In ’n klas van sy eie

2011-07-15 20:07

Victor Khambule is ’n onderwyser met ’n “lang hart” en die hoof van die VVA-tak in Soweto. “My pa het die gees van die Afrikaans in my hart geplant ... Sy erfenis is nou myne,” sê hy.

Foto's   ·   Lesersfoto’s   ·   Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

In die Paarl staan die Taalmonument van beton en graniet. In ’n klaskamer met lendelam stoele êrens in Soweto is daar nóg ’n monument vir Afrikaans – een van vlees en bloed. En sy naam, skryf DANIËLLA DU PLOOY, is Victor Khambule. CORNEL VAN HEERDEN het die foto van sy weeklikse taalles geneem.


“Ons gesels uitbundig; ons drink boeretroos; almal hier deel die liefde vir die taal.”

Dis 09:00 en die skoolklok lui, maar die klaskamers by die Kwa-Mahlobo Secondary School in Meadowlands in Soweto is leeg; die winkels en strate buite vol verveelde kinders.

In één klaskamer word daar egter gelees en geleer, en die bord is met wit krytwoorde bekrap.

Die leerders in dié klas is gemiddeld ’n paar dekades ouer as die tieners wat gewoonlik op die stoele sit. Hulle SMS nie onderlangs op selfone, skryf briefies of staar by die venster uit nie. Niemand dwing húlle om hier te wees nie.
Die meeste het brille op en sit naby die swartbord.

Voor staan Victor Khambule, hul onderwyser. Hy is, soos altyd, in ’n langbroek, kraaghemp en netjiese baadjie geklee.
Die kryt gly oor die bord.


Vandag, sê Victor, gaan ons die dae van die week leer.

“Wat is die eerste dag?” vra hy, sommer vóór die klas amptelik begin.

“Sunday, Sondag,” sê die 67-jarige Katrina Baloyi. Sy kén Afrikaans, sy weet. “Mooi,” sê Victor. “Pragtig. Uitstekend.”

Dis ’n Maandagoggend en tyd vir Afrikaans-lesse in Soweto. Dis gratis, en vir enigeen wat wil kom leer. Nes elke ander week.

Victor is die afgelope 10 jaar minstens een keer per week hier. Vandag is hier ’n handvol leerders in die klas – een man, die res vroue. Dis minder as gewoonlik, omdat dit ’n vakansiedag is.

Die groep klap opgewonde hande en begin blaai wanneer Victor vir elkeen ’n ou uitgawe van die tydskrif SARIE uitdeel. Hy het onlangs teruggekeer van die Vriende van Afrikaans (VVA) se simposium in Stellenbosch, en op die agterste vier lessenaars is daar nou ook ’n paar nuwe boeke gestapel.

Die nuwe boeke lê bo-op die oues: At van Wyk se Stampie, Elsabé Steenberg se Voetpad – Stories vir Afrika en Charles Fryer se verhaalbundel Kinders van die Aarde.

Victor se les word onderbreek deur ’n klop aan die deur. Hy stap nader en pluk aan ’n stuk draad waar die handvatsel eens was.
 
Drie hoërskoolmeisies kom binne – dis vakansie, maar Victor se ekstra klasse help om hul punte vir Afrikaans te verbeter.

Hulle gaan sit ingeprop in die voorste bank, soos sardientjies teen die Johannesburgse winterkoue.

Ná hulle kom ’n klomp tjokkertjies giggelend ingehardloop. Hulle het buite op die skoolterrein gespeel, maar gaan sit nou agter in die klas en blaai deur die Afrikaanse boeke terwyl Victor klasgee.

Hy gaan voort.

“Hoe gaan dit?”

“Goed, en met jou?” antwoord die klas in een stem.

“Goed dankie. Ons sal begin met sang.”

Gogo Roselina Mashinini staan op – dit is elke week haar voorreg om die les só te begin. Sy gaan staan voor en sit die noot in: “Wie wil saamgaan, wie wil saamgaan, wie wil saamgaan, na die Here toe, na die Here toeeeee?”

Sy skep asem vir die tweede vers. “Ek sal saamgaan, ek sal saamgaan, ek sal saamgaan, na die Here toe, na die Here toeeeee. Ameeeeeen.”

Victor slaan sy hande saam en maak sy oë toe. “In die naam van die Vader, die Seun, en die Heilige Gees, Amen.”
Amen, sê die klas.

Die les begin. Victor wil weet wat die datum is.

“27 June,” kom die antwoord.

Ja, maar hy wil dit in Afrikááns hoor.

“27 Junie, Tweehonderd-en-elf,” sê iemand.

Amper reg, sê Victor: “Die sewe-en-twintigsté Junie. Tweeduisend-en-elf. Of ons kan sommer sê Twintig-elf.”

Daarna volg die dae van die week. Victor noem die Engels, en die klas moet dan die Afrikaanse antwoord gee.

“Thursday is Donderdag,” sê Victor, en maak boksbewegings. “Ons donder mekaar op Donderdag.” Hy lag.

Hy skryf alles neer op die bord, in albei tale, en verduidelik waarom ’n woord op ’n sekere manier gespel word. Sy vlootblou baadjie is later vol kryt soos hy skryf.

Sy hande beweeg metodies op die swartbord: Daar is opskrifte, hakies, nommers. Temas word onderstreep.

Ná die dae van die week, volg die maande van die jaar. “Maart, nie Maat nie,” wys hy tereg. “Jy moet die ‘R’ uitspreek.”
“Maarrrrrrrrt,” sê die klas.

Daar is baie om te leer: Victor behandel vandag ook homonieme, homofone, enkel- en meervoud, manlike en vroulike vorme.

In ’n stadium wys een van die leerders vir Victor ’n fout op die bord: Hy het die enkel- pleks van die meervoud neergeskryf. “Dankie, dankie!” sê Victor. “Gee haar ’n hand van applous, sy’t my fout raakgesien. Ek hou van slim mense.”

Wanneer die leerders hul hande opsteek of ’n vraag reg beantwoord, raak hy opgewonde: “Goed, dis uitstekend, mooi so!”

Victor se voete trap al 46 jaar lank spore in Meadowlands se strate. Hy is hier gebore, het hier skoolgegaan.

En hy bly steeds hier, saam met sy drie jonger susters. Hy is enkellopend, sy enigste “kinders” is dié wat hy onderrig.

Die liefde vir Afrikaans, sê hy, kom van sy “wyle vader” en grootoupa. Vrystaters. Sy pa was eintlik Zoeloe, en sy ma Sotho. Afrikaans is sy derde taal. “Albei ouers is nou al oorlede. Maar my pa het die gees van die Afrikaans in my hart geplant...die appel val mos nie ver van die boom af nie.”

Dié boom, Norman Khambule, was ’n onderwyser, later polisieman, en toe ’n tolk in die hof. “Sy erfenis is nou myne.”
Maar lief soos Victor Afrikaans nog altyd gehad het, was ander inwoners van Soweto se harte vroeër kliphard van die haat teenoor Afrikaans – en sy sprekers.

Victor was 11 jaar oud toe die kinders van Soweto in 1976 in opstand gekom het teen onderrig in Afrikaans. Hy onthou daardie dag, 16 Junie, nog vaagweg. Die fyner besonderhede het verlore gegaan, maar sekere beelde bly hom by.

“Ek was in die landbou-klas – in daai jare het ons dit nog so genoem. Dit was in Afrikaans gewees. Van die groot seuns, die matrikulante, het dit kom ontwrig.”

Hy onthou hulle het ingestorm, boeke by die vensters uitgegooi. “Hulle was kwaad. Ons was jonk; bang. Moes doen wat gesê word. Ons het maar die klas verlaat.”

Daarna was die landbou-klasse, ál die klasse, in Engels.

Vir Victor, met sy aanvoeling en liefde vir Afrikaans, was dit moeilik.

“Ek was te jonk, ek het die taal nooit aan politiek gekoppel nie. Ek verstaan hulle seer nou, maar toe het ek nie eens begryp wat gebeur daar nie.”

Maar, sê hy, “met die genade van Bo”, het hy matriek geslaag. “Landbou, wetenskap, wiskunde...” onthou hy. “En ek’t ook in matriek ’n wonderlike Afrikaans-onderwyser gehad. Hy was swart, en vir my ’n voorbeeld dat ek mág lief wees vir die taal.”

Dit was daar waar hy kennis gemaak het met sy gunsteling- Afrikaanse literatuur – dié van C.J. Langenhoven en D.F. Malherbe.
Ná skool het hy in ’n bank gewerk, waar die bestuurder, ’n “meneer Olivier”, gesien het hoe flink die Afrikaanse woorde oor sy lippe rol.

“Ek is die geleentheid gegun om by die RAU – nie UJ nie, dit was toe die RAU – te gaan studeer.”

Hy het ’n diploma in Afrikaans voltooi, en ook drama-vakke geneem. Só het Victor in kontak gekom met die VVA, en later ’n tak in sy tuisdorp gestig. “Die prinsipaal van die skool hier het ook ’n liefde vir Afrikaans, daarom mag ek hierdie geboue gebruik,” sê hy en beduie na die klas.

Die VVA se jaarlikse saamtrek op Stellenbosch – Victor verwys slegs na “Matieland” – is telkens vir hom ’n hoogtepunt. “Ons gesels uitbundig; ons drink boeretroos. Almal daar deel die liefde vir die taal.”

Dat daar ’n behoefte in die township sou wees om Afrikaans te leer, het Victor nooit betwyfel nie. Wanneer mense wel lyk asof dit hulle nie aanstaan nie, raak hy vurig.

Hy beduie met drif: “Ek sê vir hulle: ‘Dié taal is ’n taal nes die ander inheemse tale van Afrika. Dis ons s’n, en ons moet trots wees op hom.”

Hy sien al hoe meer opflikkering, nuuskierigheid, waar daar vroeër nie was nie. Die seer wat eens ’n muur om hulle gebou het, begin stadig verkrummel by die ouer mense.

“Hulle bel my, hulle kom kuier en luister wanneer ek daaroor praat.”

En elke jaar kom klop ’n paar matrieks skamerig aan sy deur. “Met die vraagpapier in hulle hand, en dan help ek sodat hulle kan slaag.”

Sy ervarings met wit Afrikaans- sprekendes was tot dusver grootliks positief. “As hulle my hart sien, dan bemoedig en spoor hulle my aan.”

En rassisme, glo Victor, is ’n “duiwelsgees”. “Dié taal, die feit dat ek hom kan praat, het my geleer ons is almal dieselfde. Ons velle verskil, maar ons bloed lyk dieselfde.”

Dié dat hy hom so kan vererg vir politici wat alewig hamer op die verlede, op mense se verskille. “Dit help net mooi niks. Ons moet kyk na wat ons saambind.”

Sy hoop vir die land, glo Victor, lê juis daarin om nie terug te kyk nie. Daarom het hy dié tak van die VVA ook so genoem: “Die Vriende van Afrikaans in Soweto heet die Vorentoe-tak.”

En dis ook waarheen hy sy derde taal help neem, dié Afrikaans wat hy so liefhet. Vorentoe.
 

- None

Binne Beeld

Weer
Lotto
Ksd: 14-20°C Scattered clouds. Mild. Pta: 7-21°C Sunny. Refreshingly cool.
Jhb: 4-18°C Sunny. Cool. Bfn: 3-19°C Sunny. Refreshingly cool.
Dbn: 16-26°C Sunny. Mild. PE: 15-25°C Sunny. Warm.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

OPEL

Corsa 1.4 Sport Utility MY04 PU
2008
R 99,900.00

TOYOTA

Corolla 140i MY05
2006
R 104,990.00

AUDI

A3 2.0 FSi Attraction Tiptronic 3-dr
2007
R 207,000.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Chobe Marina Lodge

Spend 2 nights on the banks of the banks of the Chobe river at Chobe Marina Lodge from R6717 per person sharing. Includes return flights, taxes, transfers and accommodation. Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Avengers nou beskikbaar

Marvel Avengers-aksiekarakters nou beskikbaar vanaf R189,95. Koop dit nou.

Toshiba-tabletrekenaar AT-100

Bespaar R1 000 op dié fantastiese tabletrekenaar. Nou slegs R2 999,95. Koop dit nou.

Massiewe speletjie-uitverkoping

Kry tot 65% afslag op speletjies. Alle voorraad moet verkoop word. Terwyl voorraad hou. Koop dit nou.

Meng & Pas

Meng en pas twee albums vir die prys vir R149. Nuwe albums het so pas ingekom. Koop dit nou.

Moet-lees-boeke vir tieners

Die gewildste boeke vir tieners en jong volwassenes. Hunger Games, The Flappers & meer. Koop dit nou.

Aanbod van die week

PS3 speletjies vanaf R149.95

Plus PS2 en PSP speletjies vanaf R99.95. Slegs terwyl voorraad hou. Koop nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...
Daar is vars stories op ons tuisblad. Kliek hier om hulle te lees.