Om te vry buite jou lingua franca
2011-06-11 06:00
Dit is te danke aan kulturele imperialisme dat ons steeds lees van Jane Eyre, Oliver Twist en Othello. G’n wonder Swahili se Shakespeare sou stil word nie. Met wie praat die skrywers van ’n taal wat niemand móét leer nie? vra DANIE MARAIS.
Ek het lank gedink om Afrikaans te skryf en te praat is genoeg. Die taalstryd het altyd vir my so ’n onsmaaklike, nasionalistiese byklankie gehad; my dadelik aan die Soweto-opstande van 1976 en Jeugweerbaarheid herinner.
In beginsel wil ek ook steeds nie hê mense moet ooit weer gedwing word om Afrikaans te leer soos my grootouers op skool geboelie is om Engels te praat nie.
Maar sedert ek in 2009 Sindiwe Magona se huldeblyk aan A.G. Visser se “Amakeia” in Rapport Boeke gelees het, wonder ek met wie praat die digters van ’n taal wat niemand meer hoef te leer nie, en is die woord “post-koloniaal” vir my ’n groter werklikheid.
Ek het nou minder illusies oor die potensiële invloed van woorde wat sonder die klankversterking van politieke en ekonomiese bevoorregting in die blinde kolle van die geskiedenis gefluister word.
Magona, ’n digter en aktivis vir vroue- en kinderregte, se lees van “Amakeia” was in verskeie opsigte verrassend. In die eerste plek sou geen van die wit digters wat ek en Rachelle Greeff destyds gevra het om ’n gunsteling-gedig te bespreek, hierdie vers van Visser gekies het nie. Daarvoor was die taalgebruik te polities inkorrek, die paternalisme daarin te duidelik.
Maar die ou ballade en Magona se interpretasie daarvan het my ’n knop in die keel gegee wat nie wou wyk nie.
Sy begin só:
“‘Amakeia’ is ’n gedig uit my jeug. Ek was nog nie 20 jaar oud nie, besig met my onderwys- opleiding aan die St. Matthews Teacher Training College, toe ek daarmee kennis gemaak het. Maar ‘Amakeia’ bly my nou al byna ’n halfeeu by.
Miskien het die omgewing waarin die gedig afspeel – die wilde, onherbergsame Oos-Kaap – iets te make met die manier waarop dit tot my gespreek het. Dit was net so werklik – St. Matthews is in Keiskammahoek, reg ‘op die grens van Kafferland’.
Ek was omring deur die verlate landskap wat dié gedig oproep, en dit was vir my maklik om die gebeure te ‘sien’ wat A.G. Visser so helder en bytend vertel.”
Die kolonialistiese wêreldbeeld wat uit die gedig spreek, was nie vir Magona ’n onoorbrugbare hindernis nie.
Sy het die medemenslikheid gehoor in die verhaal wat steeds soveel oor die ingewikkelde, verstrengelde rasseverhoudinge in ons land sê. Vir haar is dit die gees van Amakeia wat Visser eindelik laat triomfeer: “Ons hoor nog haar lied in die wind deur die Amatola-klowe: ‘Tula – Tula – stil, my kind!’ ”
Die ironie is dat hierdie inter- kulturele gesprek oor dekades heen deur kulturele imperialisme en die gehate stelsel van Bantoe-onderwys moontlik gemaak is. Indien die jong onderwysstudente nie destyds almal Afrikaans moes leer nie, sou Magona waarskynlik nooit met die gedig in aanraking gekom het nie.
Skryf jy vandag ’n Afrikaanse ballade oor ’n voorstedelike Amakeia is die kanse bitter skraal dat ’n sensitiewe swart onderwys- student daarmee gekonfronteer word.
Een van die redes hoekom ek geen Sotho-, Xhosa- of Zoeloe-gedigte goed ken nie, is omdat ek nooit op skool gedwing is om een te bestudeer nie. Kennis van hierdie tale was nooit vir my nodig om kultureel te presteer of ekonomies te oorleef nie.
Visser se aanraking van Magona laat my teësinng dink aan Malan, Verwoerd en Vorster as beskermhere van die Afrikaanse letterkunde – daardie baster-weeskind van die Weste wat as desperate skietgebed in ’n koorsdroom ontstaan het in die tent van Afrikaner-nasionalisme, opgeslaan tussen Britse kolonialisme en die geregverdigde woede van uhuru op ’n geteisterde vasteland.
Dit herinner my dat die groot werke van die wêreldletterkunde nie net behoue gebly het omdat hulle so klassiek is nie. As hierdie tekste nie op die rug van aggressiewe, chauvinistiese imperialisme ander kleiner tale en kulture binnegedra is nie, sou hulle nooit so invloedryk gewees het nie. Daar was dalk ’n Swahili-Shakespeare waarvan niemand meer weet nie. Maar die skrywers van die Brits- koloniale Karibiese eilande, soos die Nobelpryswenner Derek Walcott, kon nie anders as om van Shakespeare te leer nie.
En só het Walcott verlief geraak op die letterkunde van die onderdrukker en eindelik dié se literêre kanon verryk. Uit hierdie verskeurdheid kom die slot van sy bekende gedig “A Far Cry From Africa”:
I who am poisoned with the blood of both,
Where shall I turn, divided to the vein?
I who have cursed
The drunken officer of British rule, how choose
Between this Africa and the English tongue I love?
Betray them both, or give back what they give?
How can I face such slaughter and be cool?
How can I turn from Africa and live?
Die pen is magtiger as die swaard, lui die ou gesegde. En daar steek soms ’n bietjie waarheid in, maar net wanneer Die Pen en Die Swaard dieselfde taal praat of ten minste verstaan. En een ding is seker: Die Swaard van Staat en Kapitaal luister net na die taal wat Die Geskiedenis hom met geweld en/of geld leer praat het.
As jy ’n appeltjie met die Empire te skil het, moet jy dus, soos Breyten sê, in Empirish protesteer. Maar as jy leer vrees, verlang, bid en vloek het in ’n taal wat Die Geskiedenis of Die Swaard nooit bemeester het nie, sing jou pen ’n walvislied, blaf hy soos ’n hondsdol brak in die hokke van die DBV.
Beteken dit ons moet almal Engels of Mandaryns begin skryf?
Nee wat. Vir baie digters en skrywers in ons inheemse tale is dit nie regtig ’n opsie nie. Iemand soos ek kan net so min Afrikaans die rug keer en leef as wat Walcott sy swart rug geheel en al op Afrika kon draai. ’n Mens vry nie in jou lingua franca nie, soos my nefie sê.
Ons sal aanhou skryf en soen en skaduboks in Afrikaans, Zoeloe, Sotho en Xhosa net soos ons sal aanhou asemhaal – vir ’n tyd lank. En sommige van ons stemme sal selfs deur antropoloë en ander welmenende kulturele wildbewaarders opgeneem word in die argiewe van eksotiese bloemlesings wat in verre biblioteke saam met die stories van die San en die Khoi stof sal vergader.
Die winterwind sal ook aanhou waai deur die Amatola-klowe, maar die naam van die berge sal mettertyd verander en eendag sal niemand meer Amakeia se spook kan hoor nie: “Tula – Tula – stil, my kind!”
AMAKEIA
In die skadu van die berge,
bos-beskut aan alle kant,
staan alleen die hartbeeshuisie
op die grens van Kafferland.
Saggies neurie Amakeia
op die wal van Kei-rivier,
tot hy slaap, die tere wiggie
van die blanke pionier:
“Stil maar, stil maar, stil Babani;
kyk hoe blink die awendster.
Niemand sal vir kindjie slaan nie –
stil maar, al is Mammie ver.”
Amakeia had belowe
toe haar nonna sterwend was,
om die hulpelose kindjie
tot hy groot was, op te pas.
Liefd’ryk sorg sy vir die wit kind,
tot vir hom die lewenslig
straal uit aia Amakeia’s
vrind’lik-troue swart gesig.
Onheilspellend sien sy tekens,
oorlog kom daar in die land:
Snel die inval, huis en hawe
uitgemoor en afgebrand.
Selfvergetend, doodveragtend,
met die wit kind op haar rug,
na die Amatola-berge
het sy ylings heen gevlug.
“Stil maar, stil maar, pikanienie;
oor die bergtop rys die maan.
Niemand sal vir ons hier sien nie;
môre sal ons huis toe gaan.”
Ag, dat oë van verspieders
ook haar skuilplaas moes ontdek!
“Spaar hom, hy’s so klein nog,” smeek sy met die hande uitgestrek.
Woedend tier die wilde bende:
“Sterf of gee die wit kind hier!”
“Oor my lewelose liggaam...”
antwoord Amakeia fier.
“My belofte aan my nonna –
beste wat daar ooit nog was –
waar hy gaan, moet Amakeia
saamgaan om hom op te pas.”
“Is jul lewend nie te skei nie,
bly dan in die dood vereen –
kort proses met haar, Maxosas,
laat die blink asgaaie reën!”
*
In die Amatola-klowe
sing nog net die winterwind
deur die riete in die maanskyn:
“Tula – Tula – stil, my kind!”
– A.G. Visser