunswerke word ’n mens met kwessies soos vigs, gesondheidsorg, armoede, vroue- en minderheidsregte en rassisme gekonfronteer.
In so ’n mate dat Jenny se man gehuil het nadat hy die boek gelees het, vertel sy. “En hy huil nooit nie.”
Ann sê: “Dada het te veel gedrink, sy het affairs gehad, sy was in die tronk... en sy het ’n uitstalling van (die Britse pop-kunstenaar) David Hockney bygewoon. Sy het vir die bedelaars in Londen geld gegee. She’s done it all.”
Hulle het reg van die begin gemik om Dada gerond en realisties uit te beeld, sê Ann.
“Ons het besluit ons wil nie iets romanties of eksoties oor hierdie vrou doen nie. Sy is te eg, sy is nie ’n sjamaan nie, haar ras sonder haar nie uit nie. Dis bloot wat sy is.”
Jenny sê: “Dis hoekom sy nie op die voorblad in tradisionele drag is nie.”
Ann kyk af na die boek in haar hande en lag.
“Sy het ’n T-hemp van die Orapa- bierfees aan!” sien sy.
“Sy het nie velle gedra nie, sy was nie ’n jagter-versamelaar nie, sy was ’n hedendaagse vrou met ’n pragtige en interessante verlede.
“Dís oor wie ons wou geskryf het – hierdie vrou in die stewels,” wys Ann na die volgende foto van Dada. Sy sit op ’n krat, hand in die ken, met yslike stewels aan haar voete.
’n Ongeletterde kunstenaar vir wie skrif soos voëls se spoortjies in die sand gelyk het, maar wat die veld en natuur kon lees. ’n Veel meer wêreldwyse vrou as wat haar kuns te kenne gegee het. En einde laaste, ’n siel waarin ’n bietjie van ons oer-self terugkaats.
- Dada: I Don’t Know Why I Was Created, saamgestel deur Ann Gollifer en Jenny Egner, is te koop by die Everard Read-galery, David Krut-boeke, Kim Sacks-galery en die Origin Centre in Johannesburg.

Dié werk was in 1996 deel van Pippa Skotnes se uitstalling, Miscast.

“Daar was destyds mense in Ghanzi wat gesê het die Boesmans het sterte. Toe kom kyk hulle, en hulle sien ons het nie sterte nie. Die Tswana-mense sê ons is diere,” het Dada verklaar. Dié werk, het sy gesê, is van diere.

Dada het geglo: “As iets in jou hart is en dit wil uitkom, sal dit.” Dit was ook hoekom sy geskilder het.

Dada het aan hierdie skildery gewerk toe sy siek geword het. Sy is in 2008 oorlede en het die skildery nooit voltooi nie.

Dada het die deur van haar huisie in D’Kar in haar kenmerkende, kleurvolle styl geverf.