My buurman John
2010-02-06 09:02
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
’n Mens sou kon sê dat ek John Coetzee leer ken het meer as 200 jaar voordat ek hom ontmoet het.
In die jaar 1760 het die boer Jacobus Coetzee (oftewel Coetsé) van Piketberg van goewerneur Ryk Tulbagh verlof gekry om ’n reis in die binneland te onderneem.
Gebaseer op sy “Relaas” van daardie reis, het J.M. Coetzee in 1974 sy onvergeetlike Narrative of Jakobus Coetzee geskryf, waarmee hy hom onmiddellik gevestig het as een van die grootste skrywers wat Suid-Afrika nog opgelewer het.
Een jaar ná Jacobus Coetzee het een van my eie amper-voorvaders, Carel Frederik Brink, in opdrag van die einste Ryk Tulbagh ook ’n binnelandse reis deur min of meer dieselfde streek onderneem en sy eie Joernaal oor die tog geskryf.
Ek het lank die idee gekoester om op grond van dié geskrif my eie tong-in-die-kies-antwoord op John se roman aan te durf.
Mettertyd het ek egter wyslik die plan laat vaar. Een van die vele goeie redes hiervoor was dat geen skrywer dit kon waag om te “antwoord” op die digtheid en die humor van daardie Narrative nie.
(Om maar één episode uit te sonder: die oomblik waarop die reisiger Coetzee probeer om ’n bloedvint op sy eie agterstewe te probeer raaksien en dan agterkom dat lede van ’n Khoistam hom dophou – wat lei tot ’n gruwelike wraak wat een van die onvergeetlikste momente van ons koloniale geheue uitmaak.)
JJJ
In die 1970’s het John my op ’n keer ’n getuigskrif gevra toe hy wou aansoek doen om ’n professoraat in Engels aan die Universiteit van Kaapstad (UK); en net meer as ’n dekade later was dit toe weer hy wat mý aansoek om ’n pos in Engels aan dieselfde universiteit onderskryf het.
Voordat ek my intrek in die Arts Block geneem het, in dieselfde gang waar John se kantoor geleë was, was daar wel ’n geleentheid waar ons albei aan dieselfde simposium in die Kaap deelgeneem het, maar ek kan nie sê dat ons daar “ontmoet” het nie.
Want toe John se beurt kom om sy bydrae te maak, het hy gewoon opgestaan uit die gehoor waar hy gesit het, ’n klein bandopnemer op die kateder op die verhoog gaan neersit, ’n knoppie gedruk en weer tussen die ander mense in die lesingsaal sy plek gaan inneem om na sy vooraf opgeneemde lesing te luister.
Ons het dit destyds beskou as ’n gebaar van oordrewe mensskuheid. Eers later het ek besef dit was – soos al John se “gebare”, waaronder sy doktorale intreerede, wat minder as ’n bladsy beslaan het – veel meer as ’n gebaar: dit was onder meer ’n postmoderne demonstrasie van die afstand tussen spreker en gehoor, spreker en teks, teks en gehoor.
Teen die tyd dat ek sy buurman in die gang by die UK geword het, het ons darem onder aansporing van Koos Human begin saamwerk aan die samestelling van ’n bloemlesing uit die Engelse en Afrikaanse inheemse literatuur, A Land Apart; ’n onderneming wat op ’n manier ’n voorteken was van ’n kollegiale samewerking oor vele jare.
Ek het die voorreg gehad om ’n paar jaar lank saam met hom ’n MA-kursus oor die moderne literatuur aan te bied, ’n kursus wat begrippe soos realisme, rassisme, modernisme, postmodernisme, dekonstruksie en dies meer van nader bekyk het.
Vir my het sy groepbesprekings oor skrywers soos Balzac, Zola, Joyce, Beckett, Nabokov, Pynchon en vele ander ’n stimulasie gebring wat nog jare daarna opgevolg kon word.
Vir die studente was sy teenwoordigheid ’n vorm van elektriese skokterapie. Die uitwerking wat hy op hulle gehad het, was iets wat ek nog maar selde elders beleef het.
Hoeveel keer het ek dit nie gesien nie: hoe ’n student wat met ’n voordrag effentjies afgeskeep het, soos ’n Namakwalandse madeliefie met sononder sou toevou en verskrompel wanneer John sonder uitdrukking op sy gesig vra: “Do you really think you’ve put enough effort into this?”
Of gewoon: “I’m afraid that was not the best you could do.”
Maar ook die omgekeerde: Hoe so ’n student, in die onvergeetlike beskrywing van my ou vriend Daantjie Saayman, sou straal soos ’n oop gulp as John hom dit sou verwerdig om te sê: “Now that wasn’t bad at all,” of “I rather liked that.”
Sy renons in openbare optredes was natuurlik legendaries. Daarom was dit so ’n verrassing toe ek ná die verskyning van Disgrace van Geoff Mulligan, ons gemeenskaplike Londense uitgewer, hoor John het ingewillig om nie net ’n boekbekendstelling in ’n tak van Waterstones by te woon nie, maar om selfs vrae uit die gehoor te beantwoord.
Soos dit moes gebeur, was daar egter net één vraag: “Mr Coetzee, don’t you think it is reprehensible that we should be sitting here tonight discussing literature while there are bombs falling in Kosovo?”
Sonder om ’n oomblik te aarsel het John geantwoord: “Frankly, no.”
Daarna het niemand dit gewaag om nog iets te vra nie.
Die waardestelsel wat hy nog altyd kompromisloos onderskryf het, is die betekenis van die kunste, spesifiek van die geskrewe woord, in ’n wêreld wat al hoe meer bepaal word deur geweld, massawaardes en filistynse afgodery.
Dit is ook onderliggend aan ’n roman soos Waiting for the Barbarians: tot vandag toe, selfs ná The Life and Times of Michael K, of Foe, of Age of Iron, of The Master of Petersburg, of Disgrace, of Boyhood, of Summertime, een van sy onvergeetlikste werke. Hierdie boek sou uit sy eie reg al ’n Nobelprys waardig gewees het.
Daar is veels te veel lesers wat die mens en die skrywer J.M. Coetzee beskou as stroef, kil, emosieloos, humorloos, sonder warmte of geesdrif. Watter wanbeeld!
Wat daar in elke enkele boek van hom gloei, is juis ’n deernis met die arme, onsekere, weerlose mens, Shakespeare se poor naked wretches?.?.?. that bide the pelting of this pitiless storm.
Die Magistraat se meelye met die verdrukte Barbare, die vrou Sarah se intense begrip van die spraaklose Friday, die vaderliefde van die skrywer Dostojewski vir sy stiefseun Pavel, die opoffering van ’n andersins gewetenlose Professor Lurie vir die lydende diere in sy sorg?.?.?. dit alles behoort tot die mees ontroerende vergestaltings van menslike deernis in die letterkunde van ons tyd.
(En ook in sy openbare beeld het John vermurf. Deesdae vertoon omtrent elke Engelse boek van ’n nuwe skrywer ’n aanbeveling van hom op die omslag. Voor op die wa, eerder as terughoudend!)
En humorloos? Ná Summertime of Elizabeth Costello?
Ek onthou ook iets anders: ’n sessie met MA-studente in kreatiewe skryfwerk waar een jong dame ’n lang teks voorgelees het wat eintlik ’n soort feministiese wraakneming op macho manlike skrywers was: elke enkele beskrywing van ’n manskarakter was grafies gefokus op sy gespierde arms, die ronding van sy boude, die stywe knop in sy jeans, met verbeeldingsvlugte oor sy viriliteit, sy uithouvermoë, die grense van sy seksualiteit?.?.?. alles naderhand net te dik vir ’n daalder.
John Coetzee se enigste kommentaar, weer met sy klassieke uitdrukkinglose gesig, was dié vraag: “Does he ever find true love?”
Ek twyfel of die dame ooit haar kursus voltooi het.
Ek dink nie een student wat ooit by J.M. Coetzee klasgeloop het, sou ongedeerd of sonder ’n diepe indruk anderkant uitgekom het nie.
André P. Brink is ’n skrywer. Vroeër was hy akademikus, eers in Afrikaans, toe in Engels.