Man van Afganistan
2010-02-20 02:00
Agterop die bakkie tussen die troep Afgaanse soldate voel Stephen Dupont veilig. Nog ’n trok met sestig of sewentig Afgane bo-op mekaar ry saam. Hulle is op pad na die papawerlande in die suidooste van die land. Hul missie: brand af en vernietig.
Stephen is slegs gewapen met kameras – ’n digitale SLR en ’n videokamera. Die soldate in hul bottelgroen uniforms troetel elk hul eie M16.
As fotojoernalis het Stephen wêreldbekendheid verwerf met sy foto in 2005 van brandende Taliban-krygers, die lyke aangesteek deur Amerikaanse soldate.
Die barbaarsheid van daardie stuk oorlogsgetuienis het die wêreld geruk. Amerika, woedend en verleë, was verplig om sy militêre beleid aan te pas.
Stephen het al talle gesogte pryse vir fotojoernalistiek ontvang, onder meer die W. Eugene Smith-toekenning vir Humanitêre Fotografie en onlangs die Robert Gardener Fellowship van Fotografie van Harvard Universiteit.
Buite sy ateljee in Mascot, ’n nywerheidsgebied in Sydney naby die lughawe, staan ons en drink ’n bier in die warm, motorgas-gevulde laatmiddag.
Stephen vertel die vorige ontvanger van die fellowship was die Suid-Afrikaner Guy Tillim. En ek is bly ek kan byvoeg twee van Guy se angsaanjaende foto’s het al op die voorblaaie van my boeke gepryk.
Dan is daar nog Stephen se eerste plek vir die Wêreldpersfoto, 1994 en 1995, en so aan. Só aan, want agterop daardie bakkie op pad na Khogyani, nie te ver noord van Pakistan af nie, beteken pryse en toekennings bokkerol. Wat dan saak maak, is hoe jy jou vrees beheers.
Antisipeer hy sy vrees? Samel hy inligting in oor hul bestemming, ’n Taliban-besette gebied, en die riskante missie om opiumpapawers te gaan verwoes? Help dit?
Stephen praat van die algemene vrees wat jy op hierdie soort missies saamdra, missies met ’n geskiedenis dat hulle áltyd aangeval word. Daaraan raak jy egter gewoond, hy is ’n ou hand in Afganistan, hy kom al vyftien jaar daar werk. Vir hom gaan dit om teenwoordig te wees in die hier en nou: gaan vinnig in, doen jou werk en laat spat.
Tussen die Afgaanse soldate voel hy buitendien altyd veiliger as saam met die Amerikaners. Hy vertrou die manne op ’n besondere manier. Harde, eerlike mense, trotse soldate met ’n grootse vegtradisie en ’n ryk kulturele onderlaag.
Nee, daar agter op die styfgepakte bakkie voel hy geborge, maar in die laaste jaar of wat het daar iets anders bygekom, sy dogtertjie, Ava.
Dit stem hom tot verantwoordelikheid, versigtigheid wou hy sê, maar dit tel nie veel daar nie. In 2007 alleen is meer as 150 fotograwe en joernaliste in hoërisiko-werksplekke dood.
Hulle kom op die stowwerige dorpsplein van Khogyani aan en hy en sy kollega, die joernalis Paul Raffaele, gaan sit voor in die bakkie. Hulle steek ’n sigaret aan. Daar is spanning.
Khogyani is bekend vir sy soet appelkose en druiwe, vir amandel- en okkerneutboorde, maar die groot geld lê in die opiumpapawers.
Van toentertyd af word daarmee geboer en die gewone plat boer kan nie begryp hoekom die Afgaanse soldate, hul eie mense, die hoofbron van hul inkomste kom verwoes nie.
Die tweede en meer ernstige spanning word veroorsaak deur die aanwesigheid van die Taliban. Want hulle is daar, tussen die mense, in die kleisteenhuise, oral. Die opium uit die ryp papawersaadkoppe is meer as goud werd vir hulle. Daarmee finansier hulle hul AK-47’s en ammunisie, die IED’s (improvised explosive devices oftewel landmyne), hul hele oorlogspoging.
’n Ligte bries steek op, Khogyani is bekend vir sy aangename weer, en Stephen sit op aandag. Vir daardie breukdeel van ’n sekonde wanneer die fotokans kom, moet hy homself hiper-paraat hou.
Toe gebeur dit: ’n massiewe ontploffing skaars vyf meter van hul bakkie. Bomskerf en glas en stof, warm bloed al langs Steve se voorkop en wang af en die spettering van die Taliban se opvolg-geweervuur. Raffaele, nader aan die bom, is óf uit óf dood.
Later sou hulle verneem dat die bom om die seuntjieheupe van ’n twaalfjarige koerantverkoper vasgebind was. F*kk*n selfmoordbomme, sê Stephen, f*k, ek was gelukkig.
In die stofwolk wat volg, stap hy vinnig om na sy bebloede kollega. Raffaele praat, hy lewe nog. Steve troos, loop weg en begin werk. Hy’s geen paramedikus nie, daar is niks verder wat hy op daardie oomblik vir Raffaele kon doen nie.
Hy kan nou, agterna, hierdie evaluasies maak, maar toe die bom ontplof het, gebeur alles blitsvinnig in jou kop en lyf. Dit is nie ’n geval van nie wil help met kollegas of ander gewondes nie. Vrees sit in jou maag en adrenalien gee af: jy kan weghol of begin help of uitklim en hierdie afgryslike toneel dokumenteer. Jy word baie helder, baie rasioneel.
Wat Stephen sy natuurlike instink noem, neem toe oor. Hy korrel en begin foto’s neem. Hy stel die video voor homself op en rapporteer. Dit is die primêre, die enigste rede waarom hy in Afganistan is.
Daar is dooie soldate op die plein, tussen die lyke sit ’n soldaat met sy bene voor hom uitgestrek, hy wink verdwaas. Stephen neem die foto, hyself is verdwaas.
Maar hy weet hy moet vry en oop wees in hierdie situasies. Neem af, die vrae kom later. Jy gee die groenlig vir jouself, anders is daar immers geen storie nie.
Ek wil meer weet oor die morele konflik. Neem jou medemenslikheid nie oor nie? Behoort dit nie oor te neem nie? Of ontwikkel jy as foto-joernalis ’n eelterigheid wat jou immuun maak teenoor lyding?
Dit is nie hoe Stephen dit beskou nie. Hy is daar om bewysstukke te maak van hierdie voortslepende oorlog wat die Afgaanse mense verswelg.
Hoe kon hy wegstap van die Taliban-lyke wat die Amerikaanse soldate aan die brand gesteek het?
Vanselfsprekend het hy ongemaklik gevoel. Hy het van die soldate geken en die laaste ding wat hy wou doen, was om hulle te beledig. Maar hy moes getrou bly aan sy professie. Hy sou die vergryp nie wegsteek nie, hy was getuie daarvan en die waarheid moes hy met sy kamera boekstaaf.
Ek en Stephen bly daar staan op die dakparkering, binnekort moet hy sy dogtertjie by die crèche gaan oplaai. Hy het sy bier omtrent met een teug opgedrink, nou rol hy ’n sigaret. Senuagtig is hy hoegenaamd nie, maar hy het ’n brandende energie.
Oor sy werk en homself praat hy loshande en sonder om te talm. Net soms kry ek die indruk dat hy al geleer het hoe om vrae te beantwoord. Dit is te verstane. Nie met woorde nie, maar met fotobeelde is hy op sy outentiekvolste.
Hy trek in, blonde hare val oor sy voorkop. Hy begin toe vertel van die Suid-Afrikaanse fotograaf Kevin Carter wat die beroemd-berugte foto geneem het van die sterwende Ethiopiese kind met die aasvoël reg langs haar.
Carter, een van die sogenaamde Bang Bang Klub waaroor onlangs ’n fliek gemaak is, het later selfmoord gepleeg. Daardie foto en aanhoudende konfrontasie daaroor: moes hy nie die kind gered het nie, het hom van binne-uit weggekalwer.
Stephen ontken nie die morele ballas wat die werk as fotojoernalis meebring nie, maar soos vantevore en soos hy in die toekoms ook gaan maak, het hy in daardie oomblikke ná die selfmoordbom op auto-pilot gegaan. Dit is sy instink, sy werk.
Hy was nie eens daarvan bewus dat Raffaele deur soldate weggekarwei is na die nabygeleë Amerikaanse basis waar ’n hospitaal is nie.
Hy moes later self die straat vat en aanstap na daardie basis, hy kon enige oomblik deur ’n opvolgskoot platgetrek gewees het.
Heelwat later het hy sy kollega opgespoor. Raffaele was swaar gewond met bomskerf tot in die brein, drie stukke. Hy sou maande vat om te herstel.
Hý het nooit weer na Afganistan teruggekeer nie. Hy wou ook nooit na Stephen se beeldmateriaal oor die bom kyk nie.
Kry hy die indruk dat die oorlog in Afganistan ooit gaan ophou?
Nee, sê Stephen. Hoegenaamd nie. Met daardie selfmoordbom het die Taliban bewys hulle kan op enige plek en op enige tyd ’n menslike bom laat ontplof. Dit is onkonvensionele oorlogvoering en al manier waarop die Taliban kan veg. En bly veg.
In Januarie vanjaar het die Amerikaanse bevelvoerder, generaal McChrystal, die onmoontlikheid van die taak erken: selfs met 30 000 meer troepe sal die VSA nie die Taliban oorwin nie.
’n Jaar van nou af, het hy gesê, sal die Taliban insurgensie op die verdediging wees, maar uitgewis, nooit nie. Op sy beste kan hulle die voorwaardes skep sodat die Taliban sal toegee om ’n ooreenkoms aan te gaan met die Afgaanse regering.
Totdat dit gebeur, hou Stephen rekord van die geskiedenis daar. Tans is hy besig met ’n fotoboek oor die mariniers (seesoldate) van Wapenpeloton, Delta Kompanie, Tweede Bataljon, waarmee hy ’n tyd lank saamgeleef het.
Tússen die manne totdat hulle hom begin vertrou het, gereed om daardie onbewaakte oomblik te boekstaaf.
In sy notaboek het hy stilfoto’s van elke marinier geplak met elkeen se antwoord op die vraag: waarom is ek ’n marinier?
Ek is die duiwel-dokter, het manskap H.A. Bertrand geskryf, en ek hou daarvan om ’n ogie oor my mariniers te hou.