Kleinsus gaan Londen toe
2010-02-27 02:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Ek sit in ’n koffiedrinkplek op die Johannesburgse lughawe. Ek drink ’n espresso en bekyk die gesinnetjie wat pas by die tafeltjie langs my ingeskuif het.
Daar is ’n pa, ’n ma en ’n kleinsus. Nie dat die kleinsus meer so klein is nie: Die beloftes van vrouwees slaan ferm onder haar Truworths-toppie deur. Sy is op pad oorsee, lei ek af, want die ma vra: “Het jy jou paspoort, Sus?”
En sy antwoord: “Ja, Ma. Ek sê dan.” Sy beduie na die rugsakkie op haar skoot. “Hiér.”
“En jou euro’s?” vra die pa. “Waar’s jou euro’s?”
“Ook hiér.” Die kind wys weer na die sak. Haar vingernaels is blou geverf.
“Jy moet oppas, ounooi,” sê die pa. “Daar oorkant is ook skelms. Oom Saag sê vir my Londen is deesdae vol Turke en Nigeriërs.”
“Daar is glo baie sakkerollers,” voeg die ma by. “Jy moet jou goed tog mooi oppas, ou Sussa.”
“Ek sal fine wees, julle. Chill net.”
Hulle kan van enige plattelandse dorp of middelklasbuurt af wees: Heilbron, Sabie, Koster, Warrenton. Hospitaalpark. Akasia. Discovery.
Die pa kyk in die toonbank se rigting waar twee of drie kelners borde en koppies en glase op en van skinkborde af pak. “Waar bly die waiter?” vra hy, lig sy arm en klap sy duim en wysvinger geluidloos.
Dit is ’n Vrydagaand en die lughawegebou is vol mense – mense wat iewers wil wees waar hulle nie op die oomblik is nie.
Kleinsus haal ’n selfoon te voorskyn. Haar duim ken die pad oor die knoppies al goed.
’n Kelnerin kom nader.
“Do you serve beer?” vra die pa. “I think I must have a beer now.”
“Yes, we do, sir,” antwoord die meisie en sit drie spyskaarte op die tafeltjie neer.
“Bring me a Castle then.” Die pa kyk na die ma. “Koffie vir jou, Ma?”
“I’ll take a filter-koffie,” sê die ma vir die kelnerin en plaas haar hand op Kleinsus se arm. “Iets vir jou, Sus?”
Kleinsus kyk ’n oomblik van die selfoon af op. “Filter-koffie,” sê sy. “With hot milk.”
Die pa wikkel ’n pak Winston-dertig uit sy roomkleurige hemp se bosak en sit dit voor hom neer, byna soos ’n kaartspeler wat sy laaste troef speel. Die bekommernis lê in ’n keep tussen sy oë.
Die ma kyk op haar horlosie. “Hulle sal ons goed gou moet bring,” sê sy. “Dis al kwart voor.” Sy sit haar hand weer op Kleinsus se arm. “Is jy nou seker ons sal met jou kan praat as jy daar oorkant kom, Sus?”
Kleinsus kyk na die ma. “Hoeveel keer moet ek nog vir Ma sê: As ek daar oorkant kom, koop ek net vir my ’n ander simkaart. Hallo? Ek sal fine wees.”
“Jy moet dadelik vir ons ’n SMS stuur,” sê die pa. “Ons wil weet jy is veilig.”
“Chill net, Dad. Relax. Oukei?”
By een van die ander tafeltjies hou twee hande ’n Engelse koerant in die lug. “Germiston couple killed in robbery,” lui een van die opskrifte.
Die kelnerin bring die koffie en die bier. “Is there nowhere in this building one can smoke?” vra die pa vir haar toe sy die blikkie bier en die glas voor hom neersit.
“I’m afraid not, sir. Sorry.”
Die pa mompel iets onhoorbaars. Die ma skeur ’n pakkie suiker oop en lees die spreuk agterop die pakkie, maar sy deel dit nie met die pa en Kleinsus nie.
’n Kurt Darren-rige selfoondeuntjie begin speel. Dis hare. Sy kyk op haar selfoon se skermpie. “Dis my ma,” sê sy – en antwoord: “Hallo, Mammie. Als reg daar. Ja. Ja. Ons is hier op die lughawe, ja.”
Die pa drink sy bier en kyk na die mense wat skaduweeloos verbystap. Dalk het hy twintig, dertig jaar gelede, toe hy pas agtien of negentien jaar was, ook so saam met sy ouers iewers op ’n treinstasie gesit en afskeid neem voordat hy op ’n militêre trein geklim het om sy nasionale diensplig iewers te gaan doen.
“Nee, Mammie, sy sit hier,” sê die ma vir die ouma oor die foon en kyk na Kleinsus. “Ons gaan haar amper groet, sy moet amper ingaan. Ja. Ja. Oukei. Hier’s sy.” Die ma hou die selfoon uit na Kleinsus toe. “Ouma wil gou met jou praat.”
Kleinsus neem die selfoon traag uit die ma se hand. “Hallo, Oumie,” sê sy. “Ja, Oumie. Ja. Ja. Ek het onthou, ja. Ja. Hy is in. Genuine. Dankie, Oumie. Ek sal. Ek sal.”
Die pa se bier is op. Die ma kyk weer op haar horlosie. Nadat hulle Kleinsus afgesien het, sal hulle moontlik in stilte terugry na hul dorp of hul woonbuurt, stil terug na ’n leë huis toe, terwyl die pa se sigaretkooltjie in die donker motor gloei.
“Bye, Oumie,” sê Kleinsus, druk die foon dood, en gee dit weer vir die ma.
“Ons is amper laat,” sê die ma en kyk na die pa. “Het jy die rekening gevra?”
Die pa waai vir die kelnerin met ’n lang arm.
“Wat wou Ouma weet?” vra die ma vir Kleinsus.
“Sommer niks nie, Ma. Ons is laat.”
“Ek wil weet wat wou Ouma weet.”
“Sy wou net weet of ek ’n Bybel ingepak het.”
“Het jy?”
“Ja, Ma. Ek het.”
“Is jy seker?”
“Chill net, Ma. Oukei?”
Kleinsus kyk op haar horlosie. “Kom. Ons moet gaan.”
Die kelnerin bring die rekening. Die pa kyk daarna en haal ’n volstruisleerbeursie uit sy sak. Kleinsus kom regop.
Oor minder as 24 uur sal sy in Londen wees, sê ek vir myself. Sy sal Big Ben kan hoor lui en dalk sal sy ’n foto van haarself saam met Elton John in die Madame Tussaud-museum laat neem en een nag sal ’n dronk Engelsman haar dalk in ’n nou straatjie probeer vasdruk en soen.
Die kelnerin bring die kleingeld, twee of drie bruin note. “You can keep it all,” sê die pa vir haar en kom regop.
“Thank you. Thank you so much,” sê die kelnerin. “Are you travelling abroad?”
“No,” antwoord die pa. “No. Only my daughter.”
“On holiday?” vra die kelnerin.
Die pa kyk na Kleinsus wat al begin aanstap het, selfversekerd met haar rugsakkie oor die skouer.
“No, she’s going to work in Londen,” sê hy. “Sy going to be a waitress, just like you.”