Miles Davis se Polokwane & Mbeki se On the Corner
2012-01-28 06:00
Is hy terug? Is hy terug? Dié gissinge oor oudpres. Thabo Mbeki van die afgelope week of wat het my weer laat dink aan ’n album wat amper 40 jaar gelede ’n groot ongedurigheid by die meeste musiekkritici en sommige aanhangers van Miles Davis ontketen het: On the Corner.
In April 1972 kry die Britse tjellis en komponis Paul Buckmaster ’n oproep van sy vriend Miles. “Kom New York toe,” vra Miles. Wanneer? Nou. In sy tas, tussen lae klere, pak Paul versigtig twee langspeelplate met ná-oorlogse avant garde-musiek van Karlheinz Stockhausen en Charles Wuorinen.
Twee dae later bevind Paul hom in Manhattan, en hy gee die plate vir sy vriend. En Miles kan nie genoeg van die Stockhausen kry nie. Hy speel die plaat oor en oor, en die musiek spoel dae lank oor die luidsprekers van sy huis. So vertel Buckmaster in ’n essay wat hy geskryf het vir die On the Corner-albumstel.
Op die webwerf milesdavis. com word die storie vertel van die twee wat so geïnspireer was nadat hulle die Stockhausen en Wuorinen geluister het, dat hulle onmiddellik begin eksperimenteer het met kontemporêre musiek en funk- ritmes.
Die eerste musikant wat Miles twee maande later vir die opnames gehuur het, was die funk-baskitaarspeler Michael Henderson, toe 21. Die trompetmeester kon sy Stockhausen-geinspireerde komposisies laat rondhop op die musikale springkastele wat Henderson in die ateljee geskep het. Dit het avant-funk geword.
Benewens Henderson en Buckmaster op die elektriese tjello, het Miles Davis ook top-musikante soos Chick Corea, Herbie Hancock, John McLaughlin en Jack DeJohnette genooi om saam met hom aan sy nuwe album te werk. En dan was daar ook die fenomenaal talentvolle vervaardiger Teo Macero.
Die effe chaotiese sessies was informeel en spontaan, en eers ná die jam sou die groot en kreatiewe werk begin. Dit was dan wanneer Miles en Teo die musiek sou herskep met die knip-en-plak van collage-redigering.
En so is die grensverskuiwende On the Corner gebore.
Maar toe die album in Oktober 1972 uitgereik is, het nie almal gedink dis ’n meesterstuk nie.
“Take some chunka-chunka-chunka rhythm, lots of little background percussion diddle-around sounds, some electronic mutations, add simple tune lines that sound a great deal alike and play some spacey solos. You’ve got a ‘groovin’ formula, and you stick with it interminably to create your ‘magic’. But is it magic or just repetitious boredom?” het die Bybel van jazz, Down Beat, gevra. Twee sterre, was die resensent se gevolgtrekking.
“Repetitious crap,” het een resensent geskryf. ’n Ander: “An insult to the intellect of the people.”
Maar hoe kon dit wees? Dit was dan dieselfde Miles wat die rigting wat jazz ingeslaan het, eiehandig drie of vier keer verander het?
In 1949 het hy met sogenaamde cool jazz vorendag gekom, en in die jare vyftig het hy Kind of Blue, tot vandag jazz se topverkoper, uitgereik. In 1960 het sy Sketches of Spain gesorg vir ’n suksesvolle versmelting van jazz en klassieke musiek, en sy Second Great Quintet van ’n paar jaar later word steeds beskou as een van die invloedrykste jazz-albums tot nog toe.
En toe kom die Miles van 1968 tot 1972, die een wat die jazz-wêreld verander het met sy gebruik van groepe elektriese instrumente en die invloed van rock. Albums soos In A Silent Way en Bitches Brew was revolusionêr.
Waar The Penguin Guide to Jazz Recordings laasgenoemde plate albei vier sterre gegee het, het dit die “unrelieved” On the Corner net twee en ’n half sterre gegee.
Maar hoekom? “The truth is, they (die kritici) just didn’t like the fact that we had all these rhythms they didn’t understand and couldn’t get into,” het Henderson onlangs verklaar. “And since they couldn’t get into it, they’d rather shun it. They stigmatised us with that. Those same critics are giving us five stars now.”
On the Corner was Miles Davis se Polokwane. Of was die ANC se Polokwane-vergadering in Desember 2007 Thabo Mbeki se On the Corner? Opeens is die mat immers van onder die eertydse goue seun se voete uitgepluk.
Toe hy in 1999 president van die land geword het, sou Mbeki en ’n alfabet afkortings Suid-Afrika transformeer en die toekoms instuur: SEB, Nepad, Asgisa, Gear, HOP. Dit was Afrika se Renaissance, en Mbeki was die held.
Almal het sterre in die oë gehad oor die sjarmante staatshoof. Hy is ’n intellektueel; hy gaan sy land die toekoms instuur, het mense gesê. Maar toe kom sy swak hantering van MIV/vigs, die fluister- politiek rondom Zimbabwe en sy outokratiese regeerstyl. Opeens was sy vyande oral. ’n Leier wat veronderstel was om grense oor te steek en sy land te transformeer, het twee sterre gekry.
Dit was genoeg om tot sy val te lei, en in 2007 het die meerderheid ANC-afgevaardigdes op Polokwane teen Mbeki en vir Zuma as leier van die ANC gestem. Kort daarna was Mbeki ook sy presidentskap van die land kwyt.
Die man wat eens niks verkeerd kon doen nie, die visioenêre leier, was skielik ’n teiken vir al wat ’n venynige tong was – dit was Miles circa On the Corner.
Maar die wiel draai.
Want vandag word Miles se On the Corner beskou as die album wat die jazz-wêreld op sy kop gekeer het, en hy word vereer as ’n messias van musiek.
“Davis saw the future with this music. Be smart, do the same,” het die resensent Dominique Leone geskryf toe hy die album onlangs 9,2 sterre uit 10 gee in Pitchfork. Dit is “the most street record ever recorded by a jazz musician. And it still kicks,” het Thom Jurek onlangs in All Music Guide geskryf.
Ook ander musikante is vol lof vir Miles en On the Corner. “‘On the Corner’ is a huge influence on us. It’s really punk in its attitude. It’s so offensive, and pushes boundaries at the same time,” sê Jamie Morrison van die groep The Noisettes. Die katalogus komplimente gaan aan.
On the Corner het sy Polokwane oorleef.
En dit blyk Mbeki het sowaar ook sy On the Corner oorleef.
Hy is vroeër vandeesmaand as ’n held by die ANC se eeufeesviering in Bloemfontein ontvang, en Julius Malema, wat hom pre-Polokwane as ’n slang uitgekryt het, het soos ’n verliefde bakvissie om die oud-staatshoof rondgehang.
Mbeki moet terugkeer tot die politiek, die ANC mis en benodig sy intellek, het die geskorste leier van die jeugliga gekoer.
Malema is nie die enigste een wat dink die kort mannetjie met die pyp kan weer ’n belangrike rol in die land speel nie. “Thabo Mbeki is vir baie swart mense uit veral die opkomende swart middelklas en intelligentsia ’n simboliese rolmodel; die verpersoonliking van dit waarna hulle strewe,” het prof. Willie Esterhuyse verlede week in By geskryf. Is hy terug? Ja, as “leidende lig binne ’n groeiende nierassige korps openbare meningsvormende intellektuele wat kan bydra om ons swaar verworwe demokrasie te verdiep en te verbreed,” het die prof. geskryf.
Talle mense wat nou die rug op Zuma keer, het blykbaar vergeet van die haat wat hulle rondom Polokwane vir Mbeki gevoel het. Hulle het vergeet hulle het hom destyds twee sterre gegee. Nes met Miles, kry hy deesdae vyfster-resensies.
Paul Tingen, die skrywer van Miles Beyond: The Electric Explorations of Miles Davis, 1967-1991, skryf ’n paar jaar gelede inThe Guardian daar was heelwat baanbrekers wat aanvanklik die koue skouer gekry het oor van hul werk, maar later vereer is met die erkenning wat hulle tog toekom: Stravinsky vir sy Rite of Spring (1910), Ornette Coleman vir Free Jazz: A Collective Improvisation (1960) en die Sex Pistols vir Never Mind the Bollocks (1977).
En, natuurlik, Miles Davis vir On the Coner.
Jare later is die plek van dié album tog erken. Nes met Mbeki, sal sy ondersteuners sê.
