Méér as ‘bruikbare idiote’

2010-01-30 11:34
Kodesa

Kodesa

Foto's   ·   Lesersfoto’s   ·   Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Wat ná die toespraak van 2 Februarie 1990 gebeur het – die vrylating van oudpres. Nelson Mandela, die ontbanning van die bevrydingsbewegings en die opheffing van die destydse noodtoestand – is goed opgeteken en ontleed, behalwe miskien vir hoe die ekonomiese stelsel onderhandel is.

Wat egter in die voorafgaande vyf jaar gebeur het, toe klein groepies sakemanne, amptenare van Nasionale Intelligensie (NI), Afrikaner-akademici, georganiseerde pro-demokrasiegroepe, enkele sportadministrateurs en ook die Afrikanerbond (AB) met die ANC in gesprek begin tree het, is steeds obskure kennis.

Danksy die werk van goeie navorsers kan ’n duidelike prentjie egter geskets word. Joernaliste soos Allister Sparks met sy Beyond the Miracle: Inside the New South Africa (2003) , Max du Preez se Dwars: Mymeringe van ’n Gebleikte Afrikaan (2009) en Robert Harvey se The Fall of Apartheid: The Inside Story from Smuts to Mbeki (2001) , gee uitstekende agtergrond.

Ook biografiese werke soos F.W. de Klerk se The Last Trek: A New Beginning (1998) en Willie Esterhuyse en Essop Pahad se biografie van oudpres. Thabo Mbeki (2002) in Mbeki se Africa: Define Yourself laat rolspelers self praat.

Daar is ook Hermann Giliomee se The Afrikaners (2009, tweede uitgawe) en Mark Gevisser se Thabo Mbeki: Dream Deferred (2007) wat deeglike resente akademiese navorsing bevat.

In die onlangse boek van dr. Nico Smith (2009), Die Afrikaner- Broederbond – Belewinge van die Binnekant , word een hoofstuk gewy aan die ANC en die AB. Dit was nie die beste hoofstuk in sy boek nie, want datums en persoonlikhede word verwar. Nogtans skryf Smith dat hy nie presies weet watter rol die AB gespeel het nie.

Gevisser se Thabo Mbeki: Dream Deferre d is van die weiniges wat spesifiek die rol van die AB sedert 1986 probeer uitlig het, veral wat betref prof. Pieter de Lange, voormalige voorsitter van die AB en ook rektor van die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (nou die Universiteit van Johannesburg).

Hier is ’n chronologiese lys van gesprekke wat in die buiteland met die ANC gevoer is:

1984: Die vroegste kontakte met die ANC was in dié jaar, toe prof. H.W. van der Merwe (van die Sentrum vir Intergroepstudies aan die Universiteit van Kaapstad, later die Sentrum vir Konflikresolusie) ’n ontmoeting tussen die ANC in Lusaka en dr. Piet Muller (destyds redakteur van Beeld s e Pretoria-kantoor ) gereël het. Daarna het die joernalis Hugh Murray, stigter van die tydskrif Leadership, ook kontak gemaak.

1985: Dr. Frederik van Zyl Slabbert en Colin Eglin het die ANC in 1985 in Lusaka as lede van die Progressiewe Federale Party (PFP) besoek. Daarna was daar ’n sakebesoek op 13 September, geborg deur Gavin Relly van Anglo-American. Tony Bloom en ses ander het tydens dié besoek “gesprekke” gehad met die ANC, gelei deur Oliver Tambo, Thabo Mbeki, Aziz Pahad, Chris Hani en Pallo Jordan.

In dieselfde jaar het die Ford Foundation se verteenwoordigers in Suid-Afrika, Gail Gerhardt en Tom Karis, vir dr. Simon Brand, hoof van die Ontwikkelingsbank van Suid-Afrika, Patrick Laurence, politieke redakteur van die Rand Daily Mail, en myself genooi om met Mbeki en ander in New York te gesels oor die moontlikheid van ’n onderhandelde skikking in Suid-Afrika.

Dit was vier maande ná oudpres. P.W. Botha se Rubicon-toespraak. Ek was pas op Stellenbosch aangestel ná vier jaar in die departement staatkundige beplanning in Pretoria as sekretaris van min. Chris Heunis se spesiale kabinetskomitee.

Dit was ons eerste ontmoeting met Mbeki. Die gesprekskwessies destyds was bespiegelings oor die vrylating van Mandela, die opskorting van die ANC se geweldstrategie en wat die onderhandelingstrategie van die NP-regering onder P.W. Botha sou wees ná die 1987-verkiesing.

1986: Tom Karis van die Ford Foundation het vir Pieter de Lange en sy vrou, Christine, na New York genooi om ook met Mbeki en ander oor onderwys in Suid-Afrika te gesels.
Volgens Gevisser het De Lange die wenslikheid van toenemende verandering beklemtoon, terwyl Mbeki onder die indruk gekom het van wit vrese vir die verlies van kultuur en identiteit.

Dit was skynbaar Van Zyl Slabbert wat aan Karis gesuggereer het om De Lange na New York te nooi.

1987: Twee belangrike ontmoetings met die ANC het in 1987 plaasgevind. Van Zyl Slabbert en dr. Alex Boraine van die Instituut vir ’n Demokratiese Inisiatief (Idasa), dr. Beyers Naudé, voormalige algemene sekretaris van die SA Raad van Kerke, en ongeveer 60 ander het in Julie na Dakar gegaan. Die finansier George Soros het die ontmoeting geborg.

Ek was nie ’n Dakar-ganger nie. Van die ander lede van die groep was skrywers, joernaliste en akademici soos Max du Preez, Chris Louw, Hennie Serfontein, Hermann Giliomee, Jaap Durand, Theuns Eloff, Breyten Breytenbach, André P. Brink, Johan van der Westhuizen, Jannie Gagiano, Gerhard Erasmus en Lourens du Plessis.

Giliomee (“the Boer in the woodpile”, soos sekere joernaliste in Dakar hom genoem het), het die belangrikheid van waarborge vir minderhede beklemtoon. Die president van Senegal het hulle die “Nuwe Voortrekkers” genoem.

Die ander besoek was in November aan Oxfordshire en is geborg deur Consgold, ’n Britse mynmaatskappy wat besorg was oor sy mynbelange in Suid-Afrika in die geval van ’n bewindsverandering. Hulle het in ekonomiese waarborge belang gestel.

Die gesprek is meegemaak deur prof. Willie Esterhuyse (leier van die groep), prof. Sampie Terreblanche en myself. Fleur de Villiers, voorheen van die Suid-Afrikaanse Sunday Times wat toe skakelbeampte van Consgold in Londen was, het die besoek met Esterhuyse gereël.

Aan die kant van die ANC was die Pahad-broers, veral Aziz, sowel as Tony Trew en die digter Wally Serote prominent in die gesprek. Mbeki was nie daar nie.
Hoewel niemand van ons dit geweet het nie, het Niel Barnard van NI kontak met Michael Young van Consgold gehad. In daardie stadium was daar reeds gesprekke tussen Barnard en Mandela, toe nog in aanhouding.

1988: Dr. Louis Luyt, president van die SA Rugbyraad, het die ANC in 1988 in Londen ontmoet.

In Februarie van dié jaar het ook die Consgold/Esterhuyse-groep Mbeki vir die eerste keer ontmoet. Dit het plaasgevind by Mells Park naby Bath. Met Mbeki se medewete het Esterhuyse vir Niel Barnard oor die besoek ingelig. Daar is egter nie ’n agenda of notules gehou nie.

Die ANC se groep het uit Mbeki, Jacob Zuma, Aziz Pahad, Joe Nhlanhla en Tony Trew bestaan. Dié groep het skynbaar doelbewus vir Chris Hani uitgesluit – hy het niks van “gesprekke” gehou nie.

Die Consgold/Esterhuyse-groep het Esterhuyse, Sampie Terreblanche en dr. Willem de Klerk as kernlede gehad met sakelui, akademici, joernaliste en ander rolspelers soos Marinus Wiechers, Marinus Daling, Ebbe Dommisse van Die Burger, Dawie de Villiers, Ernst Lombard van die NG Kerk, Louis Kriel, Mof Terreblanche, Fanie Cloete, Willem Pretorius en Attie du Plessis as lede van die groep.

F.W. de Klerk, toe nog Transvaalse leier van die Nasionale Party, het skynbaar nie daarvan gehou dat sy broer, Willem, met die ANC in gesprek was nie.

In dieselfde jaar in Oktober het Idasa en die Friedrich Naumann-stigting ’n akademiese byeenkoms tussen die Russe, die ANC en binnelanders in Leverkusen in Duitsland gereël.

Deon Geldenhuys, Hermann Giliomee, Hennie Kotzé, Mark Swilling, Sampie Terreblanche, Dawid van Wyk, Gerhard Erasmus, Susan Booysen, Frances Kendall, Annemarie Mischke, Laurie Schlemmer, Breyten Breytenbach, Wynand Malan en ekself was teenwoordig. So ook Beyers Naudé en Idasa se Alex Boraine en Van Zyl Slabbert.

Die ANC is verteenwoordig deur Mbeki, Aziz Pahad, Joe Slovo, Jackie Selebi, Johnny Makatini en andere. Die Russe het Irina Filatowa, Apollon Davidson en prof. Wassili Solodof-nikof ingesluit.

Daar was iets vreemds in die lug. Die Russe het van vrede begin praat en was amper meer in die Afrikaners as in die ANC geïnteresseerd.

Davidson het byvoorbeeld ’n Sentrum vir Russiese Studies aan die Universiteit van Kaapstad kom stig en Filatowa het selfs na Suid-Afrika geëmigreer en ’n professoraat aan die Natalse Universiteit aanvaar en met die bekende historikus R.W. Johnson, wat bekend is vir sy sinisme oor die ANC, getrou.

1989: Verskeie belangrike ontmoetings het in 1989 plaasgevind. Die eerste, in Maart, was in Woodlands Park, Surrey, tussen akademici en sakelui van Brittanje, die Sowjet-unie en Suid-Afrika.

Daar was sewe Suid-Afrikaanse deelnemers, te wete Michael Spicer (Anglo-American), Chris Saunders (Tongaat-Huletts), Philip Nel (Universiteit van Stellenbosch), Simon Baynham (Afrika-Instituut), John Barrat (SA Instituut vir Internasionale Aangeleenthede), Deon Fourie (Unisa) en myself. Die fokus het op buitelandse beleid geval.

Hoewel niemand van die ANC daar was nie, was die ANC die “olifant in die slaapkamer”, veral omdat Anatoli Gromiko van die Russiese Afrika-Instituut teenwoordig was. Hy was ’n seun van ’n voormalige Sowjetpresident en bevriend met ANC-mense. (Gorbatsjof het toe pas by Bresjnef oorgeneem.)

Dit was egter weer duidelik: Russiese “glasnost” beklemtoon vrede en samewerking en nie meer konflik en geweld nie. Die hamer en sekel wapper nie in Windhoek nie, die Kubane het uit Afrika onttrek en die oorgangsregering in Suid-Afrika (pre-1994) het reeds diplomatieke betrekkinge met Rusland gesluit ná die val van die kommunisme in 1991.

F.W. de Klerk het in 1998 in sy boek na sulke faktore verwys as redes vir sy toespraak van 2 Februarie 1990.
Nog byeenkomste het tussen ANC-ekonome en plaaslike ekonome plaasgevind, naamlik in York, Brittanje en twee keer in Switserland. Pieter le Roux van die Universiteit van Wes-Kaapland het by al hierdie geleenthede ’n leidende rol gespeel. Ander ekonome wat teenwoordig was, was Jan Lombard, Estian Calitz, Rudolph Gouws, Conrad Strauss, Bob Tucker en Simon Brand.

Omdat Oliver Tambo en Mbeki nie betrokke was nie, word nie veel oor hierdie gesprekke geskryf nie. Dit was egter belangrik in die skep van kontoere vir ’n post-1994-ekonomiese stelsel, aangesien die ANC nie meer die Oosblokstelsels as ekonomiese rolmodel beskou het nie, maar wel die Sweedse model.

Die vierde ontmoeting was ook in Switserland in September 1989. Dit was die eerste direkte ontmoeting tussen die Suid-Afrikaanse regering (Mike Louw en Maritz Spaarwater van NI) en die ANC, wat deur Mbeki en Zuma verteenwoordig is.

Willie Esterhuyse was die tussenganger en die kontak met Barnard. (Louw en Spaarwater het skuilname soos James Campbell, Michael James en Jacobus Maritz gehad en Mbeki en Zuma was onderskeidelik bekend as John en Jack Simelane. Wat Esterhuyse se skuilnaam was, weet ek nie.)

Nóg ’n besoek het in November 1989 in Switserland plaasgevind, onder leiding van Fanie van der Merwe, destyds direkteur-generaal van staatkundige ontwikkeling. F.W. de Klerk het toe reeds by P.W. Botha oorgeneem. Dit is onwaarskynlik dat Esterhuyse aan De Klerk enige mededelings gedoen het – die intelligensiediens het dit toe self gedoen.

Willem de Klerk het sy broer F.W. glo voorheen ingelig, maar soos vermeld, is dit bekend dat F.W. de Klerk die Consgold-gesprekke afgekeur het. Dit kon tog ’n invloed op hom gehad het, maar hy het wel nie van kontakte tussen NI en die ANC geweet nie.

Hoewel P.W. Botha bewus moes gewees het van Barnard en Esterhuyse se inisiatiewe, was hy dikwels omgekrap oor die Idasa-inisiatiewe wat, anders as die Consgold/ Esterhuyse-gesprekke, telkens publisiteit gegenereer het. Die Idasa-groep is byvoorbeeld per geleentheid “bruikbare idiote” genoem. Tog was die regering toe reeds met Mandela in gesprek.

Die vyfde ontmoeting het ook in November 1989 plaasgevind, maar dié keer in Parys. Dit was dieselfde tyd as die Switserland-gesprek en die val van die Berlynse Muur. France Liberté se Danielle Mitterand en Breyten Breytenbach, tesame met Idasa, was die organiseerders.

Daar was ook enkele nuwe Suid-Afrikaanse gesigte by die gesprek, onder wie Hennie van Deventer, destyds redakteur van Die Volksblad, en die akademikus Murray Hofmeyr.

Dit was die eerste keer dat ek Marinus Wiechers by so ’n konferensie gesien het. Hy was reeds by Consgold. Die meeste ander konferensiegangers was Dakargangers soos Slabbert, Boraine en Max du Preez.

Mbeki en Pallo Jordan was van die prominentste mense in die ANC-groep. Aan die ANC-kant was die belangrikste nuwe gesig Kader Asmal. Cheryl Carolus, Trevor Manuel en Alec Erwin het uit Suid-Afrika by hulle aangesluit.
Daar was ’n aanvoeling dat F.W. de Klerk aan die begin van 1990 ’n belangrike aankondiging sou doen. Ek het ook so ’n mening uitgespreek, sonder om te weet dat daar byna gelyktydig ’n belangrike byeenkoms in Switserland tussen die “Campbells” en “Simelanes” sou plaasvind.

Tot in 1989 was nóg die NG Kerk nóg die AB nóg die regering direk by enige van hierdie twee inisiatiewe betrokke.

Omdat die Consgold-inisiatief direkte bande met Niel Barnard en NI gehad het, was dit indirekte bande met die P.W. Botha-bewind. Dit is egter moontlik dat die AB ná 1986 deur middel van Esterhuyse/Consgold verdere persoonlike kontak gemaak het. Sedert 1988 was ek by die Idasa-inisiatiewe betrokke en nie meer by die Consgold-groep nie.

Van Mbeki se grootste kritici onder Afrikaner-geledere vandag tel mense soos Van Zyl Slabbert, Max du Preez en Breyten Breytenbach, wat destyds deel van die Idasa-inisiatiewe was. Hul vertrekpunte is steeds liberaal en nie regs nie. Kritiek of ontnugtering moenie altyd as verregsing beskou word nie.

Soos Gerrit Brand eenkeer in ’n resensie oor ’n boek van Van Zyl Slabbert geskryf het: Du Preez en Breytenbach is steeds die dissidente wat hulle tóé reeds was.

Willie Esterhuyse was nie by Idasa-inisiatiewe betrokke nie. Van Zyl Slabbert was ook nooit by die Consgold-inisiatiewe betrokke nie. Dit was dus parallelle inisiatiewe met feitlik geen publisiteit vir die Consgold-groep nie.

Robert Harvey se The Fall of Apartheid: The Inside Story from Smuts to Mbeki wat so laat as in 2001 gepubliseer is, was van die eerstes wat die sluier gelig het. Daarna was dit Du Preez, Gevisser en Giliomee wat met goeie navorsing agter die kap van die byl gekom het.

Die deelnemers het egter nie uitgepraat nie. Dit was wel Willie Breytenbach wat Nico Smith in 1985 op ’n SAL-vlug na New York raakgeloop het, waaroor Smith in sy boek van 2009 geskryf het. Dit was egter nie Simon Brand, Patrick Laurence of Willie Breytenbach wat die AB by die Ford Foundation verteenwoordig het nie. Oor of die AB geken is in die gesprek wat Pieter de Lange in 1986 met Mbeki-hulle gehad het, moet Pierre Theron, huidige voorsitter van die AB, verder verduidelik.

Die politieke einde van hierdie “gesprekke” is oorbekend – ’n demokratiese meerderheidsregering sedert 1994, maar soos Christi van der Westhuizen in White Power: The Rise and Fall of the National Party (2008) aantoon, het die meeste wit mense wel polities ondergeskik geword.

Sekere van hulle het dit nogtans reggekry om ekonomiese welvaart en mag te behou en selfs te konsolideer. Die stelsel het dit vir hulle moontlik gemaak.
Dalk was almal nie bruikbare idiote nie.

-Willie Breytenbach is ’n emeritus-professor in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch.

Binne Beeld

Weather
Lottery
Cpt: 20-26°C More sun than clouds. Mild. Pta: 18-28°C Widely scattered tstorms. Broken clouds. Mild.
Jhb: 17-26°C Widely scattered tstorms. Clearing skies. Mild. Bloem: 19-31°C Mostly sunny. Pleasantly warm.
Dbn: 20-29°C Mostly sunny. Warm. PE: 22-26°C More sun than clouds. Mild.
7 day forecasts...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

VOLKSWAGEN

Passat 1.9 TDi Comfortline Dsl MY06
2006
R 199,595.00

RENAULT

Scenic 2.0 Dynamique AT MPV
2003
R 85,995.00

ISUZU

KB300 TDi D-Cab LX Dsl MY04
2005
R 149,995.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Chill out in Knysna

Spend 2 nights at the Turbine Boutique Hotel & Spa in Knysna's gorgeous Thesen Island for R3058 per person sharing. Includes return flights, taxes, car hire and accommodation. Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

gobii eReader nou beskikbaar

Koop die gobii eReader en gobii-omhulsel vir iemand spesiaal vir Valentynsdag. Gratis aflewering binne 24-uur. Koop dit nou.

Koop Friends with Benefits en wen

Koop die DVD of Blu-ray en staan ’n kans om 1 van 5 "Love You"-blikke met koekies te wen. Die wedstryd sluit 9 Februarie. Koop dit nou.

Koop 4 romans vir R79,96

Koop enige 4 romantiese verhale vir slegs R79,96 terwyl voorraad hou. Koop dit nou.

Geskenke vir hom

Koop ’n klassieke skuimskeerborsel vir R279 vir die man in jou lewe en kry 15% afslag op ’n uitgesoekte reeks naskeermiddels. Koop dit nou.

Dit is al weer ’n fleurige Valentynsdag!

Daar is fleurige spesiale aanbiedinge by kalahari.com met die gobii eReader, Friends with Benefits, parfuums en rose wat nou beskikbaar is. Koop dit nou.

2 DVDs vir slegs R129

Winskopie van die week

Sit snoesig teenaan jou geliefdes hierdie Valentynsdag met ons aanbod van 2 DVD's vir slegs R129. Aanbod geldig solank vooraad hou. Koop dit nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...
Please Upgrade
Your Version of Flash
Get Adobe Flash player
Daar is vars stories op ons tuisblad. Kliek hier om hulle te lees.