In Fanon sekristalbal
2011-11-18 22:33
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Baie mense verwag dat Julius Malema en sy volgelinge – met hul dreigemente van grondonteiening en die nasionalisering van myne – hulle ná sy skorsing uit die ANC-jeugliga sal toespits op die ekonomiese bemagtiging van die jeug. Sommige mense voorspel probleme; ander meen Malema is sy politieke mag kwyt.
Min mense onthou egter die waarskuwings wat een van die invloedrykste denkers van die 20ste eeu presies 50 jaar gelede uitgespreek het – daardie profetiese woorde wat nou al hoe meer lyk of dit waar kan word.
Einde 1961, ’n paar maande voor die dood van dr. Frantz Fanon, het sy boek Les Damnes de la Terre(The Wretched of the Earth) op die hoogtepunt van die Algerynse revolusie verskyn. Die Franse skrywer en filosoof Jean-Paul Sartre het destyds die voorwoord geskryf, maar nou, jare later, het Homi K. Bhabha, direkteur van die Sentrum vir Geesteswetenskappe aan Harvard, ’n nuwe voorwoord vir die boek geskryf. Hierin lig Bhabha weer Fanon se waarskuwende vinger: “Die basiese konfrontasie wat gelyk het of dit dié tussen kolonialisme en anti- kolonialisme is, selfs kapitalisme versus sosialisme, het reeds minder belangrik geword.
“Wat vandag saak maak, die kwessie wat die horison blokkeer, is die noodsaak vir ’n herverspreiding van rykdom. Die mensdom sal hierdie vraagstuk móét aanroer, hoe verwoestend dit ook al kan wees,” haal Bhabha Fanon aan.
In sý voorwoord het Sartre Fanon destyds as ’n soort geweldvraat voorgehou – iets wat tot groot omstredenheid gelei het. Fanon was weliswaar ’n voorstander van “absolute” geweld in die stryd teen kolonialisme en ander onderdrukkende regimes, maar met ’n rede wat deesdae in die nuwe Suid-Afrika nie ongegrond lyk nie. Hy het ’n teensin gehad in “onderhandelde” bevryding deur politici, want hy het geglo dat die leier-elite van die onderdruktes ná die bevrydingsproses in korrupsie sal verval en hul eie sakke sal volstop terwyl hulle die armstes van die armes, die “wretched” van die aarde, vergeet.
Fanon het geglo ’n revolusie moet eerder deurgevoer word sodat “dié wat laaste was, eerste sal wees”. Ware bevryding sou volgens hom net plaasvind as die behoeftes van die arm en ongeletterde agtergeblewenes die fondament van nasiebou sou vorm.
En dit is dié denkrigting wat herinner aan die opkoms en val van Malema, ’n omstrede “kampvegter” vir die armes ondanks sy duur uitrustings en weelderige leefstyl.
(Terloops kan genoem word dat The Wretched of the Earth in die vroeë sewentigerjare aan die Universiteit van Natal Steve Biko se gewildste leesstof was – hy het dit ook aan al sy vriende gegee om te lees. ’n Mens wonder of die veiligheidspolisie van destyds ’n idee gehad het van Fanon se werk en invloed.)
Fanon het klaarblyklik 50 jaar gelede nie heeltemal geloof gehad in die integriteit van nuwe, onervare leiers nie. Hy was ’n psigiater en filosoof wat onder die juk van kolonialisme grootgeword het, en het verstaan dat “jong’’ nasies wankelrig kan omgaan met die idee van ’n “nasionale bewussyn”.
“Nasionale bewussyn is niks anders as ’n growwe, leë en broos dop nie. Die krake daarin verduidelik hoe maklik dit vir jong, onafhanklike lande is om terug te val van nasie na etniese groepe en van staat na stam – ’n regressie wat verskriklik skadelik en ten nadele van die ontwikkeling van ’n nasie en nasionale eenheid is,” het hy geskryf.
Uit hierdie aanhalings is dit duidelik hoekom Fanon soms gewilder in oud-koloniale lande as in Afrika was. Tog was hy vurig anti-koloniaal, ’n revolu- sionêr in murg en been.
Fanon is as die afstammeling van ’n slaaf in Martinique gebore. Hy het aanvanklik daar skoolgegaan en onder die invloed gekom van die skrywer Aimé Césaire, ’n onderwyser by wie hy geleer het “swart is oukei”. Hy het verder in Frankryk gaan studeer en hom as dokter en psigiater bekwaam.
Fanon het hom daarna in Algerië gevestig, waar hy ’n groot ondersteuner van die bloedige Algerynse revolusie (1954-1962) geword het.
Hy het verskeie boeke en artikels geskryf, waarvan Peau Noire, Masques Blancs (Black Skin, White Masks) naas The Wretched of the Earth die belangrikste was.
Hy het The Wretched of the Earth in amper koorsagtige haas tussen April en Julie 1961 geskryf en kon nog van die resensies lees voordat hy op 6 Desember 1961 in Amerika aan leukemie oorlede is. Hy was 36 jaar oud.
Die dag toe hy dood is, het die Franse polisie al die eksemplare van die boek in Paryse boek- winkels van die rakke afgehaal.
Sy Black Skin, White Masks is vroeër, in 1952, geskryf en is onder meer ’n gevallestudie van die swart psige onder koloniale invloed en wit onderdrukking.
Ná kolonialisme, het Fanon gesê, voel swart mense, die voorheen gekoloniseerdes, minderwaardig teenoor en afhanklik van hul voormalige wit oorheersers. Hulle voel beroof van hul kulturele identiteit en uitgelewer aan die kultuur van die koloniseerder. Weens dié minderwaardigheidskompleks – die nalatenskap van jare onder koloniale verdrukking – sal hulle die kulturele kodes van die voormalige oorheersers probeer nadoen en dit internaliseer.
Dié tendens, het Fanon gesê, blyk veral in die gedrag van diegene wat skielik mag, geld en status bekom.
Fanon se studie van die psigopatologie van kolonialisasie is steeds van toepassing: In Suid-Afrika begryp wit mense nie altyd die langtermyn-invloed van apartheid op die psige van die voorheen onderdruktes nie. Maar Fanon se studie verklaar die regeringstyl en beskouing van die nuwe elite – die manier waarop hulle die statussimbole van hul voormalige wit verdrukkers sal nastreef, die rede waarom die armes agtergelaat word in die nuwe elite se strewe om afstand te doen van dít wat terugrem na die verlede.
Dié groep, het Fanon gesê, word die gesig van neo-kolonialisme: Hulle word die nuwe bevoorregtes, dié wat selfsugtig leef terwyl die agtergeblewenes krepeer.
En dít, het hy gewaarsku, sou die onvermydelike gevolg van jare van onderdrukking wees.
Benewens Sartre en Simone de Beauvoir, met wie Fanon ook bevriend was, het verskeie ander mense sy denke beïnvloed: Nietzsche, Lacan, Freud, Jung, Hegel en Marx.
Hy was by uitstek ’n aanhanger van die manicheïsme. Hiervolgens word die wêreld in twee groepe en verskynsels verdeel – een goed en een sleg, lig en donker, wit en swart.
Dit sluit aan by Jung se teorie van teenoorgesteldes in die psige van die mens met sy ligte sowel as skadukant.
Fanon voer nie aan dat swart noodwendig goed en wit sleg is nie. Hy sluit hom eerder aan by Jung, wat op ’n keer beweer het dat wit kolonialiste ná sowat 20 jaar in Afrika ’n “swart” onbewuste verkry wat hulle op swart mense projekteer omdat hulle nie die bestaan van sowel lig as donker in die psige van elke individu wil erken nie.
Omdat die wit Europeër se kollektiewe kulturele onbewuste die swart man as die simbool van seksuele mag sowel as boosheid beskou het, het die swart man vir sy wit eweknie ’n fobiese “objek” geword, het Fanon gesê.
In sy nuwe voorwoord tot The Wretched of the Earth sê Bhabha die boek “vat ons terug na die toekoms”. Dit is in ’n groot mate waar.
Die boek het destyds baie kritiek, ten regte, uitgelok. Tog het dit onteenseglik ’n groot invloed gehad, selfs in die letterkunde. Philip Roth verwys daarna in American Pastoral, Salmon Rushdie haal Fanon in Satanic Verses aan, en in Tom Wolfe se A Man in Full is Fanon selfs ’n karakter.
En vandag – 50 jaar ná die publikasie van The Wretched en die dood van Fanon – het dit steeds ’n boodskap vir die “jong” Suid-Afrika.