Mense moet leer om te ontspan
2011-09-09 22:36
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
KERNEELS BREYTENBACH is nie ’n swaarwigtige of doemgeestige mens nie – solank die WP of die Stormers net nie verloor nie. Sy jongste boek, Piekniek by Hangklip, is eersdaags te koop.
Wat doen jy op Saterdae?
Sorg dat Jasper, my hond, oefening kry. Sorg dat my
vrou By kry (woordspeletjies) en sorg dat die remote in my hande
is wanneer die rugby-uitsendings begin. Maak iets om te eet vir die huis. Lees.
Luister gehoorsaam wanneer Jasper aandui dis tyd dat almal in die huis gaan
slaap.
Hoe lyk jou gemoedstoestand vandag?
Opgewek en vrolik. Ek is nie ’n swaarwigtige,
doemgeestige mens nie.
Wat behels aardse geluk?
Om op my ouderdom steeds nuwe musiek te vind wat my in
vervoering bring. Op die oomblik is dit Max Bruch en Bernadette Seacrest.
Wat is die diepste put van ellende?
Wanneer die Stormers of die WP verloor. Dis hoekom ek
bly is die eerste vraag hierbo handel nie oor Sondae nie.
Waar woon jy, en waar sou jy eerder
wou woon?
Bettysbaai, en ek sou graag in Parys (Frankryk) wou
woon.
Wat is jou grootste tekortkominge?
Ek het twee. Ek droom nog oor dinge wat ek eendag wil
doen. En ek leen my ore uit vir skinnerstories.
Met watter tekortkominge in ander kan
jy saamleef?
Die begeerte om skinnerstories met my te deel.
Wat kan jy nie verduur nie?
Vergaderings van enige aard.
En wie kan jy nie verduur nie?
Myself wanneer ek begin tob oor dinge wat ek liefs
anders moes gedoen het in die verlede.
Wat is vir jou snaaks?
Aweregse humor. Peter Cooke se soort humor. Of Steve
Wright se eenreël-waarhede. Soos: “Do Lipton employees take coffee breaks?”
Wie is jou lewende helde?
Steve Jobs.
Wie is jou fiksiehelde?
Lucas Davenport (John Sandford se romans) en Jack
Reacher (Lee Child se romans), en die hele Sackett-familie.
Wie is jou gunsteling- historiese
figure?
Siener van Rensburg, Charles Darwin.
En jou gunsteling-musikus of
-komponis?
Musikus: Bill Evans. Komponiste: Mozart, Max Bruch,
Brahms, Miles Davis.
Wanneer en waar was jy op jou
gelukkigste?
Gereeld. Die geboortes van my twee kinders. Twee
konserte by Sun City: Beach Boys en Frank Sinatra. Die eerste keer toe ek Gravity’s
Rainbow gelees het.
Watter oorsese stad sou jy graag nog
wou besoek, en hoekom?
Barcelona – vir die kos, die argitektuur, die kuns en
die musiek.
Wie sou jy die graagste vir ete wou
nooi?
Wyle Madeleine van Biljon. Dan kan sy my vertel van
die lewe ná die dood.
Wat sou jy dan vir ete maak?
Vir Madeleine kan ’n mens niks anders as ’n
herderspastei maak nie, met ietsie branderigs by, en meerdere bottels van ’n
goeie chenin blanc. Nagereg sou ’n Mississippi mud pie wees.
Watter eienskappe bewonder jy die
meeste in ’n man?
Die vanselfsprekendheid waarmee hy te kenne gee dat hy
vertrou kan word.
Watter eienskappe bewonder jy die
meeste in ’n vrou?
Haar vermoë om sensueel huiwerig voor te kom terwyl
daar inderwaarheid ’n titaniese stryd tussen listigheid en wellus in haar
innerlike woed.
Wat waardeer jy die meeste in vriende?
Dat ’n mens nie alles altyd aan hulle hoef te verduidelik
nie. Hulle verstaan.
Watter deugde beïndruk jou?
Kom ons aanvaar dat deugsaamheid nie noodwendig
eerbaarheid beteken nie. Dan sou ek sê: Mense wat ’n antiklimaks na ’n klimaks
kan laat lyk/klink.
En watter deugde laat jou koud?
Fluksheid. Vaderland, kan mense nie leer om net te
ontspan nie?
Waarmee verwyl jy die graagste jou
tyd?
Musiek.
Wat verveel jou?
Mense wat dink hul kerk en hul geloof is die juisste.
Wat is jou mees kenmerkende eienskap?
Flegmaties.
Wat is jou grootste vrees?
Dat die erwe van ons vadere nie ons kinders se erwe
sal bly nie.
Waaroor is jy spyt?
Dat ek my kropgevoel té min vertrou het in die
verlede. Die lewe kan soveel makliker wees as ’n mens net luister na daardie
stemmetjie.
Wie is jou gunsteling-skrywers?
Thomas Pynchon, Reginald Hill, Lee Child, John
Sandford, Louis L’Amour, Donna Leon, Damon Runyon, Henry Fielding.
Wie is jou gunsteling-digters, en wat
is jou gunsteling-versreël?
William Empson. Uit sy gedig “Missing Dates”:
“It is the poems you have lost, the ills
From missing dates, at which the heart expires.
Slowly the poison the whole blood stream fills.
The waste remains, the waste remains and kills.”
Wat is jou gunsteling-name?
Innocentia, Dwaynus, Virago.
Wat is jou gunsteling-voël?
Ek kan dié vraag nie met erns beantwoord nie.
Oor watter gawe sou jy die graagste
wou beskik?
Om te kan sing én elke noot suiwer te tref.
Wat is jou grootste uitspattigheid?
Apple Mac en kombuismesse.
Wat is jou kosbaarste besitting?
Die bajonet van die Britse soldaat wat my oupa
Kerneels amper bo-op Spioenkop doodgeskiet het.
My oupa was ’n beter skut. My oupa se broer het die
bajonet van die gordel van die dooie Brit gaan haal nadat die Boere Spioenkop
suksesvol geneem het.
Wie of wat is of was die liefde van
jou lewe?
Wees rustig. Ek is 34 jaar getroud, en daar kan net
een antwoord wees op daardie vraag. My vrou, Carien.
Wat is of was jou grootste prestasie?
Om Die Lekkerste Lekker te kon saamstel binne
drie maande.
Hoe sou jy eendag wou sterf?
Sonder dat ek dit weet.
Wat is jou lewensleuse?
Adventavit assinus, pulcher et fortissimus.
Nuutste boek binnekort op rak
Kerneels is in Johannesburg gebore, was in Alberton op
skool en het aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer. Hy was daarna joernalis by Beeld en Die
Burger voordat hy uitgewer geword het.Hy debuteer in 1992 met Morsdood van die Honger,
’n bundel kortverhale, en volg dit in 1993 op met die roman Glimlag.Sy resepteboek Die Lekkerste Lekker het in 2005
verskyn.Piekniek by Hangklip (Human & Rousseau) behoort volgende week op
winkelrakke te wees.