Rock ’n resessie
2012-02-03 22:41
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
In Bethlehem in die Vrystaat is ’n rock-ster gebore, en sy liedjies het almal met ore, ’n hart en ’n halwe brein in die jaar 2012 van die absurditeit van ons aardse strewe na geld en mag oortuig.
Só sou ek graag my profiel van Brendon Shields wou begin, maar Brendon is (nog) nie ’n rock-ster nie, eerder ’n platsak sanger en liedjieskrywer, soos sy tong-in-die-kies-ballade “Rockstardom” te kenne gee:
Babe I checked the bank – we got
no money in it I’m not sure where
tomorrow’s dinner will come from
You and I and the children gonna
move in with my folks for a while
It’s been 2 years of recession – I’ve
got nothing left to lose
Then I look into your eyes but all I see is disappointment
This is not the life anyone would choose
I put on my muddy jeans and
wear my pre-recession shoes
Can I sing you this song about our
future? Maybe you little heart will
hurt a little less
And if I tell you that I’m gonna be
a rockstar
Babe this situation is a mess, and
rockstardom is the only option left
Te oordeel na die aweregse sjarme van sy debuutalbum, Truth and Recession, gaan Brendon eerder ’n folk-ster word, oftewel ’n kultusheld met ’n lojale gevolg. Maar wat jy nie sou raai van sy naam of ’n eerste luister na sy eersteling nie, is dat Brendon in Bethlehem gebore en getoë is en dat hy eintlik Afrikaans is, soos Herman Charles Bosman eintlik Afrikaans is. Soos baie Afrikaners het hy ’n stewige handdruk en kon hy net sowel ’n karakter in ’n Bruce Springsteen-ballade gewees het: ’n gewone ou met bomenslike uithouvermoë en groot drome wat kom van groot verlange, maar ook ’n man wat die stof van sy harde geboortegrond net nie van sy voete kan of wil afskud nie. ’n Mens sou selfs Shields se storie kon begin soos Springsteen se “The River”:
I come from down in the valley
Where, mister, when you’re young
They bring you up to do like your
daddy done.
Maar presies hoe Brendon op die punt gekom het waar hy die outobiografiese “Rockstardom” geskryf het, is ’n epiese tog wat hy my een Maandag met hope droë humor vertel het.
Brendon se ouers is albei van Britse afkoms – sy ma se mense kom uit Skotland, sy pa s’n uit die noordooste van Engeland. Maar albei het hier op die platteland grootgeword waar hulle op skool verafrikaans het.
Sy oupa aan sy ma se kant – wat saam met vier broers van Skotland gekom het net om in ’n Suid-Afrikaanse weeshuis groot te word – verpes die Britse Ryk so intens dat hy steeds weier om in die Rooitaal te bid.
Sy pa, ’n onderwyser en rugby-afrigter, se familie was almal spoorwegmense – in so ’n mate dat Brendon meen Jan van Tonder se Roepman is vir hom geskryf. Sy pa het hom só met die Afrikanersaak vereenselwig dat hy hom by die Broederbond wou aansluit, maar sy lidmaatskap is vanweë sy Engelse van geweier.
Brendon (32) het dus Christelik-Nasionaal grootgeword in ’n plattelandse wêreld wat hy nie bevraagteken het nie.
Op 12 het hy ’n tromstel persent gekry en is ’n weerbarstige saadjie geplant. Hy is net ná matriek, tot ontsteltenis van sy ma, op 4 Januarie 1997 weg Dublin toe met ’n bokskitaar – die tromme was te groot. Hy wou leer om ’n sanger en liedjieskrywer te wees en het nie gedink ’n graad is daarvoor nodig nie.
Sy romantiese ideaal van ’n lewe as straatmusikant is egter ná ’n paar maande kortgeknip toe sy broer in ’n fietsongeluk oorlede is en hy na Suid-Afrika moes terugkeer.
Hy was nietemin lank genoeg in die vreemde om oor sy herkoms te begin wonder. Oral is hy as Suid-Afrikaner met vyandigheid begroet en gebombardeer met politiese vrae wat hy nie kon beantwoord nie.
Op pad terug Ierland toe ná die begrafnis het die doeane-mense van Heathrow ’n nota in sy beursie verstaan as ’n bewys dat hy onwettig in Londen wil werk en hom gedeporteer.
Hy gaan studeer toe maar aan Wits in Johannesburg. Eers BMus, maar hy besef gou: “As jy musiek elke dag studeer, is dit nie meer lekker nie. Dan’s dit ’n werk.” Toe verander hy na ’n BA met sosiologie as hoofvak, waarin hy uiteindelik ’n honneurs verwerf het. “Die sosiologie-ding,” sê hy, “het my uiteindelik help verstaan: O hel, hoe ons grootgeword het, is toe nou nie normaal nie.”
Gewapen met sy nuwe sosiaal-politiese begrip van die Suid-Afrikaanse gemors, keer Brendon na Dublin terug om ’n paar jaar as oorgekwalifiseerde kelner en skottelgoedwasser te werk in die Irish Film Institute – ’n plek waar aspirant-akteurs en -musikante die vuil werk gedoen het. Dis hier waar hy Stefano Soffia ontmoet het – die intussen hoogaangeskrewe klankingenieur wat saam met sterre soos Snow Patrol gewerk het, maar dadelik ingewillig het om die klank op Shields se debuut te meng. Dis ook hier waar hy eendag met die skiet van Ronan Keating se video vir “I Love It When You Do” deur ’n nare regisseurtjie aangesê is om te buk en die melk van mnr. Keating se skoen te gaan afvee.
Op ’n ander dag het ’n vriend hom uitasem kom waarsku sy groot liefde en een van die redes hoekom hy na Ierland wou kom – Sinéad O’Connor – sit in die Italiaanse koffierestaurant langsaan. Toe laat Brendon nie op hom wag nie.
“Jy’t al so lank beplan in jou kop – ek meen, van my kamer in Bethlehem tot hierdie oomblik. So, jy’t die guts. Jy’s bereid om dit te gaan doen. Tot ek haar gesien het, want sy is ’n ongelooflike mooi mens ... Ek het niks gesê nie. Ek kan tot vandag nie onthou wat ek in my hand gehad het nie, maar ek weet ek het iets gehad wat ek vir haar wou gee. Maar sy’t net omgekyk, en op daai oomblik het ek agtergekom ek staan in ’n uniform. Ek lyk of ek daar werk. Sy’t gekyk na my asof sy wou sê: ‘Ja? Kan ek jou help?’ ”
Brendon het toe nie Sinéad se hart verower (of met haar gesels nie), maar hy het wel sy Ierse vrou, Hazel, daar ontmoet, terwyl sy deeltyds aan Colin Farrell se alma mater, die Gaiety School of Acting, gestudeer het. Hulle het intussen twee kinders, en ’n derde een is op pad.
Ongelukkig het hulle ook intussen saam ’n onderneming begin wat ná aanvanklike sukses gevou het.
Nadat Brendon een donker, koue winterdag in Dublin deur ’n bus druipnatgespat is, het hy summier besluit om huis toe te kom. Met spaargeld het hy en sy vrou in Suid-Afrika padboutoerusting gekoop en begin verhuur. Met hierdie inkomste het hulle huise gekoop, gerestoureer en weer verkoop. En hulle het goed geld gemaak totdat die resessie en nuwe kredietbeheerwet gekom het en vyf kopers se finansiering vir ’n luukse dakwoonstel in Durban deur die mat geval het. Toe verloor hulle min of meer alles behalwe die ketel en Brendon se familie en ondersteuningsnetwerk in Bethlehem. En dit bring ons by “Rockstardom”, die uitweg uit wanhoop en resessie.
Hoekom skryf iemand so Afrikaans soos Brendon in Engels?
“Ek kon net nog nooit Afrikaans skryf nie. Dave Thompson, die voormalige hoof van Sony Suid-Afrika en Idols-beoordelaar, het vir my gesê: ‘Skryf ’n paar liedjies in Afrikaans, want jy is in finansiële moeilikheid en met Afrikaans kan jy jou dalk daaruit skryf, want dit verkoop.’
“Toe’t ek gaan sit en ek het ses liedjies geskryf in Afrikaans, maar almal was so belaglik soos al die ander goed op die radio. Ek dink die taal leen homself tot twee uiterstes – óf somber Koos Doep-tipe goed óf braailiedjies.
“Maar dis ook definitief ’n generasie-ding. My ouers het ons huishulp se kind aangeneem toe sy oorlede is 11?jaar terug. En hy het heeltemal Afrikaans grootgeword en hy love hierdie goed. Ek kan dit nie verstaan nie, maar juis daarom kan ek dit nie kritiseer nie.”
Die resessie was egter ook ’n redding, sê Brendon. ’n Nuwe begin wat hom en sy vrou nader aan mekaar gebring het en hom die moed en tyd gegee het om ’n ou ideaal uiteindelik te verwesenlik – die musiekdroom waarmee hy 13?jaar gelede by Deon Maas se kantoor by Gallo ingeloop het. Maas het geluister en gesê: “Jy’t baie talent, maar jou stem is tien jaar te jonk vir die liedjies wat jy wil sing.”
Maas was reg, sê hy, en ek stem saam. Truth and Recession het die beleë gesag van ’n ou siel, maar Brendon en sy stem het nou die nodige myle op.