Los Héroes de Chile: Hoe 33 myners ’n simbool geword het
2010-10-02 06:00
Chilene se respek vir hul helde is onmiskenbaar.
Los Héroes (die helde) heet die eerste moltreintasie waar ek vroeër vanjaar afklim in Santiago, Chili se hoofstad. Daarby werk ek toe amper by die laerskool Los Héroes de Chile (die helde van Chile), maar word eindelik by Teniente Merino Correa geplaas – ook na ’n held genoem.
“Jy sal Chilene op straat hoor stry wie Arturo Prat die meeste bewonder,” vertel ons toergids in Santiago, sy tong net effentjies in die kies. Prat het in 1879 in die Slag van Iquique tot die dood geveg nadat sy skip deur die magte van Peru en Bolivië gesink is toe die drie lande in ’n oorlog was. Sy gesig verskyn op ’n geldnoot en daar is ’n borsbeeld van hom in amper elke dorp in die land.
Dit was vroeër vanjaar ’n uitgemaakte saak dat helde soos Prat en Chili se koloniale bevryders die kollig sou volstaan op 18 September, toe Chili 200 jaar se onafhanklikheid van Spanje sou vier. Maar toe kom 22 Augustus, en ’n nuwe simbool van nasietrots word oornag vir die Chilene gebore...
MET ESPERANZA
Op dié Sondag het ’n boorgat die 33 Chileense mynwerkers bereik wat ná ’n rotsstorting al 17 dae lank sowat 700?meter ondergronds vasgekeer was. Die mans was in ’n goeie bui toe hulle gevind is, en het reeds in spanne verdeel om wag te staan en te grou vir water.
Chili se gees was teen dié tyd reeds vatbaar vir ’n vlaag patriotisme: dit het begin met die opruimingswerk ná ’n aardbewing in Februarie, en het met die Wêreldbeker-sokkertoernooi ’n hupstoot gekry toe Chili vir die eerste keer in twaalf jaar vir deelname gekwalifiseer het. Die afwagting in die opbou na die land se onafhanklikheidsviering was tasbaar.
Maar toe die mynwerkers lewend gevind word, het die afwagting in ’n golf van patriotisme oorgespoel. Chileense vlae is op elke straathoek in die land deur die lug geswaai en die kreet “Chi-chi-chi... le-le-le!” het kort-kort spontaan opgeklink.
Die myners se familielede het deurnag partytjie gehou in die kamp wat by die myn se ingang geskep is. Die plek is Esperanza, “hoop” in Spaans, gedoop. En toe die myner
Ariel Ticona se baba- dogtertjie op 14 September gebore word, is sy ondanks haar pa se afwesigheid Esperanza gedoop.
Toe Chili se onafhanklikheid vier dae later gevier word, het die land se president, Sebastián Piñera, klein Esperanza in sy arms vasgehou toe hy die myners gaan “groet”. Dit was sy vyfde besoek aan die myn sedert die begin van die reddingspoging.
En toe ’n reuse-ligskou gereël word om die land se onafhanklikheid te vier, was die boodskap wat op die mure van die presidensiële paleis gekaats is, die woorde waarmee die mynwerkers reddingswerkers laat weet het hulle leef.
DIE GROOTSTE MONUMENT
“Chilene word daaraan geken dat ons in moeilike tye bymekaar staan en saamwerk, en hierdie was een van daardie gevalle,” sê my gasfamilie se oudste dogter, Daniela Vásquez Parra.
“Hoop oorbrug die politieke skeidings van die verlede, en as daar ’n mylpaal is waarmee ons 200 jaar van onafhanklikheid in Chili gaan onthou, is dit die beeld van die briefie wat ons uit die dieptes bereik,” sê Daniela se verloofde, Javier Quilodrán Alfaro. “Selfs beter sal wees wanneer ons sien hoe die myners eindelik uitgehys word. Die grootste monument sal dié beeld nie as ’n simbool kan klop nie.”
Want nes die mynwerkers ondergronds spangees toon, hou Chili se 17 miljoen burgers bogronds hul asem in, en het die ramp die land verenig.
Die myners is immers gewone mense met wie die meeste Chilene kan identifiseer: Hulle is gek oor sokker, geniet perderenne en rayuela, ’n tradisionele Chileense sport wat aan jukskei herinner.
Negentien van die mans is getroud, twee is wewenaars. Daar’s twee broers in die groep, Renán en Florencio Ávalos Silva, en ook ’n outjie van 19. Van die mans het in hul mynerpa’s se voetspore gevolg, en die oudste in die groep, Mario Gómez (63), het as ’n seuntjie van 12 ondergronds begin werk. Die mynwerker Edison Peña is ’n Elvis-nabootser.
PER POSDUIF
Sedert die myners die eerste keer bereik is, is Kamp Esperanza se drumpel deur kenners en bekendes deurtrap. Wetenskaplikes van Nasa het ’n week by die kamp deurgebring om raad te gee, en ’n sielkundige van Nasa het aanbeveel dat daar nie iPods aan die mans gegee word nie omdat dit sou kon veroorsaak dat hulle gevaarsituasies ignoreer.
Daarby het vier lede van die Uruguaanse rugbyspan wat in 1972 hul spanmaats se lyke moes eet om aan die lewe te bly nadat hulle ’n vliegongeluk in die Andes oorleef het, ook by die kamp ingeloer om die myners moed in te praat.
“Die geluid van die boorgate wat gegrawe word, moes die mynwerkers laat voel het soos ons gevoel het toe ons vliegtuie destyds sien oorvlieg het,” het een van die Uruguane, Gustave Zerbino, gesê.
Roberto Bravo, een van Chili se voorste pianiste, het sy klavier al die pad na die woestyn geneem om ’n uitvoering vir die myners se families te gee, en selfs die Pous het ’n boodskap van bemoediging gestuur. Die mynwerkers volg dié gebeure met behulp van videokonferensie-geriewe, en ontvang briewe (en selfs kampbeddens, ’n televisie en mondfluitjies!) via buise wat “palomas”, oftewel die Spaanse woord vir “duiwe”, gedoop is.
WYS VIR MY DIE SON
Die myners het hul eerste 17 dae ondergronds oorleef danksy rantsoene van twee lepels tuna, ’n glasie melk en ’n halwe koekie elke 48?uur. “Ons middels het soveel gekrimp dat ons snaaks lyk,” het die myner José Ojeda aan sy vrou geskryf. “Dit lyk of ons met doeke rondloop.”
Hulle is later, toe hulle eindelik deur die reddingswerkers bereik is, met sop en glukose-aanvullings aan vaste kos en meer kalorieë gewoond gemaak. Op Chili se nasionale dag kon hulle – soos die res van die land – aan empanadas (Spaanse vleispasteitjies) weglê.
Daar het min van hul privaatheid oorgebly. “Vyf myners het depressie!” en “Myner op die punt om pa te word” het die plaaslike geelpers kort voor lank uitbasuin.
Die ganse Chili het geweet toe die mynwerker Esteban Rojas sy vrou weer gevra het om te trou, dié keer in die kerk. “Wanneer ek hier uitkom, gaan ons ’n trourok koop,” het hy vir haar geskryf. Mario Ojeda se versoek aan sy vrou om vir hom foto’s van die buitewêreld te stuur, was ook hoofnuus. “Ek kan klaar nie meer onthou hoe die son is nie,” het hy geskryf.
’N MYNER IS NIE MEER NET ’N MYNER NIE
Chili put ’n groot deel van sy welvaart uit die plaaslike mynbedryf, wat in 2009 altesame 16,9?% tot die land se BBP bygedra het. Die meeste van Chili se myne is in die woestyn in die noorde van die land geleë. San José, die myn waar die werkers vasgekeer is, lê op amper dieselfde breedtegraad as Heilbron in Suid-Afrika. Die myn het twee eienaars.
“Die reddingspoging het ons laat besef ons moet een van ons belangrikstee industrieë en sy mense waardeer,” sê Daniela.
Een van die mynwerkers, Mario Sepúlveda, het immers uit die dieptes met ’n video-boodskap laat weet: “Die mynfamilie is nie die familie wat ’n mens die afgelope 100 jaar leer ken het nie. Vandag se myner is ’n opgevoede mens, dis ’n myner wat ’n gesprek met jou kan voer, dis ’n myner waarmee jy as pel kan spog en een wat jy by enige tafel in Chili kan laat aansit.”
PACHAMAMA SE GIERE
Die aarde gee en die aarde neem in hierdie lang skerf van ’n land. Skaars vyf maande voor die mynongeluk het meer as 500 mense in ’n reuse-aardbewing gesterf. ’n Aardbewing wat 9.5 op die Richterskaal registreer het, het Chili ook al voorheen geruk.
Daar is 80 aktiewe vulkane in die land, en boonop ’n risiko van tsoenami’s teen die land se kus van 4?300?km. Chilene leef met die wete: Moeder Natuur, oftewel Pachamama, se bui kan enige oomblik verander.
Wanneer die aarde teruggee, soos in die mynwerkers se geval, is Chilene dankbaar. By die skool waar ek gewerk het, is die eerste boodskap wat die myners na die oppervlak gestuur het in groot letters op die kennisgewingbord geskryf: “Estamos bien en el refugio los 33” (“Ons is oukei in die skuiling, die 33”). Kinders het koerantknipsels in die klas opgeplak en almal het dae lank nét oor die myners gepraat.
Toe ek en my Chileense gasfamilie die dag op die televisie kyk hoe die mynwerkers gevind is, het ons almal die asem ingehou. Die kamera het deur ’n duisternis gesnel, met wit spikkeltjies wat weerskante verbygeflits het asof dit ’n ruimteskip in ’n rekenaarspeletjie is. En toe het ’n gesig opgedoem, sy oë blink soos dié van ’n bok in ’n kollig.
En op daardie oomblik is ’n nuwe simbool vir die land gebore, ’n simbool wat Chili die toekoms sal indra. Want eendag, sê almal, gaan mense mekaar vra: “Waar was jy op die dag toe ons helde lewend ondergronds gevind is?”
* Anim van Wyk is ’n vryskutskrywer en woon sedert April in Chili.
* Bronne: Die Chileense dagblad La Tercera en die nuuskanaal TVN.