'Malls', wurms en die sin van alles
2009-08-15 15:38
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
'n Vriendin vertel die naweek vir my sy het onlangs Viktor Frankl se
boek Man’s Search for Meaning gelees, en dit het regtig – anders as
baie boeke wat dieselfde verhewe belofte maak – haar lewe verander. Op
besonderhede het sy nie ingegaan nie, maar dit het my nogal laat dink.
Ek
het nog nie self die boek gelees nie (dis volgende op my lys, saam met
Stephen Hawking se A Brief History of the Universe). Maar ek weet darem
van die term the last of the human freedoms (’n mens se keuse van hóé
jy gaan reageer op wát met jou gebeur) en natuurlik van die
eksistensiële vakuum.
Hoe dit ook al sy, die ironie wat my
toe nou by nader bepeinsing tussen die oë tref, is dat Frankl meer en
dieper betekenis in die pyn van ’n konsentrasiekamp gekry het as wat
miljoene van ons deesdae in die oombliklike ekstase van winkelsentrums
kry.
My punt is: Koop is so dikwels ’n mens se eerste stop
in ’n soeke na . . . wat? Betekenis? Die eerste, beste ding om die
eksistensiële vakuum mee te vul? As ’n deurwinterde bewandelaar van
winkelsentrums kan ek getuig dat ek die afgelope klompie jare wel
deeglik betekenis gevind het:
Die betekenis van instant
gratification . . . Die betekenis van bo jou inkomste leef . . . Die
betekenis van die quick fix . . . Die betekenis van koop as dwelm – as
jy “af” is, koop jy jouself “op”, as jy ongelukkig is, koop jy jouself
gelukkig; as jy lelik is, koop jy jouself mooi; as jy klein voel, koop
jy jouself groot.
En die prys wat jy uiteindelik betaal –
die bedrieglike ballonpaaiement van die siel – word nie gedek deur jou
geduldige plastic of die Truworths-, Stuttafords- of Foschini-rekening
nie. Op ’n stadige, sluwe manier word dit getap uit jou menswees en
menswaardigheid.
En die eksistensiële vakuum? My vriendin en
skoolkoshuis-kamermaat, Hortense, se ma het altyd gesê: “Elkeen se
beursie gaan op ’n ander manier oop.” Overgeset synde, soos ek dit
verstaan: Elkeen se eksistensiële vakuum het ’n ander vorm.
Die
einste vriendin wat vir my vertel het van haar Man’s Search for
Meaning-ervaring, vertel ook vir my haar swak plek is Oxfam (die groot
liefdadigheidswinkels in Londen) en materiaal-monsters en knope.
Wat
sy met haar Oxfam-inkopies maak, weet ek nie, maar sy sê sy’s bietjie
van ’n control freak, dus kategoriseer sy al haar materiaal en knope in
bokse, hoewel sy niks spesifieks daarmee doen nie.
My swak
plek is klere. My vriend Anthony s’n is boeke. My pa en my eksman s’n
is vleis – as hulle voor ’n vrieskas vol vleis staan, lyk hulle of
hulle die nuwe Jerusalem sien.
Maar
natuurlik is daar ’n vangplek: Hoe meer jy daai gat volmaak, hoe leër
word hy. (En hoe meer waarskynlik is dit dat jy jóúne in allerlei
dimensies gaan sien.)
Die uiteinde is ’n scenario wat so
ietwat van ’n hol laggie by my ontlok. In jou soeke na betekenis in
malls loop jy die daadwerklike gevaar om te beland in die
konsentrasiekamp van skuld.
En man, laat dít jou nou
konsentreer – op dinge wat jy dikwels dekades lank probeer vermy. In
die konsentrasiekamp van skuld is al die kortpaaie na kitsbevrediging
bottoe.
En dis net jy, jouself, jou spreadsheet en alles wat
jou daar gekry het – en wat skielik nie meer geluk, blydskap of ekstase
uitspel nie . . . Al die fluweeljasse, satynserpe, kunswerke, oulike
klein knikkop-motortjies en leerbroeke wat jy gereken het jou “op”,
gelukkig, groot en mooi sou maak, maak jou nou net arm.
In
die afwesigheid van koopkrag is daar natuurlik baie tyd vir bepeins,
berou en onthou. En iets waaraan ek die afgelope week nogal baie dink,
is een van die lekkerste vakansies wat ek ooit gehad het.
Ek
was ’n week lank in Mosambiek kort ná die einde van die burgeroorlog
daar, toe OTM’e so onbekend was soos Coca-Cola en jy met ’n
kredietkaart net mooi niks kon koop nie. Dit het my nie gepla nie.
Trouens, dit was wonderlik om op strande en in straatjies rond te loop
en selfs houtvissies van die hand te wys omdat ek nie die nodige
eskudo’s gehad het nie.
So wat beteken dit alles? Ek weet
nie, wat seker ook nie regtig verbasend is nie. My vriendin Madelet sê
altyd: “Die volk is vlak.” Ek vermoed die mensdom is nie ver agter nie.
Die
antwoorde wat ek soek, daarenteen, lê ver en diep. Of liewer, verknoop
in die eksistensiële deurmekaarspul van my liggaam en siel, van wat ek
wil hê teenoor wat ek nodig het.
Ek het eendag gelees: “If
you open up a can of worms, the only way you get them back in again is
by using a bigger can”. Wat een manier is om daarna te kyk.
Ten minste, troos ek myself, al is ek nog nie ontslae van al die wurms nie, begin soek ek darem al die blik op die regte plek.
Volgende week hink Linette verder op haar pad van skuldberading.